Aftreebeplanning – waar moet 'n mens begin?
Monday | 06 April | 2020Daar is deur die loop van die laaste paar weke geweldige skuiwe op wêreld markte en die Suid-Afrikaanse aandele beurs. Hoogte punte wat in die media bespreek word sluit in die effek van Corona 19, die petrol prys oorlog en natuurlik die nasionale ‘’Lockdown’’.
Al die onsekerheid lei ons na die vraag, wat moet ons nou doen?
Tyd is een van ons kosbaarste bates; elke oomblik wat verbygaan is 'n periode wat ons nie weer sal terugkry nie. Tyd is veral belangrik in die beleggingswêreld, want hoe langer 'n belegging in die mark belê is, hoe meer geleentheid gee ons die fondse om rente te verdien.
Albert Einstein het die stelling gemaak dat saamgestelde rente die agste wonder van die wêreld is. Hy wat dit verstaan, sal sukses behaal, en hy wat dit nie verstaan nie, sal daarvoor betaal.
So, waar moet ek begin?
Die eerste stap sal wees om 'n omvattende begroting op te stel. Sodra jy weet hoe jou inkomste en uitgawes bestuur word, kan jy begin beplan wat op die pad vorentoe moet gebeur. Die belangrikste reël van jou begroting is om minder te bestee as wat jy inkry. President Eisenhower het gesê 'n plan is niks, maar beplanning is alles.
Stap 2: Sodra ons weet watter bedrag beskikbaar is om te spaar, moet ons die regte voertuig vir ons beplanning identifiseer. Elke beleggingsvoertuig tot ons beskikking het bepaalde reëls en regulasies.
'n Tipiese voorbeeld van 'n pensioenvoertuig sal 'n aftree-annuïteit en werkgewer-pensioenskema wees. Die bydraes na hierdie voertuie hou ook 'n belastingvoordeel in. Die Belastingwet bepaal dat 'n mens 27,5% van jou belasbare inkomste, tot 'n limiet van R350 000 per belastingjaar, in hierdie pensioenvoertuie kan belê om 'n belastingvoordeel te verdien. Dit beteken kortliks dat bydraes na dié pensioenprodukte ons belasbare inkomste verminder.
Stap 3 behels dat ons die relevante risiko’s moet identifiseer wat gepaard gaan met die beleggingsvoertuig wat ons gaan gebruik. Om terug te keer na die aftree-annuïteit as voorbeeld, kan 'n mens vra wat sal gebeur indien jy permanent ongeskik verklaar word en nie meer bydraes kan maak na dié beleggingsvoertuig nie?
Om die risiko te bestuur sal ons na lewensversekering kan kyk wat gefokus sal wees op inkomstebeskerming. Deur goeie beplanning kan inkomstebeskerming gebruik word om bydraes na die beleggingsvoertuig te lewer. Dit is met holistiese beplanning dat 'n finansiële adviseur van groot waarde kan wees.
Die laaste stap sal behels dat ons tot aksie oorgaan en die plan uitrol. Op dié punt weet ons wat ons kan spaar, waar ons dit gaan spaar en die relevante risiko’s word ondersoek. Natuurlik verander omstandighede en beplanning moet gereeld hersien moet word sodat dit relevant bly vir ons behoeftes.
Solidariteit Finansiële Dienste (FSP 15556) bied onafhanklike advies oor behoeftes soos aftreebeplanning, inkomstebeskerming en boedelbeplanning.
Vir meer inligting, stuur 'n e-pos na advies@sfdienste.co.za
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: