Hoekom onafhanklike finansiële advies?
Monday | 06 April | 2020Daar is deur die loop van die laaste paar weke geweldige skuiwe op wêreld markte en die Suid-Afrikaanse aandele beurs. Hoogte punte wat in die media bespreek word sluit in die effek van Corona 19, die petrol prys oorlog en natuurlik die nasionale ‘’Lockdown’’.
Al die onsekerheid lei ons na die vraag, wat moet ons nou doen?
In ons vorige skrywe het ons gepraat oor begrotings en dat 'n begroting die grondslag van enige finansiële beplanning is. Die volgende stap behels drie vrae wat elke persoon moet stel wanneer dit by finansiële beplanning kom:
- Wat gebeur as ek aftree?
- Wat gebeur as ek die vermoë verloor om 'n inkomste te genereer?
- Waar kan ek die regte advies inwin vir my behoeftes?
Wat gebeur as ek aftree?
Die vooruitsig van aftrede is 'n realiteit wat ons almal in die gesig staar. Die eerste dag wat ons met ons werksloopbaan begin, word ons blootgestel aan produkte soos 'n pensioenfonds en 'n voorsorgfonds.
Soos wat ons werksloopbaan vorder, ontstaan die behoefte om addisionele voorsiening te maak vir ons oudag. Ons soek graag 'n beleggingsvoertuig wat vir ons 'n belastingvoordeel kan bied en goeie opsies kan gee vir groei teen 'n lae koste. Verder moet ons in beheer kan wees van die bydraes tot die beleggingsvoertuig. Dus maak ons kennis met 'n aftree-annuïteit.
Die drie beleggingsvoertuie vorm die basis van die aftreeprodukte tot ons beskikking, waar ons 'n belastingvoordeel kan geniet. Volgens wet kan ons tot 27,5% van ons bruto inkomste of vergoeding na die voertuie spaar, tot 'n maksimum van R350 000 vir die belastingjaar, om vir hierdie belastingvoordeel te kwalifiseer.
Voor ons ons oë kan uitvee, is ons verby die ouderdom van 55 en is aftrede om die draai. Dit is die laaste paar jaar voor aftrede, en dan ontstaan die belangrikste vraag tot dusver: Het ek genoeg gespaar vir my oudag?
Wat gebeur as ek die vermoë verloor om 'n inkomste te genereer?
Die grootste bate wat ons as werknemers het, is ons vermoë om 'n inkomste te genereer. As ons die vermoë verloor weens 'n gebeurtenis soos ongeskiktheid kan ons nie ons eie begroting finansier nie. Maar tog bly inkomstebeskerming een van die mees onderverkoopte produkte in die mark.
Die hoofdoel van inkomstebeskerming is om die risiko van ons as werknemers te skuif na 'n versekeringsmaatskappy. Dus, as ons die vermoë verloor om 'n inkomste te kan verdien weens siekte of 'n besering, tree die versekeringsmaatskappy in om ons versekerde bedrag op 'n maandelikse grondslag uit te betaal.
Dit kan gebeur dat ons onsself oorverseker deur 'n inkomstebeskermingsvoordeel by die werk te hê en dan ook ons eie inkomstebeskerming in plek te sit by 'n eksterne lewensversekeraar. Dus, as ons ongeskik verklaar sou word vir werk, kom die twee lewensversekeraars bymekaar en sit die voordele saam.
Waar kan ek die regte advies inwin vir my behoeftes?
Dit bring ons dus by die laaste vraag. Ons almal se finansiële behoeftes verskil en die advies om die behoeftes aan te pak moet relevant wees tot ons huidige finansiële posisie. Om 'n onafhanklike adviseur oor ons behoeftes te spreek is die ideaal. Aangesien die adviseurs toegang het tot meer as een produkverskaffer kan hulle vir kliënte meer opsies op die tafel plaas.
Solidariteit bied deur SFD (Solidariteit Finansiële Dienste) onafhanklike advies oor behoeftes soos aftreebeplanning, inkomstebeskerming en boedelbeplanning. Vir meer inligting, kontak ons by advies@sfdienste.co.za
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: