Covid-19-entstof: Besluite is makliker met betroubare inligting
Monday | 12 July | 2021Deur Reon Janse van Rensburg
Die Suid-Afrikaanse regering het gedurende die inperking sy mag misbruik met irrasionele en drakoniese regulasies wat vryhede wegkalwe en deur die arbitrêre afdwinging van hierdie regulasies. Benewens die outoritêre houding wat die regering aangeneem het met ’n bevelsraad wat besluite “met onmiddellike effek” afdwing, het verskeie ANC-amptenare hulle skuldig gemaak aan plundering van noodfondse.
Die noodwendige en verstaanbare impak van die Suid-Afrikaanse regering se optrede is dat mense die regering wantrou, spesifiek wanneer dit gaan oor die hantering van Covid-19. Hierdie wantroue, tesame met uiterste onbevoegdheid van ministers en die arrogansie van die bevelsraad, het ’n ryp teelaarde geskep vir entstof-skeptisisme.
Huiwering rondom entstowwe is verstaanbaar gegewe die aard van die Suid-Afrikaanse regering se ondeursigtige optrede tydens die inperking.
Tog dring die regering steeds daarop aan om alleen in beheer van die entstofprogram te wees. In opponerende hofstukke het die Departement van Gesondheid geantwoord dat hy nie ’n monopolie op entstowwe het nie en dat die privaat sektor entstowwe kan aanskaf as hulle dit kan regkry. Daarna het SAHPRA voortgegaan en die Johnson & Johnson-entstof goedgekeur vir gebruik, met die voorwaarde dat slegs die regering hierdie entstof mag aankoop.
Hierdie volharding in sentralisering van die entstofprogram gee direk aanleiding daartoe dat Suid-Afrika se entstofprogram myle agter die res van die wêreld en selfs agter die gemiddeld vir Afrika is.
Die regering se kortsigtigheid rondom entstofbeplanning blyk duidelik uit die feit dat daar in 2020 feitlik geen vergaderings was om entstowwe te bekom nie, terwyl die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State se regerings al in Augustus 2020 genoeg entstowwe vasgemaak het vir hulle hele bevolking.
In kontras hiermee het die Suid-Afrikaanse regering in Januarie 2021 haastig planne probeer aanmekaarsit om ’n entstofprogram aan die gang te kry. Aanvanklike teikens was om teen einde Januarie 2021 die eerste entstowwe te ontvang en dan entstowwe te verskaf teen ’n tempo waarvolgens 67% van die bevolking teen die einde van 2021 ingeënt sou wees. Deel van hierdie teiken was om 5 miljoen mense bo 60 ingeënt te hê teen einde Junie 2021.
Hierdie teiken is totaal gemis en die kanse om die teiken van 67% van die bevolking te tref, blyk bloot ’n koorsdroom te wees.
As antwoord op die Covid-19-pandemie het verskeie farmaseutiese maatskappye in 2020 begin met die ontwikkeling van entstowwe teen Covid-19. Minstens 23 maatskappye het in Mei 2020 weggespring met die ontwikkeling van ’n Covid-19-entstof (Lee, 2020), en hiervan is uiteindelik is slegs drie entstowwe goedgekeur vir gebruik in die VSA – Pfizer, Moderna en Johnson & Johnson (Center for Disease Control and Prevention, 2021). Wêreldwyd word daar tans 18 verskillende entstowwe gebruik, waarvan slegs sewe vervaardigers hulle fase 3 kliniese toetse se resultate gepubliseer het (Shrotri, 2021).
Daar is tans (28 Junie 2021) reeds meer as 2,9 miljard entstofdosisse wêreldwyd toegedien, met meer as 800 miljoen mense volledig ingeënt teen Covid-19.
Uit die data wat Solidariteit vanaf betroubare bronne versamel het is die gevolgtrekking dat entstowwe veilig en doeltreffend is vir diegene wat besluit om dit te gebruik. Elkeen moet egter volgens sy of haar eie unieke omstandighede ’n verantwoordelike besluit neem. Entstowwe skakel nie die gebruik van belangrike medikasie, insluitende ivermektien, in die behandeling van Covid-19 uit nie. Dit skakel ook nie voortgesette goeie beginsels ten opsigte van higiëne, fisiese afstande en die handhawing van goeie eetgewoontes en ander maniere om jou gesondheid goed in stand te hou, uit nie. Saam moet en sal ons die pandemie te bowe kom. Te veel van ons mense het reeds siek geraak. Te veel is dood. Te veel het hulle inkomste, bates en hoop verloor. Ons moet dit saam beveg en verby die pandemie tree.
’n Kernbeginsel wat egter nie ondermyn mag word nie, is vryheid van keuse. Elkeen het die reg op liggaamlike integriteit, en Solidariteit sal dit beskerm. Geen regering en geen werkgewer mag iemand verplig om ingeënt te word nie.
Geen land met ’n suksesvolle inentingsprogram het mense in of buite die werkplek gedwing om die entstof te ontvang nie. Dwang skep weerstand en verminder die sukses van 'n entstofprogram.
Solidariteit sal enige werkgewer wat sy werknemers onregmatig dwing om die entstof te ontvang, voor die hof daag. Solidariteit sal beslis ook nie sy lede subtiel of openlike dwing om ’n keuse te maak nie. Ons vertrou ons lede om verantwoordelike keuses, volgens hulle eie unieke omstandighede, te maak.
Om ’n keuse te kan maak, is goeie inligting nodig. Solidariteit het ’n navorsingsinstituut (SNI) met die beste navorsers wat oorspronklike navorsing kan doen. Hierdie verslag is die produk van omvattende navorsing deur die SNI-span. Die volgende aanbevelings word saam met die verslag oor hoe Suid-Afrika aan die anderkant van die Covid-19-pandemie gaan uitkom, bekendgemaak:
- Privatiseer entstowwe
Die Suid-Afrikaanse regering se entstofprogram is ’n volslae mislukking. Indien gewag word vir die regering om entstowwe aan die breër Suid-Afrikaanse publiek beskikbaar te stel, gaan nog ’n vierde en vyfde golf van Covid-19 Suid-Afrika tref voordat enige beduidende aantal mense daarteen ingeënt gaan wees.Dit is dus duidelik dat die privaat sektor hier as gevolg van ’n mislukkende regering self ’n plan sal moet maak om entstowwe in die hande en in arms te kry. Hier is dit jammer dat die Suid-Afrikaanse regering daarop aandring om teen die privaat sektor te werk eerder as om entstowwe so vinnig as moontlik deur enige en alle rolspelers te probeer in die hande kry.Solidariteit moet alles in sy vermoë doen om die privaat sektor in staat te stel om entstowwe self te bekom en te versprei, spesifiek om te verseker dat die staat nie ’n monopolie op entstowwe handhaaf nie. - Verpligte inenting
Dit is duidelik uit die lande waar inentingsprogramme geslaag het, dat verpligting nie nodig is vir sukses nie. Inteendeel, daar is ’n goeie kans dat verpligting weerstand gaan verhoog. Indien Suid-Afrika wil slaag met ’n inentingsprogram, is dit belangriker om vertroue by die publiek te kweek ten einde vrywillige deelname te kry.Solidariteit sal verpligting van inenting teenstaan, veral in die werkplek, ten einde seker te maak dat vryheid van keuse en liggaamlike integriteit nie aangetas word nie. - Covid-19-entstowwe
Oorweldigende data toon dat entstowwe vir Covid-19 veilig en doeltreffend is. Die newe-effekte vergelyk goed met ander entstowwe vir ander siektes. Die entstowwe waarborg nie dat jy nie Covid-19 gaan kry of selfs nie daarvan gaan sterf nie, maar dit verlaag jou kanse dramaties om die virus op te doen en verminder sterftes selfs nog meer.Die doeltreffendheid word getoon deur verskeie lande se entstofprogramme wat wesenlike suksesse bereik gemeet aan werklike uitkomste soos hospitaliserings en sterftes.
Die veiligheid word getoon deur ’n weglaatbare hoeveelheid negatiewe insidente spesifiek in die VSA. Dit is weereens slegs enkele gevalle uit byna 330 miljoen dosisse entstof wat reeds in die VSA toegedien is. Addisioneel is die afwesigheid van wesenlike negatiewe insidente wêreldwyd opmerklik, gegewe die skaal van die entstoftoediening (2,9 miljard), en selfs besonder skaars newe-effekte sou nou al beduidende tekens getoon het.
Op grond van bestaande data beskou Solidariteit die Pfizer-, Moderna-, Johnson & Johnson- en AstraZeneca-entstof as veilig en doeltreffend vir lede en die breër publiek wat besluit om hulle te laat inent teen Covid-19. Elke persoon moet sy of haar eie persoonlike mediese geskiedenis in ag neem alvorens hulle enige medikasie neem.
Besoek gerus die volgende skakel om die volledige verslag, wat betroubare en noemenswaardige inligting oor die Covid-19-entstowwe bevat, af te laai: Klik hier.
Die verslag is nie daarop gemik om enige persoon te oorreed nie, maar dien as ’n poging om Solidariteit-lede asook die Suid-Afrikaanse publiek in te lig sodat hulle self ’n ingeligte besluit oor die Covid-19-entstowwe kan neem.
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: Pato González | Unsplash