Covid-19-pandemie kelder die kunste
Thursday | 02 April | 2020Deur Nico Strydom
Die Covid-19-pandemie het die Suid-Afrikaanse vermaak- en kunstebedryf summier tot 'n halt geroep.
Reeds met pres. Cyril Ramaphosa se aanvanklike afkondiging van 'n ramptoestand wat byeenkomste van meer as 100 mense verbied het, moes talle teaterproduksies, musiekkonserte en kunstefeeste, soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) uitgestel of afgestel word.
Nadat pres. Ramaphosa egter 'n tydperk van afsondering van 21 dae afgekondig het, moes teaters en venues hul deure heeltemal sluit en alle kunstenaars se vertonings was onmiddellik van die baan. Talle projekte het ook in die slag gebly. Groot internasionale konserte wat in Suid-Afrika aangebied sou word, moes uitgestel word.
Suid-Afrika se kunstenaars het egter vinnig met planne vorendag gekom en die gevolg is gratis regstreekse video-uitsendings oor sosiale media en ander platforms. Vir talle teaters en sommige kunstenaars is dit egter nie moontlik nie weens die koste wat steeds daaraan verbonde is.
Nou moet daar gefokus word op beplanning rondom die herskedulering van vertonings en feeste. Daar is egter ook die kwessie van terugbetalings vir konserte en feeste wat nie nou plaasvind nie. Een van die moontlike maniere wat voorgestel is om die vermaak- en kunstebedryf te help, is dat mense hul kaartjiegeld moet laat oorstaan vir vertonings wat bloot net uitgestel is.
Van die teaters het die publiek versoek om die koste van hul kaartjie te skenk en nie 'n terugbetaling te vra nie. Die meeste kunstenaars is vryskutwerkers en dus word daar hard gesoek na vindingryke oplossings om dié bedryf deur te trek vir die volgende paar weke.
Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het R150 miljoen beskikbaar gestel om broodnodige verligting aan praktisyns in dié sektor te bied.
Verfilming van televisieproduksies is ook uitgestel weens die tydperk van afsondering en Mthethwa het om dié rede ook gevra dat openbare en private uitsaaiers voorkeur moet gee aan plaaslik vervaardigde inhoud ten einde kunstenaars in staat te stel om tantieme te verdien. Volgens Mthethwa het die onderskeie verenigings hul daartoe verbind om tantieme betyds uit te betaal.
Mthethwa het ook voorgestel dat konserte, toneelstukke en ander geleenthede aanlyn gestroom word. Hy het gesê venues wat aan die departement behoort, sal gratis aan kunstenaars beskikbaar gestel word vir dié doel.
'n Beroep is op kunstenaars gedoen om die tyd kreatief te gebruik en ook met vindingryke oplossings vorendag te kom ten einde dié bedryf te beskerm en deur te trek te midde die Covid-19-pandemie.
Bronne
Departement van sport, kuns en kultuur: http://www.dac.gov.za/content/statement-minister-sports-arts-and-culture-mitigation-plans-minimise-impact-covid-19
Maroela Media: https://maroelamedia.co.za/
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: