Akademia het groot planne vir 2021
Tuesday | 02 June | 2020Deur Rochelle van der Berg
Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia staan sedert 2012 bekend vir nauurse studies wat aangebied word deur die gebruik van gevorderde tegnologie. Hierdie model is veral aantreklik vir werkendes wat nauurs verder wil studeer en hulle loopbaanmoontlikhede só wil verbreed. Danksy die getroue bydraes van ons Solidariteit Boufonds-lede word 'n bykomende voltydse model vir skoolverlaters in 2021 geïmplimenteer. Studente sal bedags op die Centurion-kampus kan klas draf, waar hulle op 'n tradisionele wyse onderrig sal word deur 'n dosent wat fisies in die klas teenwoordig is. Hierdie model is die eerste van sy soort vir Akademia met 'n ingerigte kafeteria, kliëntedienssentrum, 'n biblioteek, asook verskeie studente-ondersteuningsinisiatiewe. Studente in hierdie model geniet die keuse van 'n selfs meer omvattende studentelewe.
Volgende jaar streef die kampus om nege grade in onderskeidelik Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Opvoedkunde en Regsgeleerdheid op die Centurion-kampus aan te bied. “Die gemeenskap se behoefte aan 'n Afrikaanse hoëronderwysinstelling waar studente ook voltyds op 'n vriendelike en veilige kampus kan studeer het die afgelope tyd drasties toegeneem,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. “Die fondasie van die bestaande nauurse onderrigmodel is goed vasgelê en daarom is Akademia nou gereed om hierdie behoefte aan te spreek.”
Die uitbreiding by Akademia is 'n besondere mylpaal vir die instelling en skep hoop vir Afrikaanssprekendes wat in 'n gehalte-omgewing onderrig in hulle moedertaal wil ontvang. “Die eerste studente wat vanaf volgende jaar op Akademia se Centurion-kampus aansluit gaan baanbrekers wees in die vestiging van kampustradisies wat vir dekades hierna nog nagevolg sal word,” reken Visser. Ongeag die model wat die student kies, voltyds of nauurs, is Akademia daartoe verbind om op 'n uitnemende wyse aan die behoefte van professionele opleiding te voorsien. Die instelling strewe ook voluit na die klassieke ideaal van opvoeding soos wat dit oor eeue heen in die tradisionele universiteitswese gemanifesteer het.
“Met die ontwikkeling van die tussentydse kampus vir voltydse studente gee Akademia 'n reusetree om haar eie direkte benadering uit te bou en te versterk – dit alles sonder om die bestaande tegnologiese model af te water,” sê Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia .“Inteendeel, Akademia voorsien dat beide benaderinge mekaar in die toekoms sal aanvul en versterk.”
Die Boufonds is deur Solidariteit tot stand gebring omdat die vakbond glo dat kennis die beste manier is om sy lede in die nuwe, onsekere ekonomie te beskerm. Die Boufonds het juis ten doel om na die behoefte van sy mense en die toekoms om te sien.
Klik hier om jou bydrae te lewer: https://www.boufonds.solidariteit.co.za/
Akademia hou op 'n 29 Augustus 'n aanlyn kampusopedag om aan voornemende studente meer inligting oor hulle studiemoontlikhede te verskaf en om op 'n virtuele wyse te demonstreer hoe die tussentydse kampus ingerig word. Vir meer inligting oor Akademia besoek www.akademia.ac.za, e-pos navrae@akademia.ac.za of stuur 'n WhatsApp na 0861 222 888.
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: