Eensydige wysiging van diensvoorwaardes
Monday | 04 May | 2020Eensydige wysiging van diensvoorwaardes (salarisse) na aanleiding van die president se versoek/uitdaging (“challenge”) om van jou salaris af te staan ter wille van die Covid-19-Solidariteitfonds.
Na afloop van pres. Ramaphosa se aankondiging dat hy en sy kabinet afstand gaan doen van 30% van hul salarisse ten bate van die regering se Covid-19-fonds blyk dit uit navrae dat verskeie maatskappye op bestuursvlak die besluit neem om personeel se salarisse om hierdie rede te verminder. Indien die besluit geneem en geïmplementeer is sonder konsultasie met en die toestemming van werknemers, kan hierdie besluit deur die bestuur van ’n maatskappy in sekere omstandighede beskou word as eensydig en onregverdig.
Die gemenereg bepaal dat die werkgewer nie die bepalings van 'n kontrak eensydig kan wysig nie. Dit kom neer op kontrakbreuk, wat tot gevolg het dat die werknemer homself uit die dienskontrak kan onttrek of aksie vir skadevergoeding kan instel.
Die besluit van die president en ministers om hul salarisse te verminder, en die uitdaging wat aan maatskappye gerig is om dieselfde te doen, kan nie die werknemer se reg op billike arbeidspraktyke vervang nie. Die werknemer het steeds remedies in terme van arbeidswetgewing.
Die werknemer kan die geskil ingevolge artikel 64 (4) van die Wet op Arbeidsverhoudinge na die KVBA of relevante bedingingsraad verwys waar daar versoek kan word dat die oorspronklike bepalings van die dienskontrak herstel word. Daar kan ook versoek word dat ’n sertifikaat uitgereik word om te staak indien die werkgewer en werknemers nie tydens konsiliasie konsensus kan bereik nie.
In Staff Association for the Motor and Related Industries (SAMRI) v Toyota of South Africa Motors (Pty) Ltd (1998) het die hof bepaal dat die werknemer moet bewys dat:
- daar veranderinge aangebring is aan die bepalings en voorwaardes van die dienskontrak; en
- geen toestemming deur die werknemer gegee is om die diensvoorwaardes te verander nie.
Indien ’n werknemer ’n geskil na die KVBA verwys het en die werkgewer weier om die verandering reg te stel, kan die arbeidshof genader word om die werkgewer te verplig om die regstelling te doen.
'n Maatskappy moet eers sy werknemers nader, met hulle konsulteer en hul toestemming kry alvorens hul salarisse verminder mag word om as donasie gebruik te word vir die stryd teen Covid-19.
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: