Is die Covid-19-entstowwe werklik doeltreffend?
Monday | 12 July | 2021Deur Reon Janse van Rensburg
In die komende tyd gaan baie mense moet kies of hulle ingeënt wil word, of nie terwyl hulle die uiteenlopende gevolge wat albei keuses inhou, moet oorweeg. Die keuse oor inenting is letterlik amper ’n keuse tussen lewe en dood. Ons moet antwoorde kry oor hoe om uit die knyptang van die pandemie te kom omdat Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse ekonomie en die res van die wêreld nie op die huidige trant kan voortgaan nie. Dit is om dié rede dat Solidariteit ondersoek oor onder andere, die verskillende entstowwe asook die doeltreffendheid en die veiligheid daarvan, gaan instel het.
Die Suid-Afrikaanse regering het gedurende die inperking sy mag misbruik met die arbitrêre afdwinging van irrasionele regulasies wat vryheid wegkalwe. Benewens die outoritêre houding wat die regering ingeneem het, met ’n bevelsraad wat besluite “met onmiddellike effek” afdwing, het verskeie ANC-amptenare hulle skuldig gemaak aan die plundering van noodfondse.
Die noodwendige en verstaanbare impak wat die Suid-Afrikaanse regering se optrede gehad het, is wantroue in die regering deur sy burgers, spesifiek wanneer dit handel oor die hantering van Covid-19. Hierdie wantroue, tesame met uiterste onbevoegdheid van ministers en die arrogansie van die bevelsraad, het ’n ryp teelaarde geskep vir skeptisisme oor die entstof.
Huiwering rondom entstowwe is verstaanbaar gegewe die aard van die Suid-Afrikaanse regering se ondeursigtige optrede tydens die inperking.
Solidariteit het aan sy navorsers opdrag gegee om deeglike navorsing oor entstowwe te doen. ’n Omvattende ondersoek is ingestel na die ontwikkeling, verspreiding, veiligheid, risiko’s en ander faktore wat inentings betref. Solidariteit het 'n deeglike verslag oor die Covid-19-entstowwe saamgestel wat op die volgende skakel afgelaai kan word: (VOEG SKAKEL IN)
Hierdie navorsing se doel is om Solidariteit-lede en die publiek in te lig en met genoegsame kennis te bemagtig, om self 'n ingeligte besluit te kan neem.
Die eerste vraag rondom Covid-19-entstowwe is eenvoudig – werk dit? Ten einde die vraag te beantwoord in werklike omstandighede eerder as toetsomstandighede het Solidariteit na uitkomste op grondvlak in verskeie lande gaan kyk.
Vier verskillende maatstawwe is gebruik om die doeltreffendheid van die entstof te evalueer:
- Persentasie van die bevolking ingeënt
- Hospitaliserings weens Covid-19 (Waar beskikbaar)
- Nuwe sterftes weens Covid-19
- Positiewe toetspersentasie
Hierdie maatstawwe word gebruik omdat geen van die entstowwe totale beskerming teen infeksie met Covid-19 bied nie, maar dit bied wel omvattende beskerming teen ernstige simptome en sterftes, volgens kliniese studies (Polack, 2020) (Logunov, 2021) (Baden, 2021) (Kaabi, 2021) (Shinde, 2021) (Sadoff, 2021).
Data van die kliniese studies van die vernaamste entstofvervaardigers word bevestig deur “regte wêreld”-data vanuit lande wat hierdie entstowwe toedien.
Van die lande wie se uitkomstes bestudeer is sluit in Israel, die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State (VSA), Hongarye, Chili, Italië en uiteraard ook Suid-Afrika.
Pfizer, Moderna, Johnson & Johnson, Sputnik en AstraZeneca se entstowwe in lande blyk nóú te korreleer in doeltreffendheid soos volgens hulle kliniese toetsing.
SinoVac het redelike teenstrydighede tussen studies en lande, maar met die reusagtige toename in China se bevolking wat ingeënt word, behoort die doeltreffendheid daarvan binnekort bekend te wees in “regte wêreld”-terme.
Uit al hierdie data is die logiese afleiding dat entstowwe doeltreffend werk ten einde infeksie, hospitalisering, ernstige siekte en sterftes as gevolg van Covid-19 te verminder, of selfs te voorkom.
Entstowwe waarborg nie dat jy nie Covid-19 sal kry nie, maar dit bied radikaal afwaartse bestuur van die risiko om dit op te doen en om siek te word of dood te gaan. Alles gaan oor die opweeg van risiko’s.
Die data wys dat daar een risiko is wat baie groter is as entstowwe, en dit is om nié entstowwe te gebruik nie. Sou jy besluit om nie ingeënt te word nie, moet jy die risiko’s wat daarmee gepaardgaan ernstig oorweeg. Dit sluit in jou eie gesondheid en die kanse om Covid-19 op te doen, maar ook die risiko om Covid-19 aan ander mense oor te dra.
Solidariteit se gevolgtrekking is dus dat entstowwe veilig en doeltreffend is vir diegene wat besluit om dit te gebruik. Elkeen moet egter volgens sy of haar eie unieke omstandighede ’n verantwoordelike besluit neem. Entstowwe skakel nie die gebruik van belangrike medikasie, insluitende ivermektien, in die behandeling van Covid-19 uit nie, maar entstowwe en ivermektien moenie teenoor mekaar gestel word nie.
Dit skakel ook nie voortgesette goeie beginsels ten opsigte van higiëne, fisiese afstande en die handhawing van goeie eetgewoontes en ander maniere om jou gesondheid goed in stand te hou, uit nie. Saam móét en sál ons die pandemie te bowe kom. Te veel mense het reeds siek geraak. Te veel is dood. Te veel het hulle inkomste, bates en hoop verloor. Ons moet dit saam beveg en verby die pandemie tree.
Solidariteit is tans besig met 'n regsgeding teen die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) oor die voorwaarde dat slegs die regering die Johnson & Johnson-entstof mag aankoop. Solidariteit eis dat die voorwaarde ter syde gestel word. Solidariteit bevraagteken die wetlikheid van die sodanige voorwaardes en versoek meer inligting rakende die voorwaardes soos deur SAHPRA gestel. Hou gerus Solidariteit se FB-blad dop vir verdere verwikkelinge in die verband.
Kennis bring berusting!
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.

Foto krediet: Mat Napo | Unsplash