Covid-19-entstowwe: Oor jou bekommernisse
Monday | 12 July | 2021Deur Reon Janse van Rensburg
Vanweë die snelle ontwikkeling van Covid-19-entstowwe, asook die nuwe tegnologie wat daarvoor ingespan word, is daar verstaanbare bekommernisse oor die veiligheid daarvan.
Solidariteit het aan sy navorsers opdrag gegee om deeglike navorsing oor entstowwe te doen. 'n Omvattende ondersoek is ingestel na die ontwikkeling, verspreiding, veiligheid, risiko’s en ander faktore wat inentings raak. Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het 'n deeglike verslag oor die Covid-19-entstowwe saamgestel, klik hier om die verslag te lees.
Hierdie navorsing dien om Solidariteit-lede en die publiek in te lig en met genoegsame kennis te bemagtig om self 'n ingeligte besluit te kan neem.
Alhoewel die data oorweldigend toon dat die entstowwe veilig is, is dit tog belangrik om ook te kyk na spesifieke bekommernisse wat geopper is.
Die SNI het na die volgende algemene vrae rondom die Covid-19-entstowwe gaan kyk en met indiepte- oorspronklike navorsing die vrae op 'n verstaanbare wyse beantwoord.
Is die entstowwe te vinnig ontwikkel en daarom onveilig?
Die Covid-19-entstowwe is teen 'n rekordspoed ontwikkel, maar dit behoort geen verrassing te wees nie. Alhoewel Covid-19 nuut is, is koronavirusse nie 'n nuwe verskynsel nie en bestudeer wetenskaplikes hulle al vir langer as 50 jaar. Met die uitbreek van Covid-19 spesifiek is daar gebou op die massa kennis rondom koronavirusse ten einde 'n entstof so vinnig as moontlik te kan ontwikkel. Hierdie agtergrondkennis het wetenskaplikes in China in staat gestel om die Covid-19-virus se RNS al in Januarie 2020 volledig te ontrafel, en entstofontwikkeling kon gevolglik feitlik onmiddellik begin.
Normaalweg is entstofontwikkeling 'n besonder duur proses, maar in hierdie geval was daar vanweë die groot aanvraag geen tekort aan hulpbronne nie. Die Amerikaanse regering van pres. Trump het “Operation Warp Speed” van stapel gestuur wat genoegsame befondsing vir entstofontwikkeling beskikbaar gestel het.
Dit is nie die eerste geval van 'n entstof wat binne 'n jaar vir 'n pandemie ontwikkel is nie. Met 2009 se varkgrieppandemie is 'n entstof ook binne 'n jaar ontwikkel. Ná 'n vergadering in Mei 2009 om 'n entstof te ontwikkel, is die eerste toetse op 'n entstof al in Julie 2009 begin.
In die lig van hierdie vlak van hulpbronne en aanvraag, sowel as die bestaande kennis oor koronavirusse en die spesifieke kennis oor Covid-19, is dit nie vreemd dat 'n entstof binne 'n paar maande vervaardig is nie. Dit het farmaseutiese maatskappye in staat gestel om reeds in Mei 2020 met kliniese toetse te begin, wat uiteindelik beteken dat die meeste entstofkandidate se fase 3-toetsing teen Desember 2020 afgehandel was en die suksesvolle kandidate vir menslike gebruik goedgekeur kon word.
Die entstof vervoer té moeilik en daar is geen waarborg dat dit nog doeltreffend gaan wees teen die tyd wat dit by my uitkom nie
Hierdie vrees is spesifiek van toepassing in Suid-Afrika, waar die regering daarop aandring om entstofaankope en -verspreiding te sentraliseer. Dit is 'n geldige vrees, maar 'n mens moet in ag neem dat daar verskillende tipes entstowwe is wat verskillend vervoer moet word.
Die moeilikste om te vervoer is die Pfizer-entstof, wat op die lang termyn teen -70 oC gestoor moet word. Wat belangrik is, is dat die Pfizer-entstof volgens die United States Food and Drug Administration (FDA) tot 'n maand teen normale yskastemperatuur gestoor kan word. Dit besweer die meeste vrese rondom die koueketting wat gebreek kan word. Yskastemperatuur-kouekettings is algemeen in Suid-Afrika en is doeltreffend.
Die ander entstowwe (Moderna, Johnson & Johnson) kan met normale kouekettingtegnologie vervoer word en behoort nie uitsonderlike logistieke uitdagings te bied nie.
Is die langtermyneffekte van die entstof ernstig?
Tans is die werklikheid dat die langtermyneffekte van Covid-19-entstowwe bloot nie bekend is nie, want daar het nog nie genoeg tyd verloop om dit te kan bepaal nie. Dit is die een gebied waar daar onsekerheid heers, bloot weens die feit dat geen kliniese toets vorentoe kan antisipeer nie.
Gelukkig is entstowwe nie 'n nuwe verskynsel nie en kan lesse geleer word uit die langtermynuitwerking van ander entstowwe. Die geskiedenis van entstowwe toon dat die meeste newe-effekte binne twee maande intree nadat 'n persoon die entstof ontvang het. Hierdie geskiedenis toon dat langtermyneffekte oor die algemeen ’n besonder skaars verskynsel vir entstowwe is, bloot op grond van die metode waarop entstowwe werk. Die meeste van die materiaal wat gebruik word om 'n immuunreaksie te stimuleer, word binne 'n paar dae deur jou liggaam uitgeskei.
Die tegnologie wat in die entstofvervaardiging gebruik word, is ook al jare in gebruik met minimale langtermyneffekte. mRNA word al sedert 1989 gebruik en bestudeer, en die eerste eksperimente op mRNA-tegnologie in entstowwe is al in 1994 onderneem.
Ander tegnologieë soos die virale vektor van die Johnson & Johnson-entstof is al sedert 1974 in gebruik. Die adenovirus-weergawe word spesifiek gebruik danksy die veiligheid daarvan in kliniese studies van ander entstowwe.
Die data wys dat die aansprake dat groot getalle mens as gevolg van entstof doodgaan, eenvoudig nie waar is nie. Die risiko vir bloedklonte en hartverwante newe-effekte is klein. Die meeste newe-effekte wat aangemeld is, is lig en stem ooreen met dié van enige ander entstof.
Die data toon dat daar een risiko is wat baie groter is as dié van entstowwe, en dit is om nie ingeënt te word nie. Sou jy besluit om nie ingeënt te word nie, moet jy die risiko’s wat daarmee gepaardgaan ernstig in ag neem. Dit sluit in gevolge vir jou eie gesondheid en die kanse om Covid-19 op te doen, maar ook die risiko om Covid-19 aan ander mense oor te dra. Persone wat nie ingeënt is nie, kan die virus bly versprei.
Kan 'n mens Covid-19 kry nadat jy ingeënt is?
Daar is geen virale Covid-19-proteïen in die entstof nie. Dit beteken dat daar geen manier is waarop die entstof Covid-19 aan jou kan gee nie, want die virus self is nie in die entstof nie. Al wat die entstof bevat, is 'n aangepaste stekelproteïen.
Dit is belangrik om eers te verduidelik wat presies die stekelproteïen is. Die Covid-19-sel bevat verskeie klein proteïene rondom hom wat die virale sel help om aan jou selle te koppel. Hierdie proteïene gee die Covid-19-sel die kenmerkende vorm wat as’t ware 'n kroon “korona” rondom hom skep. Vanweë die unieke aard daarvan is die stekelproteïen as die ideale teiken geïdentifiseer om 'n entstof op te baseer aangesien alle mutasies van Covid-19 'n stekelproteïen moet bevat.
Vir die virus om te versprei moet die virale selle kan vermeerder – virale selle moet dus die stekelproteïen gebruik om aan jou selle te koppel en dan moet die virale sel self vermeerder. Die stekelproteïen is nie 'n virus op sigself nie en kan nie op sy eie vermeerder nie. Dit is dus nie moontlik om Covid-19 van die entstof te kry nie omdat daar geen Covid-19-selle in die entstof is nie.
Is die stekelproteïen van Covid-19 op sy eie gevaarlik?
Daar is nie 'n virale Covid-19-stekelproteïen in die entstowwe nie.
Alhoewel die virale stekelproteïen op sy eie wel skade kan aanrig, is dit belangrik om daarop te let dat entstowwe 'n aangepaste, onskadelike stekelproteïen vervaardig wat ten doel het om 'n immuunreaksie te ontketen sodat jou immuunstelsel dan beter reageer op die werklike virus wat opdaag.
Kan die stekelproteïen van die entstof versprei deur jou hele liggaam en skade aanrig?
Alhoewel studies wat op rotte gedoen is, toon dat die stekelproteïen nie spesifiek by die inspuitingsarea bly nie, toon dieselfde studies ook dat die oorweldigende meerderheid van die entstof naby die inspuitingsarea bly en dan – soos verwag – na die lewer verskuif word. Die grootste hoeveelheid wat buite hierdie plekke aangetref word, is 1,03% van die totale entstofdosis wat in die milt aangetref word. Die verslag toon die volledige bevinding van die studie.
Die hoeveelhede stekelproteïen wat 'n entstof vervaardig, is 100 000 keer minder as wat nodig is om skade aan te rig. Gevolglik is die verspreiding van hoogstens 1,03% buite die inentingsarea nie 'n wesenlike bedreiging nie.
Het die entstof 'n negatiewe uitwerking op borsvoeding?
In die Vaccine Adverse Events Reporting System (VAERS-stelsel) van Amerika is slegs 271 voorvalle aangeteken wat van toepassing is op moeders wat borsvoed. Die meeste van hierdie voorvalle is waar 'n borsvoedende ma een van die normale newe-effekte van die entstof ontwikkel, soos hoofpyn of spierpyn. Daar is slegs 23 voorvalle aangemeld waar spesifiek na borsmelk verwys word. Hierdie voorvalle beskryf wel simptome soos 'n baba wat 'n groter eetlus het of wat 'n loopneus het.
Daar is egter té min data beskikbaar om tot 'n slotsom te kom en Solidariteit raai moeders wat borsvoed aan om hul dokter in die verband te raadpleeg.
Moet 'n mens nie ivermektien eerder as die entstof gebruik nie?
Onlangse navorsing het getoon dat ivermektien waarskynlik doeltreffend is in die behandeling van Covid-19. In die lig van die moontlike rol wat ivermektien in die behandeling van Covid-19 kan speel, tesame met die veiligheid van ivermektien in goedgekeurde dosisse, is dit ondenkbaar dat dit nie lankal as moontlike behandeling vir Covid-19 in Suid-Afrika ingesluit is nie.
Ivermektien is nou goedgekeur vir menslike gebruik in Suid-Afrika en kan deur enige dokter voorgeskryf word. Soos met alle medisyne is dit baie belangrik om by die veilige dosis te hou ten einde ongewenste newe-effekte te voorkom.
Ivermektien en 'n Covid-19-entstof werk nie teen mekaar nie en fokus op verskillende kante van die behandelingspektrum. Covid-19-entstof is per definisie voorkomend van aard, terwyl ivermektien waarskynlik 'n doeltreffende behandeling vir Covid-19 is, veral in die vroeë fases van die siekte.
Gevolglik is daar geen spanning tussen ivermektien en Covid-19-entstowwe nie en kan die twee saam teen Covid-19 aangewend word.
Ivermektien en die Covid-19-entstowwe moet egter nie teenoor mekaar gestel word nie. Daar word ook sterk aangeraai om jou dokter in die verband toe te spreek en om nie die medikasie op onwettige wyses aan te koop nie. Dit is belangrik dat jou dokter dit aan jou voorskryf en jy nie van die voorgeskrewe dosering afwyk nie.
Gaan daar meer mense van die entstof dood as van Covid-19?
Daar word uitsonderlik gedetailleerd oor entstowwe en moontlike newe-effekte verslag gedoen en daar word nie buitengewone sterftes waargeneem nie. Inteendeel, entstowwe se newe-effekte is wel in ooreenstemming met ander entstowwe se newe-effekte.
Tot op hede is meer as 2,9 miljard dosisse van 'n Covid-19-entstof toegedien sonder dat daar 'n wesenlike rapportering van sterftes in die VSA of in Europa waargeneem is. Die paar ernstige newe-effekte wat waargeneem is (bloedklonte en hartsiektes), is uitsonderlik skaars en hanteerbaar indien daarna opgelet word.
Gemiddeld behoort omtrent 2 500 mense uit 1 miljoen wat 'n Covid-19-entstof ontvang, 'n newe-effek te ontwikkel, waarvan die meeste ligte newe-effekte gaan wees. Indien 1 miljoen mense Covid-19 kry, behoort ongeveer 140 000 met ernstige siekte in die hospitaal te beland en behoort ongeveer 23 000 te sterf.
’n Kort ontleding van die gerapporteerde newe-effekte volgens die Vaccine Adverse Events Reporting System (VAERS-stelsel) lyk soos volg:
Die VAERS-data bevat 331 630 gevalle wat as newe-effekte aangemeld is uit 160 miljoen mense wat ingeënt is.
Die meeste van hierdie newe-effekte is presies soos verwag kon word, gegewe die kliniese toetse.
Weens die ligte graad van die meeste van hierdie newe-effekte is dit baie moontlik dat daar onderrapportering van ligte newe-effekte is. Onderrapportering is egter besonder moeilik in die geval van sterftes..
Uit hierdie 331 630 newe-effekte is daar 3 523 sterfgevalle. Indien gekyk word na sterftes binne sewe dae ná entstoftoediening, dan is daar 1 972 gevalle. Dit laat 'n persentasie van 0,0013%, oftewel 13 sterftes uit elke 1 miljoen mense. Let wel – daar is tot dusver geen kousale verband tussen hierdie sterftes en die entstof getrek nie – hierdie sterftes sluit voertuigongelukke, beserings en ander terminale toestande in.
Vir konteks: die huidige sterftekoers vir voertuigongelukke in Amerika is ongeveer 119 mense uit 1 miljoen.

Foto krediet: Spencer Davis | Unsplash