Internasionale Verslag – 24 Junie 2020
Wednesday | 24 June | 2020Hier is vandag se internasionale nuusbrokkies oor die koronapandemie:
- Data uit verskillende wêrelddele wys toenemend op ‘n stewige ekonomiese herstel nadat produksie sedert Mei in die grootste ekonomieë na normaal begin terugkeer het. Opnames van aankoopbestuurders wat deur die datafirma IHS Markit saamgestel is, toon ‘n skerp toename in ekonomiese aktiwiteit. Die Duitse bank Berenberg het sy groeiverwagting vir die Amerikaanse ekonomie vir 2020 tot minus 4,1% aangepas wat heelwat beter is as die 6,1% negatiewe groei wat nog ‘n maand gelede vir die Amerikaanse ekonomie voorspel is. Verskeie ander instellings verwag nou ‘n V-vormige, redelike vinnige ekonomiese herstel in die wêreld se grootste ekonomie. Berenberg het ook sy groeivooruitskatting vir die Eurosone van negatiewe groei van 9,6% vir 2020 tot 9% aangepas.
Grafika: Wall Street Journal
- Daar is steeds ‘n kommerwekkende toename van persone wat die koronavirus opdoen in verskeie Amerikaanse deelstate met die totale nuwe daaglikse gevalle wat bly styg. Gister (Dinsdag) is nuwe daaglikse rekords in Arizona, Texas en Kalifornië aangemeld. Die twee Amerikaanse deelstate met die grootste bevolkings, Texas en Kalifornië, het gister elk meer as 5 000 nuwe infeksies gerapporteer. Die goewerneurs van verskeie deelstate het ‘n ernstige beroep op mense gedoen om maskers te dra en veilige fisiese afstande te handhaaf. Die daaglikse sterftesyfer in die VSA neem egter steeds af, veral omdat ‘n groot deel van nuwe besmettings in die VSA onder jonger mense voorkom.
Hierdie grafieke toon die skerp toename in nuwe gevalle wat in die VSA aangemeld word en die daling in sterftes. Grafika: Wall Street Journal
- Die Amerikaanse kenner van aansteeklike siektes en raadgewer vir President Donald Trump, Dr. Anthony Fauci, het gister voor ‘n komitee van die Huis van Verteenwoordigers getuig. In sy getuienis het hy gesê dat die VSA baie hard deur die koronapandemie getref is en dat die huidige toename in gevalle kommerwekkend is. Hy is egter oortuig daarvan dat dit nie nodig sal wees om hernude skerp inperkingsmaatreëls in te stel nie. Verder het hy gesê dat dit steeds moontlik is dat ‘n entstof teen die virus teen die einde van die jaar beskikbaar kan wees. In ondervraging deur lede van die komitee het hy bevestig dat die VSA se toetskapasiteit steeds uitbrei en dat die Withuis nie beplan om minder mense vir die virus te laat toets nie.
- Latyns-Amerika is steeds die streek met die grootste toename in nuwe gevalle in die wêreld. Meer as twee miljoen mense in dié streek het nou reeds die virus opgedoen met meer as 100 000 mense wat weens COVID-19 dood is. Die streek, met meer as 30 lande van die Rio Grande in die noorde tot Tierra del Fuego in die suide, het 8% van die wêreldbevolking, maar is verantwoordelik vir 47% van die globale sterftes weens COVID-19 die afgelope twee weke. Daar word verwag dat die pandemie tot ‘n skerp toename in armoede in die gebied gaan lei met 10 miljoen mense in Mexiko wat teen einde Junie in armoede sal verval. Die sentrale bank in Peru, een van die lande wat die hardste deur die pandemie geraak word, verwag dat 2,5 miljoen mense in dié land in armoede gaan verval. Owerhede in verskeie Latyns-Amerikaanse lande sê ook dat miljoene meer mense waarskynlik reeds die virus onder lede het omdat toetskapasiteit uiters beperk is. Uit die tien lande met die grootste bevolkings in die wêreld is die minste toetse per 1000 burgers tot dusver in Mexiko uitgevoer. Slegs 3,3 toetse per 1000 mense is gedoen. In die VSA is 83 uit elke 1000 burgers reeds getoets.
- Die Europese Unie werk aan riglyne waarvolgens lidlande van die EU hulle grense vir besoekers uit lande buite Europa kan oopstel. Die vereistes waaraan lande sal moet voldoen is onder andere dat die verspreiding van die virus in daardie land onder beheer moet wees (die verspreidingskoers moenie hoër as in Europa wees nie) en dat daardie land ook besoekers uit Europa moet toelaat. Daar word verwag dat die Europese lande nog vir lank besoekers uit die Amerikas (insluitende die VSA), maar ook lande soos Suid-Afrika toegang tot Europa sal weerhou.
- Die Europese motorvervaardigersvereniging (ACEA) het gister bekend gemaak dat hulle nou verwag dat nuwe motorverkope in Europa vanjaar met 25% sal daal. Motorvervaardigers regoor Europa staar volgens die vereniging ‘n groot ekonomiese krisis in die gesig. Motorverkope in Europa sal na verwagting van 12,8 miljoen eenhede in 2019 tot 9,6 miljoen vanjaar tuimel.
- Die President van die Europese Raad, Charles Michel het gister bekend gemaak dat die 27 leiers van die EU-lidlande op 17 Julie in Brussel sal vergader om die inhoud van die Europese hulppakket te bespreek. Dit sal die eerste fisiese byeenkoms van die 27 leiers sedert die uitbreek van die koronapandemie wees. Daar is steeds nie konsensus onder EU-lidlande oor die beplande skuldlas wat die Europese Unie wil aangaan nie en dit sal tydens dié beraad verder bespreek word.
- Die verspreiding van die koronavirus in Pakistan, die land met die vyfde grootste bevolking in die wêreld, styg steeds skerp. Teen gister is 187 000 mense in Pakistan positief vir die virus getoets maar ‘n studie wat deur Imperial College in Londen en die Universiteit van Washington uitgevoer is, dui daarop dat die werklike getal gevalle in Pakistan tussen 3 en 10 keer hoër is. Die rede hiervoor is dat Pakistan slegs 30 000 toetse per dag doen en slegs 5 uit elke 1000 burgers in Pakistan is al vir die virus getoets. Daar word verwag dat een miljoen mense in Pakistan teen einde Julie positief vir die koronavirus sal toets.
- Die wêreld se nommer een tennisspeler, Novak Djokovic en sy vrou het beide positief vir die koronavirus getoets. Dit volg nadat Djokovic ‘n tennistoernooi in verskeie Balkan-lande aangebied het. Hy is die sesde speler wat aan die toernooi deelgeneem het, wat tot dusver positief getoets het. Djokovic, ‘n boorling van Serwië, het die toernooi onderneem om solidariteit in die streek te bevorder met wedstryde wat in Belgrado in Serwië en Zadar in Kroasië gespeel is.
- Die Britse Eerste Minister Boris Johnson het gister ‘n verdere uitfasering van inperkingsmaatreëls aangekondig. Die uitfasering sal slegs in Engeland geld met Wallis, Skotland en Noord-Ierland wat hulle eie tempo van uitfasering bepaal. Volgens die uitfasering sal fisiese afstande van twee meter na een meter verlaag word en sal restaurante, kroeë en haarsalonne vir die eerste keer in vier maande kan heropen. Die verslapping van inperkingsmaatreëls sal vanaf 4 Julie geld. Ook sportgeleenthede sal weer toegelaat word, sowel as kerkdienste en ander openbare geleenthede.

Foto krediet: