Begroting – vier stappe vir sukses
Monday | 06 April | 2020Daar is deur die loop van die laaste paar weke geweldige skuiwe op wêreld markte en die Suid-Afrikaanse aandele beurs. Hoogte punte wat in die media bespreek word sluit in die effek van Corona 19, die petrol prys oorlog en natuurlik die nasionale ‘’Lockdown’’.
Al die onsekerheid lei ons na die vraag, wat moet ons nou doen?
Persoonlike finansiële beplanning in dié onsekere tye is van kardinale belang. Die vraag wat ons by Solidariteit Finansiële Dienste die meeste ontvang, is waar op aarde moet 'n mens begin?
Die antwoord is: by jou begroting. Dit is die grondslag van enige finansiële beplanning, maar wanneer laas het iemand vir jou gesê hoe om 'n begroting op te stel?
Die belangrikste reël vir jou begroting is om minder te bestee as wat jy inkry. President Eisenhower het gesê dat 'n plan niks is nie, maar dat beplanning alles is. Dié woorde kan ons deurtrek na hoe ons ons eie begroting gaan opstel en implementeer ten einde doeltreffende finansiële beplanning te doen wat volhoubaar gaan wees.
Ons eerste stap is om vas te stel wat ons vaste uitgawes elke maand gaan wees. Nou, vaste uitgawes is uitgawes wat ons elke maand gaan hê en elke maand is die bedrae daarvan presies dieselfde. Dit sal natuurlik uitgawes wees soos ons huur, motorversekering, inkomstebelasting en spaargeld (ja, spaargeld moet 'n vaste uitgawe in jou begroting wees).
In die tweede stap sal ons moet vasstel wat die veranderlike uitgawes in ons begroting is. Veranderlike uitgawes wissel van maand tot maand. Soms sal die uitgawes baie hoog wees, soos ons onthaalkoste en besteding aan sosiale geleenthede. Maar later besef 'n mens dat jy beter moet beplan om die maand uit te kom met jou geld.
Die derde stap is om jou begroting aan die begin van die maand op te trek. Sodra jou eerste salaris in die bank geland het, moet jou begrotingtemplaat ingevul word. Dit is van kardinale belang en jy moet dit so eerlik en akkuraat as moontlik voltooi.
Tot op dié punt is die meeste van ons gemaklik om te dink dat jy voorbereid is vir die maand. Jou begroting is opgestel, en dan word die begrotingtemplaat net daar gelaat tot volgende maand. Dit is 'n plan, maar nie goeie beplanning nie. Ons begroting moet ook aan die einde van die maand opgetrek word.
Die laaste stap is die moeilikste deel van ons begroting. Dit is waar ons moet gaan vergelyk wat ons begroot het om vir die maand te bestee, en wat ons werklik bestee het. Ek stel altyd voor dat 'n mens jou bankstaat vir die maand moet trek en dit langs jou begroting neersit. Op die punt sal jy kan sien of jy jouself bluf oor hoeveel jy bestee of nie.
Dié metode van begroting is 'n doeltreffende manier om jou eie bestedingspatroon te identifiseer. Aanvanklik kan die metode op 'n weeklikse basis gedoen word tot jy gemaklik is met wat jou werklike uitgawes elke week is. Daarna kan dit op 'n maandelikse basis gedoen word.
Binne die bestedingspatroon kom ons ook gou agter waaraan ons meer aandag moet gee. Moet ek byvoorbeeld my skuld beter bestuur, of sal ek my besteding aan sosiale aktiwiteite moet afbring? Deur beheer te neem van ons uitgawes gaan ons in staat wees om beweegruimte in die begroting te skep, en dan kan ons met finansiële beplanning begin. Dus sal ons meer fondse beskikbaar hê om te begin geld spaar vir behoeftes soos aftrede.
Almal van ons wil graag sukses behaal, maar om sukses te kan behaal moet ons 'n doelgerigte padkaart hê. Deel van die padkaart is om jou finansies reg te bestuur, en 'n effektiewe begroting is ons wegspringpunt om finansieel onafhanklik te wees.
Solidariteit Finansiële Dienste (FSP 15556) bied onafhanklike advies oor behoeftes soos aftreebeplanning, inkomstebeskerming en boedelbeplanning. Vir meer inligting stuur 'n e-pos na advies@sfdienste.co.za
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: