Kan ek weens Covid-19 afgelê word?
Tuesday | 24 March | 2020Covid-19 het die wêreld van werk in rep en roer. Dit is verstaanbaar om bekommerd te wees oor jou werk en wat jou toekoms in die werkplek behels. Die kwessie van moontlike werkverlies druk swaar op werknemers se skouers en dit is belangrik om te weet of jou werkgewer jou weens die koronavirus mag aflê.
Om duidelikheid hieroor te kry moet die konsep rondom afleggings uitgelê word.
Afleggings vind plaas wanneer die werkgewer beoog om werknemers weens operasionele vereistes van die werkgewer te ontslaan. Operasionele vereistes word omskryf as vereistes gebaseer op die ekonomiese, tegnologiese, strukturele of soortgelyke behoeftes van die werkgewer. Kortom beteken dit dat afleggings weens finansiële en operasionele redes mag plaasvind.
Omdat die operasionele vereistes van die werkgewer nie die werknemer se skuld is of deur die oorsaak van die werknemer plaasvind nie, hetsy dit gedrag of werksvermoë van die werknemer is nie, word daarna ook as “geen-fout-ontslag” verwys. Juis omrede hierdie, word ’n spesifieke proses in die Wet op Arbeidsverhoudinge in artikel 189 en 189A voorgeskryf.
Sou die effek van COVID-19 om enige rede die operasionele vereistes van die werkgewer beïnvloed, kan die werkgewer ’n afleggingsproses begin deur die uitreiking van ’n 189-kennisgewing aan werknemers wat moontlik deur die aflegging beïnvloed kan word.
Artikel 188 bepaal dat ontslag slegs billik sal wees indien dit in terme van ’n bepaalde proses gedoen is en om die regte redes.
Kortom is die antwoord dat ’n werkgewer moontlik afleggings sal mag maak weens die uitwerking van Covid-19 op die werkplek, maar die artikel 189- of 189A-proses moet gevolg word soos voorgeskryf deur die Wet op Arbeidsverhoudinge.
Maak dus seker dat indien jou werkgewer afleggings aankondig die regte prosesse en stappe ingevolge artikel 189 of 189A gevolg is. Tydens hierdie krisistyd is dit belangrik om egter nie paniekerig te raak nie en sover moontlik egter aan te hou met jou werk.
Solidariteit is hier vir jou, daarom is dit ons doel om ons lede ingelig te hou oor hul regte in die werkplek en dit wat hulle te doen staan tydens hierdie Covid-19-krisis.
Bly op hoogte van sake met die korrekte inligting en nuus deur op Solidariteit se koronakrisisblad by www.corona.org.za te registreer. Hierdie blad word deurlopend bygewerk met die nuutste inligting en gereelde artikels oor jou regte in die werkplek en hoe om vir jou toekoms te beplan.
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.

Foto krediet: