Onluste, plundering en veiligheidskwessies rapporteringslyn: 012 880 1979 |
Beskikbaar: Ma. – Do. 08:00-16:30, Vry. 08:00-15:00
Enstof verslag: Laai die PDF hier af

Is die entstowwe te vinnig ontwikkel en daarom onveilig?

Die Covid-19-entstowwe is teen 'n rekordspoed ontwikkel, maar dit behoort geen verrassing te wees nie. Alhoewel Covid-19 nuut is, is koronavirusse nie 'n nuwe verskynsel nie en bestudeer wetenskaplikes hulle al vir langer as 50 jaar. Met die uitbreek van Covid-19 spesifiek is daar gebou op die massa kennis rondom koronavirusse ten einde 'n entstof so vinnig as moontlik te kan ontwikkel. Hierdie agtergrondkennis het wetenskaplikes in China in staat gestel om die Covid-19-virus se RNS al in Januarie 2020 volledig te ontrafel, en entstofontwikkeling kon gevolglik feitlik onmiddellik begin.

Normaalweg is entstofontwikkeling 'n besonder duur proses, maar in hierdie geval was daar vanweë die groot aanvraag geen tekort aan hulpbronne nie. Die Amerikaanse regering van pres. Trump het “Operation Warp Speed” van stapel gestuur wat genoegsame befondsing vir entstofontwikkeling beskikbaar gestel het.

Dit is nie die eerste geval van 'n entstof wat binne 'n jaar vir 'n pandemie ontwikkel is nie. Met 2009 se varkgrieppandemie is 'n entstof ook binne 'n jaar ontwikkel. Ná 'n vergadering in Mei 2009 om 'n entstof te ontwikkel, is die eerste toetse op 'n entstof al in Julie 2009 begin.

In die lig van hierdie vlak van hulpbronne en aanvraag, sowel as die bestaande kennis oor koronavirusse en die spesifieke kennis oor Covid-19, is dit nie vreemd dat 'n entstof binne 'n paar maande vervaardig is nie. Dit het farmaseutiese maatskappye in staat gestel om reeds in Mei 2020 met kliniese toetse te begin, wat uiteindelik beteken dat die meeste entstofkandidate se fase 3-toetsing teen Desember 2020 afgehandel was en die suksesvolle kandidate vir menslike gebruik goedgekeur kon word.

Die entstof vervoer té moeilik en daar is geen waarborg dat dit nog doeltreffend gaan wees teen die tyd wat dit by my uitkom nie

Hierdie vrees is spesifiek van toepassing in Suid-Afrika, waar die regering daarop aandring om entstofaankope en -verspreiding te sentraliseer. Dit is 'n geldige vrees, maar 'n mens moet in ag neem dat daar verskillende tipes entstowwe is wat verskillend vervoer moet word.

Die moeilikste om te vervoer is die Pfizer-entstof, wat op die lang termyn teen -70 oC gestoor moet word. Wat belangrik is, is dat die Pfizer-entstof volgens die United States Food and Drug Administration (FDA) tot 'n maand teen normale yskastemperatuur gestoor kan word. Dit besweer die meeste vrese rondom die koueketting wat gebreek kan word. Yskastemperatuur-kouekettings is algemeen in Suid-Afrika en is doeltreffend.

Die ander entstowwe (Moderna, Johnson & Johnson) kan met normale kouekettingtegnologie vervoer word en behoort nie uitsonderlike logistieke uitdagings te bied nie.

Is die langtermyneffekte van die entstof ernstig?

Tans is die werklikheid dat die langtermyneffekte van Covid-19-entstowwe bloot nie bekend is nie, want daar het nog nie genoeg tyd verloop om dit te kan bepaal nie. Dit is die een gebied waar daar onsekerheid heers, bloot weens die feit dat geen kliniese toets vorentoe kan antisipeer nie.

Gelukkig is entstowwe nie 'n nuwe verskynsel nie en kan lesse geleer word uit die langtermynuitwerking van ander entstowwe. Die geskiedenis van entstowwe toon dat die meeste newe-effekte binne twee maande intree nadat 'n persoon die entstof ontvang het. Hierdie geskiedenis toon dat langtermyneffekte oor die algemeen ’n besonder skaars verskynsel vir entstowwe is, bloot op grond van die metode waarop entstowwe werk. Die meeste van die materiaal wat gebruik word om 'n immuunreaksie te stimuleer, word binne 'n paar dae deur jou liggaam uitgeskei.

Die tegnologie wat in die entstofvervaardiging gebruik word, is ook al jare in gebruik met minimale langtermyneffekte. mRNA word al sedert 1989 gebruik en bestudeer, en die eerste eksperimente op mRNA-tegnologie in entstowwe is al in 1994 onderneem.

Ander tegnologieë soos die virale vektor van die Johnson & Johnson-entstof is al sedert 1974 in gebruik. Die adenovirus-weergawe word spesifiek gebruik danksy die veiligheid daarvan in kliniese studies van ander entstowwe.

Die data wys dat die aansprake dat groot getalle mens as gevolg van entstof doodgaan, eenvoudig nie waar is nie. Die risiko vir bloedklonte en hartverwante newe-effekte is klein. Die meeste newe-effekte wat aangemeld is, is lig en stem ooreen met dié van enige ander entstof.

Die data toon dat daar een risiko is wat baie groter is as dié van entstowwe, en dit is om nie ingeënt te word nie. Sou jy besluit om nie ingeënt te word nie, moet jy die risiko’s wat daarmee gepaardgaan ernstig in ag neem. Dit sluit in gevolge vir jou eie gesondheid en die kanse om Covid-19 op te doen, maar ook die risiko om Covid-19 aan ander mense oor te dra. Persone wat nie ingeënt is nie, kan die virus bly versprei.

Kan 'n mens Covid-19 kry nadat jy ingeënt is?

Daar is geen virale Covid-19-proteïen in die entstof nie. Dit beteken dat daar geen manier is waarop die entstof Covid-19 aan jou kan gee nie, want die virus self is nie in die entstof nie. Al wat die entstof bevat, is 'n aangepaste stekelproteïen.

Dit is belangrik om eers te verduidelik wat presies die stekelproteïen is. Die Covid-19-sel bevat verskeie klein proteïene rondom hom wat die virale sel help om aan jou selle te koppel. Hierdie proteïene gee die Covid-19-sel die kenmerkende vorm wat as’t ware 'n kroon “korona” rondom hom skep. Vanweë die unieke aard daarvan is die stekelproteïen as die ideale teiken geïdentifiseer om 'n entstof op te baseer aangesien alle mutasies van Covid-19 'n stekelproteïen moet bevat.

Vir die virus om te versprei moet die virale selle kan vermeerder – virale selle moet dus die stekelproteïen gebruik om aan jou selle te koppel en dan moet die virale sel self vermeerder. Die stekelproteïen is nie 'n virus op sigself nie en kan nie op sy eie vermeerder nie. Dit is dus nie moontlik om Covid-19 van die entstof te kry nie omdat daar geen Covid-19-selle in die entstof is nie.

Is die stekelproteïen van Covid-19 op sy eie gevaarlik?

Daar is nie 'n virale Covid-19-stekelproteïen in die entstowwe nie.

Alhoewel die virale stekelproteïen op sy eie wel skade kan aanrig, is dit belangrik om daarop te let dat entstowwe 'n aangepaste, onskadelike stekelproteïen vervaardig wat ten doel het om 'n immuunreaksie te ontketen sodat jou immuunstelsel dan beter reageer op die werklike virus wat opdaag.

Kan die stekelproteïen van die entstof versprei deur jou hele liggaam en skade aanrig?

Alhoewel studies wat op rotte gedoen is, toon dat die stekelproteïen nie spesifiek by die inspuitingsarea bly nie, toon dieselfde studies ook dat die oorweldigende meerderheid van die entstof naby die inspuitingsarea bly en dan – soos verwag – na die lewer verskuif word. Die grootste hoeveelheid wat buite hierdie plekke aangetref word, is 1,03% van die totale entstofdosis wat in die milt aangetref word. Die verslag toon die volledige bevinding van die studie.

Die hoeveelhede stekelproteïen wat 'n entstof vervaardig, is 100 000 keer minder as wat nodig is om skade aan te rig. Gevolglik is die verspreiding van hoogstens 1,03% buite die inentingsarea nie 'n wesenlike bedreiging nie.

Kan die stekelproteïen van die entstof versprei deur jou hele liggaam en skade aanrig?

In die Vaccine Adverse Events Reporting System (VAERS-stelsel) van Amerika is slegs 271 voorvalle aangeteken wat van toepassing is op moeders wat borsvoed. Die meeste van hierdie voorvalle is waar 'n borsvoedende ma een van die normale newe-effekte van die entstof ontwikkel, soos hoofpyn of spierpyn. Daar is slegs 23 voorvalle aangemeld waar spesifiek na borsmelk verwys word. Hierdie voorvalle beskryf wel simptome soos 'n baba wat 'n groter eetlus het of wat 'n loopneus het.

Daar is egter té min data beskikbaar om tot 'n slotsom te kom en Solidariteit raai moeders wat borsvoed aan om hul dokter in die verband te raadpleeg.

Moet 'n mens nie ivermektien eerder as die entstof gebruik nie?

Onlangse navorsing het getoon dat ivermektien waarskynlik doeltreffend is in die behandeling van Covid-19. In die lig van die moontlike rol wat ivermektien in die behandeling van Covid-19 kan speel, tesame met die veiligheid van ivermektien in goedgekeurde dosisse, is dit ondenkbaar dat dit nie lankal as moontlike behandeling vir Covid-19 in Suid-Afrika ingesluit is nie.

Ivermektien is nou goedgekeur vir menslike gebruik in Suid-Afrika en kan deur enige dokter voorgeskryf word. Soos met alle medisyne is dit baie belangrik om by die veilige dosis te hou ten einde ongewenste newe-effekte te voorkom.

Ivermektien en 'n Covid-19-entstof werk nie teen mekaar nie en fokus op verskillende kante van die behandelingspektrum. Covid-19-entstof is per definisie voorkomend van aard, terwyl ivermektien waarskynlik 'n doeltreffende behandeling vir Covid-19 is, veral in die vroeë fases van die siekte.

Gevolglik is daar geen spanning tussen ivermektien en Covid-19-entstowwe nie en kan die twee saam teen Covid-19 aangewend word.

Ivermektien en die Covid-19-entstowwe moet egter nie teenoor mekaar gestel word nie. Daar word ook sterk aangeraai om jou dokter in die verband toe te spreek en om nie die medikasie op onwettige wyses aan te koop nie. Dit is belangrik dat jou dokter dit aan jou voorskryf en jy nie van die voorgeskrewe dosering afwyk nie.

Gaan daar meer mense van die entstof dood as van Covid-19?

Daar word uitsonderlik gedetailleerd oor entstowwe en moontlike newe-effekte verslag gedoen en daar word nie buitengewone sterftes waargeneem nie. Inteendeel, entstowwe se newe-effekte is wel in ooreenstemming met ander entstowwe se newe-effekte.

Tot op hede is meer as 2,9 miljard dosisse van 'n Covid-19-entstof toegedien sonder dat daar 'n wesenlike rapportering van sterftes in die VSA of in Europa waargeneem is. Die paar ernstige newe-effekte wat waargeneem is (bloedklonte en hartsiektes), is uitsonderlik skaars en hanteerbaar indien daarna opgelet word.

Gemiddeld behoort omtrent 2 500 mense uit 1 miljoen wat 'n Covid-19-entstof ontvang, 'n newe-effek te ontwikkel, waarvan die meeste ligte newe-effekte gaan wees. Indien 1 miljoen mense Covid-19 kry, behoort ongeveer 140 000 met ernstige siekte in die hospitaal te beland en behoort ongeveer 23 000 te sterf.

’n Kort ontleding van die gerapporteerde newe-effekte volgens die Vaccine Adverse Events Reporting System (VAERS-stelsel) lyk soos volg:

Die VAERS-data bevat 331 630 gevalle wat as newe-effekte aangemeld is uit 160 miljoen mense wat ingeënt is.

Die meeste van hierdie newe-effekte is presies soos verwag kon word, gegewe die kliniese toetse.

Weens die ligte graad van die meeste van hierdie newe-effekte is dit baie moontlik dat daar onderrapportering van ligte newe-effekte is. Onderrapportering is egter besonder moeilik in die geval van sterftes.

Uit hierdie 331 630 newe-effekte is daar 3 523 sterfgevalle. Indien gekyk word na sterftes binne sewe dae ná entstoftoediening, dan is daar 1 972 gevalle. Dit laat 'n persentasie van 0,0013%, oftewel 13 sterftes uit elke 1 miljoen mense. Let wel – daar is tot dusver geen kousale verband tussen hierdie sterftes en die entstof getrek nie – hierdie sterftes sluit voertuigongelukke, beserings en ander terminale toestande in.

Vir konteks: die huidige sterftekoers vir voertuigongelukke in Amerika is ongeveer 119 mense uit 1 miljoen.

Chart

Kan my werkgewer my verplig om die entstof te neem?

Daar is tans geen wetgewing in Suid-Afrika wat werknemers verplig om die Covid-19-entstowwe te ontvang nie, nie eens in spesifieke bedrywe waar die blootstelling baie hoog is nie. Verder bied die Suid-Afrikaanse Grondwet ook beskerming, maar die regte kan in sekere omstandighede beperk word. Hierteenoor het elke werkgewer egter 'n verpligting om 'n veilige en gesonde werkplek te verseker. Daar moet dus 'n balans gevind word tussen individuele regte, die verpligtinge van 'n werkgewer en die regte van die groter samelewing.

Werkgewers wat Covid-19-beleide instel met die oog op gedwonge inenting, sal die beleide moet meet aan die huidige wetgewing.

Alle eienaars, werkgewers en persone in beheer van 'n perseel ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (No. 85 van 1993), het ’n algemene plig om vir sover dit redelikerwys uitvoerbaar is, 'n werkomgewing wat veilig en sonder risiko vir die gesondheid van sy werknemers is, tot stand te bring en te onderhou [art. 8(1)]. Die bepaling gee egter nie outomaties die reg aan 'n werkgewer om inenting verpligtend te maak nie. Indien 'n werkgewer so 'n beleid of reël wil inbring, sal dit regverdigbaar moet wees op grond van die inherente vereistes van die werk en die risiko’s by die werkplek (nie die werkgewer se voorkeur of bloot net 'n eie besluit nie), wat slegs in 'n onbeduidende aantal gevalle regverdigbaar sal wees. In die algemeen sal dit egter nie billik of regverdigbaar wees om te vereis dat werknemers ingeënt word nie.

Wat sê die arbeidswetgewing oor verpligte entstowwe?

In hierdie stadium is daar nog geen wetgewing of presedente wat spesifiek handel oor die arbeidswetgewing en verpligte entstowwe nie. Dit is ’n nuwe aspek wat aan die lig gekom het en daar is nog geen wysigings aan ons arbeidswetgewing aangebring nie. Daar is slegs die regulasies wat deur die staat geïmplementeer word ingevolge die Wet op Rampbestuur, No 57 van 2002, en dit maak ook nie voorsiening vir enige verpligting nie.

Ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid het alle eienaars, werkgewers en persone in beheer van ’n perseel ’n algemene plig om vir sover dit redelikerwys uitvoerbaar is, ’n werkomgewing wat veilig en sonder risiko vir die gesondheid van sy werknemers is, tot stand te bring en te onderhou [art. 8(1)].

Die Wet op Diensbillikheid (Employment Equity Act), (No. 55 van 1998), bepaal dat werkgewers stappe moet doen om gelyke geleenthede by die werkplek te bevorder deur onbillike diskriminasie in enige werkbeleid of -praktyk uit te skakel (art. 5). Verder mag niemand op direkte of indirekte wyse in enige werkbeleid of -praktyk diskrimineer teen 'n werknemer op grond van, onder meer, ouderdom, geloof, gewete, oortuiging of kultuur of op enige ander arbitrêre grond nie [art.6(1)].

Dit is egter nie onbillike diskriminasie om 'n onderskeid te tref tussen, of persone uit te sluit op grond van die inherente vereistes van 'n werk nie [art.6(2)(b)]. Dit is 'n belangrike bepaling. Dit beteken dat indien daar, vanweë die aard van jou werk en die vereiste wat dit op jou plaas, 'n vereiste is dat jy wel ingeënt moet word, diskriminasie wel billik kan wees. Dit sal egter slegs in 'n onbeduidende aantal gevalle regverdigbaar wees.

Ten slotte, dit sal oor die algemeen nie billik of regverdigbaar wees om te vereis dat werknemers ingeënt word nie, en indien ’n werkgewer so ’n beleid of reël wil inbring, sal dit regverdigbaar moet wees op grond van die inherente vereistes (nie die werkgewer se voorkeur of bloot net ’n eie besluit nie) van die werk, wat slegs in ’n onbeduidende aantal gevalle regverdigbaar sal wees.

Mag my baas my afdank as ek die entstof weier?

Daar is tans geen wetgewing in Suid-Afrika wat werknemers verplig om die Covid-19-entstowwe te ontvang nie, nie eens in spesifieke bedrywe waar die blootstelling baie hoog is nie. Verder bied die Suid-Afrikaanse Grondwet ook beskerming, maar die regte kan in sekere omstandighede beperk word. Hierteenoor het elke werkgewer egter 'n verpligting om 'n veilige en gesonde werkplek te verseker. Daar moet dus 'n balans gevind word tussen individuele regte, die verpligtinge van 'n werkgewer en die regte van die groter samelewing.

Individuele regte

  • Die Wet op Nasionale Gesondheid (National Health Act), No 61 van 2003, bepaal dat geen gesondheidsdiens (insluitend inenting) verrig mag word sonder die ontvanger se toestemming nie, en die toestemming moet spesifiek wees en vrywillig gegee word nadat die ontvanger inligting ontvang het rakende die voorgenome gesondheidsprosedure, bv inenting. Daar is wel uitsonderings op die toestemming vir gesondheidsdienste, bv. waar die gesondheidsprosedure voorgeskryf word deur wetgewing of deur ’n geldige hofbevel. In die spesifieke gevalle sal die ontvanger verplig wees om die gesondheidsdiens te ontvang. Die Minister van Gesondheid het egter die regering se posisie duidelik gestel, naamlik dat inenting nie verpligtend is nie en dat daar tans geen wetgewing bestaan wat inenting verpligtend maak nie. Die ontvanger van ’n inenting (die werknemer in die vraagstuk) moet dus ’n ingeligte besluit neem en uitdruklik en vrywillig toestemming gee vir die beoogde gesondheidsprosedure.
  • Die reg op liggaamlike integriteit (beheer oor jou eie liggaam) word ook in artikel 12 van die Grondwet beskerm. Die reg kan deur die staat beperk word, maar die staat sal moet bewys dat die beperking nodig is ter uitvoering van algemene geregtigheid en in belang van die breër gemeenskap. Die staat se posisie is tans duidelik aangesien inenting nie verpligtend is nie en inenting tans slegs vrywillig geneem kan word. Spesifieke toestemming word dus verlang alvorens ’n persoon ingeënt kan word.
  • Die Wet op Arbeidsverhoudinge, (No. 66 van 1995) (WAV), bied ook beskerming teen prosedurele en substantiewe onbillike ontslag. Indien die werkgewer wil aanvoer dat verpligte inenting 'n onderlinge belang is, bied artikel 187(1)(c) van die WAV beskerming deur te bepaal dat 'n werkgewer nie 'n werknemer mag ontslaan weens sy/haar weiering om 'n eis ten opsigte van enige aangeleentheid van onderlinge belang tussen die werkgewer en die werknemer te aanvaar nie. Indien dit bloot 'n eensydige besluit van die werkgewer is, bepaal artikel 187(1)(f) spesifiek dat ontslag outomaties onbillik is indien 'n werkgewer regstreeks of onregstreeks teen enige werker diskrimineer op enige arbitrêre grond. Weiering om ingeënt te word weens geloof of godsdiens kan as sodanige arbitrêre gronde gereken word. Die blote besluit van die werkgewer om te onderskei tussen persone op grond daarvan of hulle ingeënt is al dan nie, kan moontlik op sigself as 'n arbitrêre grond beskou word en daarom kan ontslag weens weiering of versuim om ingeënt te word, outomaties onbillik wees.

Werkgewer se regte en verpligtinge

  • Hierteenoor het alle eienaars, werkgewers en persone in beheer van 'n perseel ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid 'n algemene plig om vir sover dit redelikerwys uitvoerbaar is, 'n werkomgewing wat veilig en sonder risiko vir die gesondheid van sy werknemers is, tot stand te bring en te onderhou [art. 8(1)].
  • Só ook bepaal dieselfde artikel 187 van die WAV en die Wet op Diensbillikheid dat ’n werkgewer onderskeid mag tref tussen persone of persone kan uitsluit op grond van die inherente vereistes van ’n werk. Dit sal egter slegs in ’n onbeduidende hoeveelheid van gevalle regverdigbaar wees.

Mag my werkgewer weier dat ek kantoor toe kom as ek nie ingeënt is nie?

Werkgewers het ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid 'n verantwoordelikheid om hul werknemers en ander persone op die werkperseel te beskerm en om 'n gesonde en veilige werkomgewing te handhaaf.

Dit is egter ook belangrik dat die grondwetlike regte van alle persone, insluitend dié van werknemers, beskerm moet word. Hierdie grondwetlike regte sluit in die reg op gelykheid voor en gelyke beskerming en voordeel van die reg, die reg op menswaardigheid, die reg op liggaamlike integriteit, die reg op vryheid van godsdiens, oortuiging en mening, die reg op 'n omgewing wat nie skadelik vir mense se gesondheid of welsyn is nie en die reg op gesondheidsorgdienste.

By hoërisikowerkplekke is dit weens die hoë risiko van verspreiding van Covid-19 moontlik dat werknemers wat nie ingeënt is nie, ’n risiko inhou vir die openbare gesondheid en die gesondheid van ander werknemers.

Dit is belangrik dat die werkgewer se verpligting om ’n veilige en gesonde werkplek daar te stel, uitgeoefen word met inagneming en beskerming van die werknemers se grondwetlike regte.

Werknemers is ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid verplig om verantwoordelikheid te neem vir hul eie veiligheid en gesondheid by die werkplek en ook vir dié van die ander persone by die werk. Hulle moet ook enige wettige opdragte wat aan hulle gegee word ten aansien van gesondheid en veiligheid by die werk uitvoer, en die gesondheid- en veiligheidsreëls en -prosedures wat deur hul werkgewer voorgeskryf is, gehoorsaam.

Waar daar geen beduidende risiko van Covid-19-infeksie by werkplekke of met betrekking tot die werk bestaan nie, moet werknemers toegelaat word om voort te gaan met hul werk, selfs al weier hulle om teen Covid-19 ingeënt te word, maar alle voorkomingsmaatreëls buiten inenting moet steeds streng nagekom word. Hierdie maatreëls sluit die behoorlike dra van maskers, die handhawing van fisieke afstand, die was van hande en ontsmetting, isolasie en kwarantyn in.

Werkgewers mag oor die algemeen nie werknemers verplig om sonder hul ingeligte skriftelike toestemming teen Covid-19 ingeënt te word nie.

Werknemers mag weier om ingeënt te word op grond van geloofsoortuigings, kultuur of mediese redes. Waar dit gaan oor mediese redes, behoort werknemers hul dokters daaroor te spreek.

Werkgewers in baie hoërisikogebiede mag werknemers slegs in streng uitsonderlike gevalle verplig om teen Covid-19 ingeënt te word, maar sodanige optrede mag nie eensydig en arbitrêr geskied nie en nie sonder behoorlike konsultasie met die werknemers en sonder dat enige en alle alternatiewe eers oorweeg en toegepas is nie.

Indien 'n werknemer sou weier om ingeënt te word en die inenting van die werknemer is redelik en noodsaaklik, in die lig van die hoë risiko van besmetting met Covid-19, of dit is 'n inherente vereiste vir sy of haar werk, moet die werkgewer alle alternatiewe oorweeg, byvoorbeeld alternatiewe plasing, die verandering van pligte of die moontlikheid van werk op 'n veilige afstand van die hoërisikogebied af.

Kan skole kinders verplig om ingeënt te word?

Die kort antwoord is: Nee.

Die president van Suid-Afrika het gesê dat niemand verplig sal word om ingeënt te word nie.

Die Kinderwet, 2005

  • Die Kinderwet (Children’s Act) (No. 38 van 2005), bepaal in artikel 129 dat kinders toestemming mag verleen vir hul eie gesondheidsbehandeling, mits hulle ouer as 12 jaar is, die implikasies verstaan en “genoegsaam volwasse” is.
  • Hierdie term word nie in dié wet omskryf nie, en die wet bepaal ook nie hoe professionele gesondheidsorgverskaffers kan bepaal of 'n kind genoegsaam volwasse is om hierdie keuses uit te oefen nie. Dit sal dus dan onmiddellik verwarring meebring om hierdie wet te gebruik wanneer die kind self moet besluit voor die ouderdom van 18 jaar.
  • Kinders bo die ouderdom van 18 jaar mag wel keuses maak rondom gesondheidsorg. Toestemming vir inenting, behalwe wat verpligte inentings betref, mag dus van hierdie kind verkry word, op voorwaarde dat die kind in staat gestel is om ’n ingeligte besluit te neem. Die voor- en nadele van hierdie spesifieke inenting moet aan die kind verduidelik word.

Suid-Afrika se bepalings en toepassing van die inentingstrategie vir Covid-19

Die amptelike strategie behels die volgende:

  • Fase 1: Gesondheidswerkers, ongeveer 1 250 000 mense.
  • Fase 2: Noodsaaklike werkers, ongeveer 2 500 000 mense. Dig bevolkte nedersettings, ongeveer 1 100 000 mense. Persone bo 60 jaar oud, ongeveer 5 000 000 mense, en persone ouer as 18 jaar met bewese onderliggende siektetoestande, ongeveer 800 000 mense.
  • Fase 3: Persone ouer as 18 jaar, ongeveer 22 500 000 mense.

Daar word nie voorsiening gemaak vir mense onder die ouderdom van 18 jaar nie.

Verpligte inenting: Regsmening, advokaat G Kemp

  • Die regering voorsien nie dat verpligte inenting teen Covid-19 vir alle burgers van Suid-Afrika gepromulgeer sal word nie, en by implikasie sal dit ook nie op kinders van toepassing wees nie.
  • Inenting teen Covid-19 is ook nie gepromulgeer as deel van ’n wetlike verpligting van inenting vir kinders nie (byvoorbeeld soos Duitse masels, polio en pokke).

Kind of nie:

  • Die Grondwet van Suid-Afrika erken die Afrika-handves en ook die Verenigde Nasies se “Regte van Kinders” (UNCRO [2,3]) vir die term “kind”.
  • Hier word kinders omskryf as individue en as houers van sekere regte. Kinders is nie die eiendom van enigiemand nie en het bepaalde regte, ook om self besluite te kan neem soos hierbo beskryf.

Artikels 12 en 34 van die Grondwet:

  • Elke persoon het die reg op liggaamlike integriteit (sekerheid en beheer oor sy eie liggaam).
  • Sodanige reg kan in sekere omstandighede beperk word deur wetgewing en/of 'n hofbevel;
  • Die opweging van verskillende regte moet in ag geneem word voordat ’n spesifieke reg ontneem word.
  • Hierdie artikels is belangrik deurdat kinders, wat ook regte het, beskerm moet word teen diskriminasie.

Wysiging van beleid

  • Om Covid-19-inenting verpligtend te maak, sal die staat eers openbare deelname moet verkry deur 'n bykomende inskrywing op verpligte inentings in die Staatskoerant te notuleer.
  • Die staat sal dit nie maklik kan kry nie, want dit druis in teen menseregte van geloofsoortuigings en die reg op assosiasie (deelname).
  • Openbare skole se toelatingsbeleid sal moet verander voordat verpligte Covid-19-inenting ingestel kan word, en dit sal eers gepromulgeer en in die Staatskoerant gepubliseer moet word voordat dit wetgewing word.

Openbare skole vs. privaat skole

Openbare skole

  • Openbare skole het tans geen reg om kinders wat nie die inenting ontvang het nie, toegang te weier nie.
  • Die handves van regte stel dit duidelik dat geen kind geweier mag word as die nodige inentingsertifikate van verpligte inenting nie getoon kan word nie, en dit sal by implikasie ook vir Covid-19-inenting geld.
  • Die Departement van Basiese Onderwys het ’n verpligting op skoolhoofde geplaas om ouers in hierdie verband te adviseer en behulpsaam te wees.
  • Die kernbeginsel van “geen diskriminasie” op grond van geloof, geslag en kulturele oorweging sal te alle tye geld.
  • Dit sal ook geld ten opsigte van weiering van toelating tot onderwys. Die staat se verpligting om onderwys te verskaf aan alle kinders van Suid-Afrika soos omvat in die Nasionale Skolewet is ’n statutêre bepaling en verplig ouers om kinders in staat te stel om onderwys te ontvang.
  • Uiteraard word daar geen melding gemaak van Covid-19-inenting nie. Hierdie pandemie is uitsonderlik en geen wetgewing bepaal dat inenting verpligtend is nie.

Privaat skole

  • Privaat skole het die reg om hulle eie toelatingsvereistes te stel, maar die toelatingsvereistes moet steeds aan die Grondwet van Suid-Afrika voldoen.
  • Die reg op liggaamlike integriteit (beheer oor jou eie liggaam) word in artikel 12 van die Grondwet beskerm.
  • Voorts bied artikel 9(3) en (4) van die Grondwet beskerming teen diskriminasie op grond van onder meer godsdiens, gewete, oortuiging en kultuur.

    Billike prosedures

    • Skole, ongeag of dit openbaar of privaat is, sal ouers en kinders onder die ouderdom van 18 duidelik moet inlig oor die voor- en nadele van Covid-19-inenting, indien daar op inenting aangedring word.
    • Samesprekings (openbare deelname) en ’n behoorlike konsultasieproses sal eerstens gevolg moet word, en dit is afgesien van die beperkinge op regte van individue wat in die Grondwet geanker is.
    • Ouers en kinders sal enige dokumente ter ondertekening eers volledig moet bestudeer en verstaan voordat toestemming vir Covid-19-inenting gegee word.

    Opsommend

    • Openbare skole mag geen kind toelating weier omdat Covid-19-inenting nie gedoen is nie.
    • Die Grondwet beskerm die regte van kinders en ook van ouers om deel te neem of nie deel te neem nie aan enigiets wat nie ’n statutêre verpligting is nie.
    • Die besluit om inenting teen Covid-19 te kry vir toelating tot onderwys berus dan by ouers en kinders soos beskryf.
    • Alhoewel hoogs onwaarskynlik, is daar moontlik ’n onbeduidende aantal omstandighede waarin privaat skole inenting verpligtend kan maak indien hierdie skole nie inbreuk maak op die Grondwet van Suid-Afrika nie.

Sal die staat my op enige manier beperk as ek nie ingeënt is nie, soos bv. op vlugte ens?

Daar is tans geen wetgewing in Suid-Afrika wat mense uitdruklik verplig om die Covid-19-entstowwe te ontvang nie. Ons wil egter graag poog om die vraag van twee kante af te benader – eerstens wanneer die staat ’n rolspeler is en tweedens wanneer ’n privaat instansie, soos ’n lugredery, betrokke is.

Staat as rolspeler

  • As oppergesag van die land is die staat gebonde aan die Grondwet.
  • Hoofstuk 2 van die Grondwet verleen aan elke burger van die Republiek bepaalde fundamentele menseregte en die staat kan nie sonder meer op hierdie regte inbreuk maak nie.
  • Ons verwys spesifiek na die reg op menswaardigheid (art. 10), lewe (art. 11), liggaamlike en psigiese integriteit (art. 12(2)) en die reg op vryheid van godsdiens, oortuiging en mening (art. 15).
  • Dié en ander regte kan egter beperk word ingevolge artikel 36 van die Grondwet. Dié artikel bepaal soos volg:
    Beperking van regte
    36(1) Die regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens 'n algemeen geldende regsvoorskrif beperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in 'n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, met inagneming van alle tersaaklike faktore, met inbegrip van –
    (a) die aard van die reg;

    (b) die belangrikheid van die doel van die beperking; (c) die aard en omvang van die beperking;
    (d) die verband tussen die beperking en die doel daarvan; en
    (e) ’n minder beperkende wyse om die doel te bereik.
    (2) Behalwe soos in subartikel (1) of in enige ander bepaling van die Grondwet bepaal, mag geen regsvoorskrif enige reg wat in die Handves van Regte verskans is, beperk nie.
  • Die staat kan dus menseregte beperk deur middel van wetgewing wat deur die parlement aanvaar is.
  • Pres. Cyril Ramaphosa het egter op 1 Februarie 2021 in sy rede dit duidelik gestel dat die staat nie van enige persoon in Suid-Afrika sal vereis om die Covid-19-entstof te ontvang nie, dat die entstof nie teen hul wil aan enige persoon toegedien sal word nie en dat die entstowwe nie in die geheim toegedien sal word nie.
  • Die bevoegdheid van die staat om die inenting van mense deur middel van wetgewing af te dwing, blyk dus nie tans ’n oorweging te wees nie.
  • Die regering vra egter en moedig Suid-Afrikaners aan om ingeënt te word teen Covid-19.

Privaat instansie as rolspeler

Artikel 9(3) en (4) van Grondwet bepaal soos volg:

  • (3) Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.
  • (4) Geen persoon mag regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand op een of meer gronde ingevolge subartikel (3) diskrimineer nie. Nasionale wetgewing moet verorden word om onbillike diskriminasie te voorkom of te belet.

Uit hierdie artikels kan afgelei word dat daar nie regstreeks gediskrimineer mag word teen ’n persoon weens hul godsdiens of oortuiging om nie ingeënt te word nie.

Aangesien die staat nie inenting verpligtend maak nie, kan dit moontlik vir lugrederye moeilik regverdigbaar wees om inenting as ’n voorvereiste vir die gebruik van hul plaaslike dienste te stel.

Terselfdertyd het lugrederye ook sekere statutêre pligte rakende die inentingsvereistes van ander lande.

In die geval van internasionale reise kan lugrederye moontlik inenting vereis, afhangend daarvan of die land waarheen gereis word, inenting vereis.

Ten slotte, daar is nie tans enige vooruitsigte dat die staat jou op enige maniere gaan beperk as jy nie ingeënt is nie.

Ek is swanger. Kan ek met die Covid-19-entstof ingeënt word?

Tydens die aanvanklike entstof-implementeringsprogram, wat as 'n fase 3b-navorsingseksperiment uitgevoer word, is vroue wat swanger is, of beplan om binne die volgende drie maande swanger te raak, van die studie uitgesluit.

Daaropvolgende dosisse wat ontvang word en nie deel uitmaak van hierdie navorsingseksperiment nie, sal nie noodwendig hierdie uitsluitings hê nie.

Tans beveel sowel plaaslike as internasionale kundiges aan dat swanger vroue en vroue wat 'n hoë risiko loop om Covid-19 op te doen, of diegene wat 'n hoë risiko loop om ernstige infeksie op te doen, dit met hul eie geneesheer moet bespreek en 'n individuele, ingeligte besluit neem waarmee hulle gemaklik is. Die rede hiervoor is dat die risiko om die virus van moeder na kind oor te dra veel groter is as die risiko’s verbonde aan die entstof.

Ek is 'n gesondheidswerker. Hoe doen ek aansoek om die inenting te kry?

'n Elektroniese inentingsdatastelsel (EVDS) om teen Covid-19 ingeënt te word is vir die registrasie van gesondheidswerkers in Suid-Afrika ingestel. Alle gesondheidswerkers, hetsy in die openbare, privaat, kliniese of nié kliniese werkomgewing, wat ingeënt wil word, moet op daardie stelsel registreer, maar slegs gesondheidswerkers mag daarop registreer.

Gesondheidswerkers moet algemene inligting soos hul identiteitsnommer en name op die EVDS-stelsel registreer, sowel as inligting oor hul werkplekke.

Hierdie inligting word gebruik om hulle na 'n geregistreerde inentingspunt te verwys. Die EVDS-stelsel sal ook gebruik word om met die geregistreerde gesondheidswerkers te kommunikeer.

'n SMS, wat die datum, tyd en plek waarop die entstof beskikbaar sal wees, aandui sal aan geregistreerde gesondheidswerkers gestuur word. Wanneer hulle by die inentingsplek is, sal 'n unieke kode aan hulle gestuur word.

Gesondheidswerkers wat nie toegang het tot die internet nie, kan enige gesondheidsdiensfasiliteit nader vir bystand om op die EVDS-stelsel te registreer.

Toegang tot die EVDS-stelsel kan verkry word by http://vaccine.enroll.health.gov.za/

Navrae hieroor kan per e-pos gerig word aan die Departement van Gesondheid by evds.hcwselfregistration@health.gov.za en verdere inligting hieroor kan verkry word by die EVDS-selfregistrasieportaal by https://sacoronavirus.co.za/2021/01/27/evds-self-enrollment-portal-slideshow/. ’n Gebruikersgids met algemene instruksies oor die registrasieproses kan elektronies afgelaai word by Download the user manual.

Ek is 'n pensioenaris. Wanneer mag ek aansoek doen vir die inenting?

Ooreenkomstig die Covid-19-inentingsprogram sal die inentings in drie fases plaasvind en sal dit by die mees kwesbare persone in Suid-Afrika begin. Daar word beoog dat 67% van die mense in Suid-Afrika teen die einde van 2021 ingeënt sal wees, sodat kudde-immuniteit bereik kan word.

Die drie fases sal soos volg plaasvind:

  • Fase 1: Begin met die eerstelinie-gesondheidswerkers, wat daagliks blootgestel word aan mense met Covid-19, met ’n teiken van 1,25 miljoen mense.
  • Fase 2: Fokus op werkers in noodsaaklike dienste (2,5 miljoen mense), persone in afgebakende plekke, soos verpleeginrigtings, volwasse-sorgfasiliteite, skuilings vir haweloses, aanhoudingsinstellings en gevangenisse, en skole (1,1 miljoen mense), persone ouer as 60 jaar (5 miljoen mense) en persone ouer as 18 jaar met lewensbedreigende siektetoestande (teiken 8 miljoen mense).
  • Fase 3: Fokus op alle ander persone ouer as 18 jaar (teiken 22,5 miljoen mense).

Net soos dit tans die geval is met gesondheidswerkers, moet die mense in die groepe wat deur fases 2 en 3 gedek word, ook op 'n stelsel registreer en sal hulle aan 'n spesifieke inentingsplek toegewys word.

Alle persone wat ingeënt is, se besonderhede sal in 'n nasionale register aangeteken word en hulle sal van 'n inentingskaart voorsien word.

Die nasionale Departement van Gesondheid sal leiding gee en die bevolking in kennis stel watter groeperinge volgende kwalifiseer vir die entstowwe. Dit sal afhang van die beskikbaarheid van dosisse, asook die dekking van die vorige prioriteitsgroep.

Bejaardes sal tydens fase 2 van die nasionale uitrolprogram ingeënt word, dus ná gesondheidswerkers. Daar is tans geen aanduiding wanneer met fase 2 begin sal word nie.

Ek het reeds Covid-19 gehad. Moet ek nogtans ingeënt word?

Ja!

Daar is tans geen sekerheid oor hoe die sterkte en duur van beskerming deur natuurlike infeksie met dié van entstof-geïnduseerde immuniteit vergelyk nie, alhoewel entstowwe meer effektief blyk te wees.

Albei vorme sal heel waarskynlik nie permanent van aard wees nie, maar entstowwe kan 'n sterker immuunreaksie as natuurlike immuniteit genereer.

Entstowwe wat ná afloop van 'n primêre infeksie toegedien word, kan as 'n bykomende immuunversterker dien.

Die Suid-Afrikaanse ministeriële advieskomitee oor entstowwe beveel aan dat tussen 1 en 6 maande moet verloop voordat 'n entstof ná 'n vorige infeksie toegedien kan word.

Sommige instansies, soos die Centre for Disease Control and Prevention, beveel aan dat 'n individu sy risiko om weer die infeksie op te doen (wat onwaarskynlik is ná natuurlike infeksie, maar egter nie onmoontlik nie) binne 3 tot 6 maande moet opweeg en dus ander persone sonder vorige infeksies (en dus sonder enige beskerming) eerder die kans gun om die entstof te ontvang in die konteks van beperkte voorrade.

Dit word nie aanbeveel dat 'n individu die entstof ontvang wanneer die persoon nog in isolasie verkeer ná aktiewe infeksie nie.

Sal ek positief toets vir Covid-19 wanneer ek die inenting gekry het?

'n Entstof is 'n middel wat vir mense toegedien word en wat onaktiewe of verswakte dele van 'n bepaalde organisme (virus of bakterie) bevat om die mense se immuunstelsel te aktiveer om 'n biologiese bedreiging te identifiseer en om teenliggaampies te produseer om daardie bedreiging te neutraliseer en sodoende verworwe immuniteit teen die organisme op te bou. Die voortgesette produksie van hierdie teenliggaampies bepaal die effektiwiteit van 'n entstof.

Dit is nie moontlik om deur die entstof geïnfekteer te raak nie. Die AstraZeneca-, Johnson & Johnson-, Pfizer- en Moderna-entstowwe bevat geen regte SARS-CoV-2-virus (die virus wat Covid-19 veroorsaak) nie, ook geen dele van die regte virus nie.

Hierdie entstowwe bevat slegs die genetiese resep vir een van die virus se proteïne.

Dit is egter onmoontlik om 'n hele virus van slegs 'n enkele proteïen te bou. Dit is soos om te probeer om 'n motor te bou wanneer jy slegs die syspieël het. Indien 'n individu Covid-19 ontwikkel in die dae wat op inenting volg, sal dit beteken dat die persoon reeds geïnfekteer was en in die inkubasietydperk verkeer het (die tydperk vanaf wanneer 'n persoon geïnfekteer is en wanneer die eerste simptome begin verskyn).

Inenting sal ook nie veroorsaak dat laboratorium-PCR-toetse of antigeen- of teenliggaamtoetse positief is nie.

Entstof voorkom siektes – dit veroorsaak dit nie!

Het Covid-19-entstowwe newe-effekte?

Wanneer newe-effekte ter sprake kom, moet daar onderskei word tussen die verwagte newe-effekte gebaseer op die werking van die entstof, en die newe-effekte wat onverwags en ernstig is.

Wanneer die liggaam 'n immuunreaksie het, word chemikalieë vrygestel om teen die virus te baklei en dit veroorsaak simptome soos moegheid, koors en spierpyn.

Omdat entstowwe natuurlike infeksies namaak en die immuunstelsel fnuik om te dink dat infeksie ingetree het, is die immuunreaksie, en dus ook die simptome, dieselfde. Omrede dit nie die regte virus is nie, is die simptome egter gewoonlik matiger en verbeter dit binne 'n korter tydperk (gewoonlik 24- tot 48 uur).

Die pyn wat tydens inenting ervaar word, kom algemeen voor, maar is nie uniek tot die Covid-19 entstof nie. Dit is geen rede tot kommer nie, want dit is normaal terwyl die liggaam leer hoe om die vreemde indringer te beveg.

Ander simptome wat ervaar kan word, is spierpyn, verhoogde liggaamstemperatuur, moegheid en hoofpyn. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie simptome die gevolg is van die liggaam se immuunstelsel wat reageer en beskerming opbou vir in geval die liggaam in die toekoms aan die virus blootgestel sou word.

Wat betref onverwagse, hewige reaksies wat mediese behandeling verg, of die dood veroorsaak, is Covid-19 entstowwe baie veilig en sulke simptome baie raar.

Dit is belangrik om te weet wat die verskil tussen 'n nadelige gebeurtenis en 'n teenreaksie is. Enige ongemaklike of onverwagse reaksie wat 'n persoon in die tydperk ná inenting ondervind, word as 'n nadelige gebeurtenis aangemeld sodat dit ondersoek kan word. Dit beteken nie dat die entstof die oorsaak was nie, maar slegs dat dit terselfdertyd as die inenting gebeur het.

'n Paneel van deskundiges ondersoek nadelige gebeurtenisse om die oorsake te bepaal. Indien daar bewyse is dat daar 'n verbintenis is tussen die entstof en die nadelige gebeurtenis, word dit as 'n teenreaksie geklassifiseer.

Daar sal altyd nadelige gevolge wees ná die toediening van 'n entstof, want die lewe gaan voort en dinge gebeur met mense (byvoorbeeld ongelukke, beserings, ander siektes, ens.). Ons moet dus slegs besorg wees oor hewige teenreaksies, aangesien hierdie reaksies direk met die entstof verbind kan word.

Allergieë

  • Die ergste negatiewe gevolge wat ondervind word deur die toediening van die Covid-19-entstof, is ’n allergiese reaksie by mense wat allergies is vir van die bestanddele wat in die Covid-19-entstowwe gebruik word.
  • Hipersensitiwiteit is skaars en kom tipies slegs voor by mense met 'n geskiedenis van allergieë, en dit gebeur binne 15 minute ná toediening van die entstof. Volgens die CDC is die voorkoms van sodanige allergiese reaksies egter baie laag, sowat 1 uit elke 6 miljoen doserings.

Daar word aanbeveel dat mense hul vrae en bekommernisse oor allergiese reaksies (en enige ander mediese vrae en bekommernisse) met hul dokters moet bespreek. Die dokters kan bepaal of die voordele van die inenting swaarder weeg as enige risiko’s daaraan verbonde.

Depressie, eensaamheid en 'n ongesonde lewenswyse kan die liggaam se immuunstelsel verswak en die effektiwiteit van sekere entstowwe verlaag, en dit is ook die geval met Covid-19-entstowwe. Hierdie negatiewe effek kan egter verminder word deur eenvoudige stappe te doen, soos die navolging van 'n gesonder lewenstyl, oefening en slaap.

Watter entstof is die beste en kan ek kies?

Die belangrikste doel van 'n entstof is om te verhoed dat ons ernstig siek word of sterf as gevolg van die virus. Indien ons Covid-19 kan verander in 'n infeksie soortgelyk aan 'n gewone verkoue, kan die lewe, soos dit vantevore was, voortgaan.

Al die goedgekeurde entstowwe is hoogs doeltreffend om ernstige infeksie en dood te verhoed en dus by te dra tot die beëindiging van die pandemie.

Die hoeveelheid mense wat die entstof ontvang, is selfs belangriker as watter entstof toegedien word. Selfs 'n entstof wat 100% effektief is, maar slegs aan 'n klein hoeveelheid mense toegedien word, sal nie baie help nie.

Dit is waarskynlik dat daar vir 'n geruime tyd nie 'n verskeidenheid van entstowwe tegelyk beskikbaar gaan wees nie.

Watter entstof 'n persoon gaan ontvang, gaan dus afhang van watter entstof/stowwe op daardie gegewe tydstip beskikbaar is en/of watter aanbevelings beskikbaar is vir die gebruik van sekere entstowwe vir sekere subgroepe van die bevolking.

Verdere variante van die Covid-19-virus kan egter ander entstowwe of toediening van entstowwe vereis.

In die woorde van E. John Wherry, 'n immunoloog van die Universiteit van Pennsilvanië: “Die entstof wat aangebied word, is die entstof wat jy wil hê.”

Dit gaan nie nou oor entstof teen entstof nie, maar oor entstof teen die virus.

Is daar ’n mikroskyfie in die entstof?

Gerugte word versprei dat entstowwe “mikroskyfies” bevat wat dit moontlik maak om alle bewegings van mense te monitor of na te spoor.

Daar is geen mikroskyfie in enige entstof nie en daar is geen bewyse om enige bewerings in dié verband te staaf nie.

Die ontvangs van ’n entstof kan niemand in staat stel om mense te volg nie.

Entstowwe gaan deur streng kliniese toetse deur die vervaardigers daarvan en die regerings van die lande waar dit ontwikkel word, sowel as in Suid-Afrika deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra). Indien daar enige mikroskyfie in enige entstof is, sal dit nooit deur Sahpra vir gebruik goedgekeur word nie.

Kan die entstof my DNS verander?

Die Covid-19 entstowwe dring nie jou DNS binne nie.

Entstowwe soos Pfizer en Moderna maak gebruik van mRNA, wat verwant aan, maar verskillend is van DNS.

Om jou DNS binne te dring, moet die mRNA die sel se nukleus binnedring en dan van mRNA na DNS verander.

mRNA kan nie tot binne die sel se nukleus vervoer word nie en die mens het nie die nodige ensieme om mRNA na DNS om te skakel nie.

Sal die inenting regtig kudde-immuniteit bevorder? Daar is dan soveel variante?

Ja, mits die entstof genoegsaam effektief is teen die koronavirus en al die variante daarvan.

Kudde-immuniteit word bereik wanneer ’n voldoende aantal mense in ’n gemeenskap ingeënt is teen ’n siekte of die siekte reeds gehad het.

Kudde-immuniteit beteken nie noodwendig dat die m ense wat reeds ingeënt is of wat reeds geïnfekteer was, immuun is nie, maar dit beteken dat persone wat nie immuun is nie, in ’n gemeenskap woon waar soveel mense immuun is dat mense wat nie immuun is nie, veel groter beskerming geniet om die virus te kry as in ’n gemeenskap waar veel minder mense immuun is.

Die effektiwiteit van entstowwe om simptomatiese COVID-19 infeksie te voorkom, word op twee vlakke gemeet – eerstens tot watter mate dit ligte tot matige infeksie voorkom, en tot watter mate dit ernstige infeksie (hospitalisasie en dood) voorkom.

Dit is belangrik om te verstaan dat 'n variant nie dieselfde impak op hierdie twee vlakke het nie. 'n Afname in effektiwiteit word gewoonlik die meeste by matige infeksie opgemerk, terwyl dit relatief effektief bly teen ernstige infeksie. Daar is byvoorbeeld bewyse dat die Johnson & Johnson-entstof 57% effektief is om ligte en matige infeksie te voorkom, maar 85% effektief om ernstige infeksie te voorkom en 100% om die dood te verhoed.

Die beskerming wat 'n entstof bied, is afhanklik van hoe goed die immuungeheue wat gestoor is, aangewend kan word ná inenting. Die mate waartoe die immuunstelsel beskerming kan bied, hang af van hoe eenders die proteïen/e van die regte virus is teenoor die proteïen/e wat in die entstof gebruik is. Indien die aantal en tipe mutasies in die virus se DNS-reeks die proteïen tot 'n groot mate verander, sal die immuunstelsel dit nie so effektief kan herken en daarteen baklei nie, omdat dit té verskillend lyk.

As 'n entstof nie effektief teen die variant is nie of as 'n nuwe variant te voorskyn kom ná inenting, sal 'n effektiewe entstof teen daardie variant ontwikkel en toegedien moet word om 'n nuwe kudde-immuniteit teen daardie variant te ontwikkel.

Moet ek steeds ingeënt word as ek ivermektien gebruik?

Ja, vir seker.

Daar is veel meer data wat betref die effektiwiteit en veiligheid van die Covid-19-entstowwe beskikbaar as ten opsigte van ivermektien om Covid-19 te voorkom.

Die publiek moet onthou dat alhoewel ivermektien in ander lande vir sekere siektes gebruik word, hoëkwaliteitstudies met betrekking tot die veiligheid van en effektiwiteit vir sowel die voorkoming as die behandeling van Covid-19 steeds aan die gang is en ons verwag dus mettertyd meer geloofwaardige antwoorde op hierdie vrae.

Met inagneming van die feit dat mense ’n vrye keuse het om die entstof te ontvang of nie, is die gebruik van ivermektien nie voldoende om Covid-19 te keer nie en moet die Covid-19-entstof steeds ontvang word.

Alhoewel die beheerde gebruik van ivermektien deur SAHPRA goedgekeur is, is dit nie ’n plaasvervanger vir die Covid-19-entstof nie. SAHPRA het onderneem om riglyne uit te reik vir die menslike gebruik van ivermektien vir Covid-19, en hierdie riglyne word afgewag.

Betaal my mediese skema vir die inenting?

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Mediese Skemas het die Covid-19-entstof by die lys van voorgeskrewe minimum voordele (VMV) gevoeg.

Dit beteken dat die entstof en die toedien daarvan op alle mediese skema-opsies vir alle bevoordeeldes befonds moet word.

Sommige mediese skemas het so ver gegaan om te onderneem om vir elke lid van die mediese skema wat ingeënt word, 'n persoon sonder 'n mediese skema teen Covid-19 in te ent.

Mediese skemas betaal normaalweg slegs in 'n noodgeval vir VMV’s wat deur 'n mediese praktisyn wat nie op daardie skema se lys van aangewese praktisyns verskyn nie gelewer word. Covid-19-inentings sal egter slegs deur geakkrediteerde inentingsentrums toegedien mag word. Mediese skemas sal dus waarskynlik almal met hul gesondheidsorgverskaffersnetwerke, wat vir akkreditasie en registrasie sal kwalifiseer, onderhandel om hul lede in te ent.

Dit is raadsaam vir lede van mediese skemas om, voordat hulle inenting ontvang, seker te maak dat hul mediese skema daarvoor betaal, en dit is belangrik vir lede van mediese skemas om seker te maak dat hulle by die korrekte inentingsentrum, soos goedgekeur deur hul mediese skema, ingeënt word.

Ek behoort aan 'n mediese skema. Kan my dokter my inent?

Tans die laat NDOG slegs sekere gesondheidsorgfasiliteite toe om Covid-19-entstowwe toe te dien.

Dit sal uitgebrei word sodra voorraad toeneem en aankoop- en verspreidingskanale bevestig is.

Daar word voorsien dat algemene praktisyns wel die entstowwe sal kan toedien tydens latere fases van die uitrolprogram,

Pasiënte moet egter seker maak dat die fasiliteit waar hulle hul entstof ontvang, oor die nodige kliniese kundigheid en toerusting beskik om pasiënte te monitor en te bestuur nadat hulle die entstof ontvang het.

Dit is egter ook raadsaam om, voordat jy die inenting by jou dokter ontvang, seker te maak dat jou mediese skema daarvoor betaal, en dat jou dokter ook by die mediese skema goedgekeur is om VMV’s, soos die Covid-19-entstof, toe te dien.

Hoeveel keer moet ek ingeënt word?

Dit sal afhang van die entstof wat toegedien word.

Die Johnson & Johnson-entstof is 'n enkeldosis, terwyl die meeste van die ander, soos die Pfizer-, AstraZeneca-, Moderna- en Sputnik V-entstof 'n tweede toediening 'n paar weke ná die eerste toediening vereis.

Hierdie voorskrifte mag verander namate verdere navorsing gedoen word ten opsigte van watter metode die beste en mees langdurige immuunbeskerming bied.

As daar egter ’n nuwe variant van die Covid-19-virus na vore sou kom nadat jy ingeënt is, ongeag met watter entstof, en die entstof waarmee jy ingeënt is, is nie effektief teen daardie nuwe variant nie, sal jy ingeënt moet word teen die nuwe variant daarvan sodra daar ’n effektiewe entstof daarteen ontwikkel is.

Wetenskaplikes ondersoek reeds die moontlikheid om van die entstowwe met mekaar te meng om dus die eerste dosis van die een en die tweede dosis van ‘n ander toe te dien.

MEER OOR DIE Entstof Adviesraad

Anton van der Bijl

Solidariteit
Hoof: Arbeidsreg Dienste
Lees meer hier

Dr. H du Plooy

Intercare Irene
Algemene Praktisyn
Lees meer hier

Adv. Hanlie van Vuuren

Solidariteit
Hoof: Beroepsgesondheid
en -veiligheid
Lees meer hier

Theresa Nel

Arrie Nel Apteek, Die Wilgers
Apteker
Lees meer hier

Adv. Paul Mardon

Solidariteit
Adjunk Hoofsekretaris:
Strategie en Volhoubaarheid
Lees meer hier

Prev 1 of 3 Next
Prev 1 of 3 Next

Korona Registrasie

Registreer

BV *
Klik hier vir Bepalings en voorwaardes

Korona Registrasie

Registreer

BV *
Klik hier vir Bepalings en voorwaardes