Covid-19: Ters-aansoeke heropen weer
Thursday | 22 July | 2021Deur Reon Janse van Rensburg
Werknemers wat sedert Maart 2021 deur die Covid-19-inperkingsregulasies geraak is, sal weer van die regering se Covid-19 tydelike werknemer-/werkgewerhulpskema (Ters) kan eis.
Die derde fase vir dié aansoeke by die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) het Maandag 19 Julie geopen. Aansoeke is geldig vir die tydperk vanaf 16 Maart 2021 tot 25 Julie 2021 vir alle bedrywe wat geaffekteer is.
Die besluit deur die regering kom nadat Thulas Nxesi, die minister van indiensneming en arbeid, op 16 Julie die opdrag onderteken het wat dit moontlik maak vir die WVF om weereens die uitbetaling van die Ters-voordeel te implementeer.
Die betaling van suksesvolle eise sal op 26 Julie begin.
Die Ters-skema het tot dusver meer as R60 miljard se inkomste-ondersteuning aan werknemers verskaf en word uitgebrei ondanks kommer of die WFV dit kan bekostig nadat die fonds reeds twee maal vantevore tot hulp moes wees. Suid-Afrika beleef tans 'n toenemende werkkrisis wat die vraag na ondersteuning aan werknemers verhoog.
Na intensiewe beraadslaging met maatskaplike vennote by Nedlac om die Ters-voordeel weer in te stel, wat harde stemwerwery van sektore wat swaar getref is, ingesluit het, het die WVF en die departement van arbeid egter ooreengekom om ’n nuwe venster vir aansoeke te open.
Watter werknemers kan aansoek doen?
Alle werknemers wat sedert 16 Maart nie kon werk nie, weens beperkings op vlak 1, 2 en 3 wat verhoed het dat sekere sektore nie met hulle normale werk kon voortgaan nie, bv. die vermaaklikheidsbedryf, kan hiervoor aansoek doen.
Werknemers wat deur die huidige vlak 4-beperkings beïnvloed word, wat op 28 Junie van stapel gestuur is, kan ook aansoek doen.
Diegene wat ook nog nie in staat was om te werk nie, omdat hulle ouer as 60 is, of diegene wat onderliggende simptome het wat hul van die werkplek weerhou as gevolg van Covid-19 sowel as diegene wat hulself moes afsonder, of in kwarantyn moes gaan kan ook kwalifiseer.
WVF betaal geld nou direk aan werknemers
'n Belangrike en groot verandering wat deur die WVF geïmplementeer word is dat die WVF voortaan die betrokke werknemers direk sal betaal en dat dit nie slegs aan die werkgewer betaal word nie. Die rede vir die besluit is, is omdat daar wel werkgewers is wat voorheen geld vanaf die WVF ontvang het, maar dit nooit aan hulle werknemers uitbetaal het nie.
“Ons het ons les geleer uit die vorige fases dat sommige gewetenlose werkgewers nie die geld aan hulle werknemers voorgeskiet het nie en daarom het ons gekies vir hierdie betaalmetode,” het die waarnemende WVF-kommissaris, Mzie Yawa gesê.
Volgens die WVF verkies hulle om fondse direk aan werknemers te betaal, maar hulle is bewus van gevalle waar dit moeilik kan wees. In so ’n geval sal daar op grond van bewyse vanaf die werkgewer, gereël kan word dat fondse vanaf die WVF na die werkgewer betaal word, wat dan die fondse aan die werknemer moet oorbetaal.
Volgens Yawa, is dit dus van kardinale belang dat werkgewers die geldige en akkurate besonderhede van hul werknemers moet verstrek, insluitend die korrekte identiteitsdokumentnommers en geldige bankrekeninge.
Die aansoekproses en die inligting of dokumente wat benodig word, bly dieselfde as met die vorige uitbetalings, maar die verwerking van betalings word nou (in meeste gevalle) direk in werknemers se rekeninge inbetaal.
Die sektore wat na verwagting verligting sal ontvang sluit in restaurante, die toerisme sektor, gasvryheidsdienste, die drankbedryf, en lokale of geboue wat gebeure soos sosiale geleenthede, konserte en professionele sportsoorte aanbied.
Bronne:
Covid-19 Ters applications re-open – https://www.bizcommunity.com/Article/196/863/218062.html
It will cost UIF up to R3.5-billion in Ters payments every week the lockdown is extended – https://mg.co.za/business/2021-07-09-it-will-cost-uif-up-to-r3-5-billion-in-ters-payments-every-week-the-lockdown-is-extended/
New window for UIF Ters applications now open – https://www.moneyweb.co.za/news/companies-and-deals/new-window-for-uif-ters-applications-now-open/
You can expect to receive Covid Ters benefits from 26 July – https://citizen.co.za/business/business-news/2576111/you-can-expect-to-receive-covid-ters-benefits-from-26-july/
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: iStock