Internasionale Verslag – 23 Junie 2020
Tuesday | 23 June | 2020Hier is vandag se internasionale nuusbrokkies oor die koronapandemie:
- Byna 9,2 miljoen mense wêreldwyd het tot dusver COVID-19 opgedoen. Byna 480 000 mense is reeds weens die siekte oorlede. Dit is 0,006% van die wêreldbevolking. Die meeste gevalle is steeds in die VSA, gevolg deur Brasilië, Rusland en Indië. Dit is egter steeds belangrik om bevolkingsgrootte in ag te neem, sowel as die korrektheid van data (soos watter sterftes in verskillende lande aan COVID-19 toegeskryf word) en die mate waartoe die virus reeds in ‘n land versprei het. Die per capita sterftes weens COVID-19 is ‘n goeie aanduider van watter lande erg deur die siekte geraak is, hoewel dit ook bly verander soos wat die verspreiding na ander wêrelddele versprei. Die owerhede in Swede het verlede week bevestig dat hulle oortuig is dat die ergste in dié land oor is en dat ‘n groot deel van die bevolking reeds immuun teen die virus is en dat Swede dus stelselmatig sal terugsak op die lys van lande wat die hoogste per capita sterftes het. België het steeds die hoogste per capita sterftes, gevolg deur die VK, Spanje, Italië, Swede, Frankryk en die VSA.
Grafika: Statista
- Die VSA het nou meer as 120 000 sterftes weens COVID-19 aangemeld. Maandag is 425 sterftes aangemeld wat steeds ‘n afname in sterftes is. Terwyl die aantal daaglikse sterftes in die VSA afneem, is daar steeds ‘n skerp toename in gevalle van mense wat met die koronavirus gediagnoseer word. Dit is veral nou onder jonger mense wat die virus versprei soos wat strande, parke, restaurante en kroeë heropen. Meer as 2,3 miljoen Amerikaners het tot dusver die virus opgedoen. Sowat 20% van alle nuwe daaglikse gevalle in die wêreld word tans in die VSA aangemeld en een rede hiervoor is dat die VSA baie meer toetse as enige ander land uitvoer. Oor die naweek het 22 Amerikaanse deelstate ‘n toename in nuwe gevalle ervaar.
- Die Trump-administrasie het intussen aangekondig dat die verbod op nuwe werksvisums tot die einde van 2020 verleng sal word. Die persone wat hierdeur geraak word sluit in seisoenale werkers, werkers met spesifieke vaardighede, persone wat binne globale maatskappy na ‘n afdeling in die VSA oorgeplaas word en akademici en navorsers. Geen nuwe werksvisums sal tot die einde van 2020 vir hierdie kategorieë van buitelanders wat in die VSA wil werk uitgereik word nie.
- Brasilië het nou slegs die tweede land geword met meer as 1 miljoen bevestigde gevalle van die koronavirus. Meer as 20 000 mense is Maandag positief vir die virus in Brasilië getoets. Die dodetal in Brasilië het Maandag van 50 617 tot 51 271 gestyg wat ook die tweede meeste in die wêreld is.
- Mexiko het Maandag 4 577 nuwe gevalle aangemeld met die totale gevalle wat tot 185 122 gestyg het. Daar is Maandag 759 persone in Mexiko aan COVID-19 oorlede wat die dodetal in dié land tot 22 584 laat styg het.
- Nederland het gister vir die eerste keer sedert 9 Maart geen nuwe sterftes weens COVID-19 aangemeld nie. Nederland is een van die lande in die wêreld wat die meeste sterftes per capita aangemeld het en die digbevolkte aard van dié land het grootliks daartoe bygedra. Tot dusver het sowat 50 000 mense in Nederland die siekte opgedoen en is net meer as 6 000 mense aan COVID-19 oorlede. Die meeste inperkingsmaatreëls in Nederland is reeds uitgefaseer met slegs maatreëls oor die grootte van groepe wat bymekaar mag kom, fisiese afstande en higiëne wat steeds geld.
- Die Verenigde Nasies het gister gewaarsku dat die koronapandemie onderwys aan nog meer kinders gaan ontneem. Volgens die VN het 258 miljoen kinders wêreldwyd verlede jaar geen toegang tot onderwys gehad nie. Volgens die VN het verskeie gesondheid krisisse die afgelope paar jaar tot ‘n skerp toename in hierdie getal veral in Afrika en dele van Asië aanleiding gegee. Hulle verwag dat die koronapandemie die probleem wesenlik gaan vererger.
- ‘n Span van die Colombia Universiteit in die VSA het gister hulle jaarlikse voorspelling vir die armoedekoers in dié land bekend gemaak. Daar word verwag dat die persentasie Amerikaners wat in armoede leef van 12,5% voor die koronapandemie tot 12,7% gaan styg. Dit is ‘n baie klein styging en die navorsers skryf die kleiner as verwagte styging toe aan die groot hulpprogramme wat die afgelope tyd deur die Amerikaanse Kongres goedgekeur is.
Dit het meegebring dat persone wat hulle werk verloor het, steeds ‘n inkomste bly verdien. Volgens die navorsingspan sou 12 miljoen Amerikaners addisioneel in armoede verval het, was dit nie vir die eenmalige tjeks wat in Maart aan alle Amerikaners gestuur is en die uitgebreide werkloosheidsvoordele wat deur die kongres goedgekeur is nie. Die volgende grafiek wys die persentasie persone volgens ras wat in armoede leef in vergelyking met die syfer wat in armoede sou leef sou die Amerikaanse kongres nie wetgewing in Maart goedgekeur het om werkloses te ondersteun nie:
- Heelwat belangrike ekonomiese data wat die mate van herstel in die wêreld se belangrikste ekonomieë sal aantoon, word nog hierdie week bekend gestel. Opnames van aankoopbestuurders in Asië, Europa en die VSA word later vandag bekend gemaak. Daar word verwag dat hierdie data in Junie sou begin stabiliseer het omdat produksie in die meeste wêrelddele grootliks hervat het. Donderdag word produksiedata in die VSA bekend gemaak en veral die vraag na luukse goedere sal ‘n aanduider wees of verbruikersvertroue weer begin toeneem het. Daar word verwag dat dié vraag nog vir lank laag sal bly. Verlede week se getal nuwe werkloosheidsaansoeke in die VSA word ook Donderdag bekend gemaak en daar word vir ‘n redelike skerp afname gehoop. Vrydag sal Japan se inflasiesyfer vir Mei bekend gemaak word en daar word steeds ‘n baie lae syfer verwag. Japan het gedurende die vorige paar maande deflasie ervaar. Die Japanese owerhede verwag wel inflasie van 0,1% in Junie weens die gedeeltelike ekonomiese herstel die afgelope weke. Data oor verbruikersbesteding in die VSA vir Mei sal ook Vrydag bekend gemaak word.
- Navorsing deur die Wall Street Journal in die VSA dui daarop dat die koronapandemie ‘n langtermyn negatiewe effek op globalisering en globale handel sal hê.
In dié ondersoek wat onder verskeie globale maatskappye gedoen is, word verwag dat die versteuring in globale voorsieningskettings toenemend gaan bydra tot plaaslike produksie van onderdele. Voorbeelde hiervan is reeds in die gesondheidsektor duidelik met verskeie lande soos die VSA en Frankryk wat beplan om meer mediese toerusting plaaslik te vervaardig. Heelwat maatskappye wat ernstig geraak is deur die weerloosheid van multinasionale produksienetwerke oorweeg nou om groter beheer oor die produksie van onderdele, wat baie keer uit ander lande ingevoer is, te kry. Een voorbeeld is die Amerikaanse enjinvervaardiger Cummins wat tans 125 fabrieke in 27 lande het. Die maatskappy sê handelsoorloë, natuurrampe en siektes plaas hulle globale voorsieningsketting onder groot druk en dat die maatskappy sy eie produksienetwerk hersien. Cummins voorsien om in die toekoms minder afhanklik van globale voorsieningskettings te wees. Verskeie lande is ook reeds besig om sekere ekonomiese aktiwiteit as noodsaaklik vir nasionale sekuriteit te klassifiseer wat sal beteken dat meer produkte en dienste noodgedwonge plaaslik vervaardig sal moet word.
Die Wêreldbank het onlangs gewaarsku dat dit veral lae-inkomste lande is wat die hardste deur die versteuring in globale voorsieningskettings en internasionale handel geraak gaan word. Die regterkantste grafiek wys die omvang van globale handel oor die afgelope 150 jaar en hoe pandemies, oorloë en ander krisisse dit geraak het. Grafika: Wall Street Journal

Foto krediet: