Internasionale Verslag – 25 Junie 2020
Thursday | 25 June | 2020Hier is vandag se internasionale nuusbrokkies oor die koronapandemie:
-
Grafika: New York Times Die VSA het gister die tweede meeste nuwe gevalle van persone wat die koronavirus opgedoen het, aangemeld. Meer as 36 000 mense het gister positief vir COVID-19 in die VSA getoets, net-net minder as die vorige rekord op 24 April. In Texas is 6 200 nuwe gevalle aangemeld en in Florida 5 500. In meer as 20 Amerikaanse deelstate is daar tans ‘n toename in nuwe gevalle soos wat inperkingsmaatreëls verslap word en baie mense met vakansie gaan. Die deelstaat New York het verpligte kwarantynmaatreëls vir besoekers uit ander deelstate ingestel. Aandelemarkte in die VSA het gister met 2,6% teruggesak uit vrees vir die ekonomiese gevolge van ‘n hernude opvlamming van die virus in veral die suide van die VSA. In die grafika word state gelys volgens die persentasie toetse vir COVID-19 met positiewe resultate. Die nasionale gemiddeld in die VSA is 5,5%, terwyl sowat 23% van alle mense wat tans in Arizona getoets word, positief vir die siekte toets.
-
Grafika: Wall Street Journal Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het gister sy vooruitskatting vir globale ekonomiese groei bekend gemaak. Die IMF voorspel nou dat die wêreldekonomie vanjaar met 4,9% gaan krimp. Die skatting is aansienlik erger as die daling van 3% wat nog in April voorspel is en is ook meer pessimisties as talle ander voorspellings. Die voorspelling vir 2020 sal beteken dat die grootste inkrimping van die globale ekonomie sedert die Tweede Wêreldoorlog vanjaar sal plaasvind. Die IMF verwag nou dat Amerikaanse ekonomie vanjaar met 8% gaan krimp wat ook ‘n baie slegter voorspelling as talle ander instellings se verwagting is. Die voorspelling vir die Eurosone en die Verenigde Koninkryk is selfs wesenlik slegter. Volgens die IMF se verslag sal mense in 90% van ontwikkelende en ontluikende ekonomieë vanjaar ‘n dalende inkomstegroei per capita ondervind. Dit sal die eerste keer in drie dekades wees dat inkomstegroei in ontwikkelende lande sal daal.
- ‘n Analise van data uit al 50 Amerikaanse deelstate deur die niewinsgewende organisasie The Sentinel, het bevind dat indiensname in die privaatsektor in die 42 state waar streng inperkingsmaatreëls tydens die pandemie ingestel is, met 13,2% gedaal het. In die agt deelstate waar geen of slegs beperkte maatreëls ingestel is, het indiensname in die privaatsektor met slegs 7,8% gedaal. Dié agt state is Noord-Dakota, Suid-Dakota, Nebraska, Iowa, Arkansas, Oklahoma, Wyoming en Utah. Selfs wanneer state in dieselfde geografiese gebiede met dieselfde soort van stedelike/landelike samestelling vergelyk word, is dieselfde verskil waarneembaar. In Colorado waar streng maatreëls gegeld het, het indiensname in die privaatsektor met 9,5% afgeneem, terwyl dit in Utah met slegs 4,6% gedaal het. Verder was die per capita sterftes weens COVID-19 in die agt deelstate wat oopgebly het 75% laer as in die 42 deelstate waar streng inperkings ingestel is.
- Die regering van Peru het gedreig om die land se privaat hospitale tydelik oor te neem te midde van ‘n geskil oor fooie vir die behandeling van COVID-19-pasiënte.President Martín Vizcarra het gister gesê dat die regering nie onbepaald kan wag om ‘n ooreenkoms met privaat hospitale vir die behandeling van arm pasiënte met COVID-19 te bereik nie. Talle armer lande in Suid-Amerika, Afrika, die Midde-Ooste en Afrika ervaar ‘n tekort aan beddens in staatshospitale vir pasiënte terwyl privaat hospitale ‘n oorskot kapasiteit het. Dit lei tot meer dreigemente om die privaat gesondheidsorgbedryf, minstens tydelik, te nasionaliseer. Meer as 264 000 gevalle van COVID-19 is reeds in Peru aangemeld, terwyl meer as 8 500 mense dood is.
- Brasilië het gister 42 725 nuwe infeksies aangeteken, wat die totale aantal bevestigde gevalle op byna 1,2 miljoen te staan bring. Sowat 1 185 nuwe sterfgevalle is ook aangemeld met byna 54 000 mense wat reeds in Brasilië aan die siekte dood is.
- Die koronavirus is ook steeds besig om teen ‘n vinniger tempo in Indië te versprei. Gister is 16 000 nuwe gevalle aangemeld met byna 500 nuwe sterftes. Tot dusver het byna 500 000 mense in Indië positief vir die virus getoets terwyl byna 15 000 sterftes aangemeld is.
- Die Demokratiese Party in die VSA het aangekondig dat die party se nasionale konvensie steeds van 17 tot 20 Augustus in Milwaukee, Wisconsin sal plaasvind, maar dat afgevaardigdes aangeraai word om tuis te bly en per videotegnologie aan die konvensie deel te neem. Die partye se presidentskandidaat Joe Biden sal in Milwaukee sy toespraak lewer, maar dit is nog onduidelik of mense dit fisies sal kan bywoon. Selfs tydens die Amerikaanse Burgeroorlog en die twee wêreldoorloë het die politieke partye in die VSA met hulle nasionale konvensies voortgegaan. Dit sal die eerste keer ooit wees dat afgevaardigdes nie in persoon aan die benoemingsproses by die konvensie sal deelneem nie. Die party sal van tegnologie gebruik maak om afgevaardigdes te laat stem.
- Die Wêreldgesondheidsorganisasie het gister gewaarsku dat daar tans ‘n globale tekort aan suurstof om pasiënte met COVID-19 te behandel, ontstaan. Die koronavirus ontneem pasiënte wat ernstig siek raak van suurstof wat tot orgaanversaking en sterftes aanleiding gee. Daarom ontvang ‘n groot hoeveelheid pasiënte wat gehospitaliseer word kunsmatig suurstof. Die WGO skat dat die wêreld tans ongeveer 620 000 kubieke meter suurstof per dag benodig en dat die vraag die aanbod totaal oorskry.
- Twee van die wêreld se ses belangrikste marathonne is gister afgestel. Die Berlyn marathon wat reeds van April tot 27 September uitgestel is, is nou heeltemal afgestel. Meer as 62 000 atlete sou vanjaar aan dié marathon deelneem. Dit is die eerste keer sedert die ontstaan van dié marathon in 1974 dat dit afgestel word. Die New York marathon wat op 1 November sou plaasvind is ook gister afgestel. Meer as 50 000 atlete sou daaraan deelneem.
- Australië het soos sy buurland Nieu-Seeland die ergste van die koronapandemie vrygespring. Die land vat egter geen kanse met nuwe gevalle van die virus nie en gister is besluit om meer as 1000 lede van die Australiese weermag na Melbourne te stuur om nuwe gevalle wat in die hoofstad van die deelstaat Victoria voorkom, te help bestry. Sowat 150 nuwe gevalle is die afgelope week in Melbourne aangemeld en die Australiese regering is bekommerd dat dit vinnig in dié stad kan versprei. Tot 850 lede van die Australiese weermag gaan help om teruggekeerde internasionale reisigers in hotelkwarantyn te monitor, terwyl ongeveer 200 ander weermaglede logistieke en mediese ondersteuning aan COVID-19-toetsfasiliteite sal verleen.

Foto krediet: