Gesigsmaskers – die wapen teen Covid-19
Wednesday | 06 May | 2020Deur Wilma Bedford
Maskers gaan nou deel wees van ons daaglikse mondering.
Maskers is eeue-oud en het gedien as afskrikmiddel vir bose geeste, in oorlogvoering om vrees by die vyand in te boesem, en in die uitvoerende kunste om die identiteit van 'n karakter uit te beeld. Seker die bekendste, veral op laasgenoemde gebied, is die twee maskers wat saam gebruik word en wat smart en geluk uitbeeld. Internasionaal is Sjina bekend vir die groot draakmasker wat met die Sjinese nuwejaar geparadeer word en wat, ironies in hierdie tyd, 'n simbool van voorspoed en welvaart is.
Die mond- en neusmasker dra ook moderne simboliek. Sedert die 1890’s word hierdie masker gebruik as beskerming teen kieme, daarna het dit 'n simbool van solidariteit geword teen sosiale misdrywe, soos die stilswye oor verkragtings en vir aborsie-aktiviste. Die masker het al sy verskyning op modehuise se loopplanke gemaak en gaan vir seker van nou af ook status, politieke affiliasie of 'n sosiale probleem simboliseer.
Tans simboliseer die masker solidariteit met die bestryding van 'n onsigbare vyand, en 'n burgerlike plig. Maar omdat dit ook daagliks gedra word, gaan dit ook die gesogste mode-bykomstigheid wees en ook 'n subtiele boodskap aan die wêreld uitstuur. Omdat die laer gedeelte van die gesig verberg word en die oë soms agter 'n donkerbril skuil, word die tekens van 'n persoon se karakter ook verberg en gaan die masker die eerste aanduiding van die persoon wees. Jou masker kan die wit mediese masker wees wat erns en solidariteit en 'n kollektiewe vrees weerspieël, die potloodstrepie wat beroepskundigheid uitsend, of die denim een wat jou persoonlikheid en gemoed uitstraal. Hoe dit ook al sy, na 'n jaar se verpligte dra van die masker sal dit dieselfde waarde as ander noodsaaklike bykomstighede hê, soos die sonbril wat ons daagliks opsit of die pen wat ons onbewustelik in ons bo-sak steek – dit sal deel uitmaak van ons daaglikse kleredragkode.
Hoekom is die dra van maskers verpligtend? Om ander teen jou en jou teen ander te beskerm. Daar is bevind dat 25% van geïnfekteerde mense nie weet dat hulle geïnfekteer is nie omdat hulle gesond voel en in werklikheid aansteeklik is – jy kan een van daardie mense wees! Jou masker beskerm nie net teen jou uitgaande besmetting nie maar ook teen inkomende besmetting.
Omdat sjirurgiese maskers buite die beskikbare bereik van baie mense is, wend mense hulle tot die tuisvervaardigde masker en in baie gevalle het dit uitgebrei na 'n winsgewende tuisnywerheid, maar dit is van die uiterste belang dat die regte materiaal gebruik word in die vervaardiging daarvan. As mens in gedagte hou dat die koronavirus 'n omtrek van tussen 60 en 140 nanometers het, is dit raadsaam om materiaal te gebruik wat die beste filtrasievermoë het, derhalwe sal die hersirkuleerde verslete T-hempie nie 'n goeie keuse wees nie, hoewel enige beskerming beter is as geen beskerming nie. Hou die materiaal teen die lig en indien die vesels sigbaar is, is die materiaal nie dik genoeg geweef vir 'n effektiewe masker nie. Maak die masker van 'n dubbele laag materiaal.
Hoewel daar voorstelle is dat koffiefilters en selfs stofsuierfilters as 'n buitelaag gebruik kan word, is beide nie 'n goeie idee nie; een sal jou laat versmoor en die ander mag glasveselstof bevat wat uiters nadelig is. Hoe nou gemaak? Gebruik broekiekousmateriaal.
Onlangse navorsing aan die Northwestern Universiteit, Boston, Massachusetts, het bevind dat die gebruik van nylon-broekiekouse as 'n tussenlaag of as 'n oortreksel vir 'n masker 15-50% meer effektiewe filtrasie bied as 'n gewone materiaalmasker en dat wanneer die broekiekous as oortreksel oor 'n sjirurgiese masker gebruik word, laasgenoemde masker 75-90% effektiewer is.
Om veilig te wees, veral as jy skoolgaande kinders het, is om tot vyf stelle maskers per persoon te hê ideaal. Daar kan nog nie met sekerheid vasgestel word hoe lank die virus aktief op klere en dus op 'n masker is nie, maar daar word bespiegel dat dit wel tot twaalf ure kan wees. Was jou masker met seep en water en waar moontlik hang dit in die son om droog te word. Die virus blyk onaktief te raak by 30ºC. Roteer jou masker elke dag.
Dra jou masker, was jou hande en wees veilig.
Bronne:
History of Surgical Face Masks
Spooner, J. 1967. Aorn Journal. http://www.aornjournal.onlinelibrary.wiley.com
Should Masks be a Fashion Statement? Friedman, V. April 22, 2020. New York Times. https://www.nytimes.com
Nanoshel
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: