My kind toon simptome van griep. Moet ek my werkgewer sê?
Wednesday | 25 March | 2020Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) adviseer dat indien 'n persoon simptome van Covid-19 ontwikkel en rede het om te glo dat hy of sy in kontak was met iemand wat die virus het, hulle onmiddellik moet self-isoleer en maatreëls moet implementeer om die oordrag te voorkom.
Die departement van gesondheid het aanbeveel dat as jy enige tekens van Covid-19-simptome toon of vermoed dat jy die virus opgedoen het, jy nie na jou naaste dokter/apteek/of gesondheidspraktisyn gaan nie, maar by jou huis bly en die Covid-19-noodlyn by 0800029999 skakel.
Ons stel voor dat jy jou werkgewer onmiddellik in kennis stel indien jy voel jy loop ’n risiko om die virus oor te dra, sodat jou werkgewer die nodige risikobepaling kan doen. Daarna kan jou dokter telefonies gekontak word en sy/haar advies in die omstandighede gevra en gevolg word. Ons stel verder voor dat die werkgewer op hoogte gehou word van die relevante feite, sodat julle eerder saam op die regte pad vorentoe kan besluit.
Artikel 8(1) van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid plaas 'n verpligting op die werkgewer om sover redelik en prakties moontlik 'n werkplek te verseker wat veilig en vry van enige risiko vir die gesondheid van die werknemers is. In die konteks van die Covid-19-virussiekte rus daar 'n duidelike verpligting op die werkgewer om die oordrag van die virus te beheer en te bestuur. Prakties beteken dit dat die werkgewer moet verseker dat die werkplek skoon en higiënies bly; dat werknemers aanbeveel word om gereeld hul hande te was en sover moontlik fisiese kontak met kliënte, kollegas, diensverskaffers en so meer te vermy; die verpligting (indien van toepassing) om te reis (veral internasionale reis) aan te pas en om werknemers op gereelde basis in kennis te stel van verwikkelinge wat met die virus verband hou.
Indien jy van mening is dat jou kind net gewone griep het, is jy ingevolge Artikel 27 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 75 van 1997 geregtig om verlof vir gesinsverantwoordelikhede te neem.
Verlof vir gesinsverantwoordelikheid is van toepassing op werknemers wat al langer as vier maande en vir ten minste vier dae per week vir die werkgewer werk. Werknemers kwalifiseer vir 3 dae se verlof vir gesinsverantwoordelikhede.
’n Werknemer sal in die volgende omstandighede geregtig wees op betaalde verlof vir gesinsverantwoordelikheid:
(a) wanneer die werknemer se kind gebore word;
(b) wanneer die werknemer se kind siek is; of
(c) in die geval van die dood van
(i) die werknemer se gade of lewensmaat; of
(ii) die werknemer se ouer, aangenome ouer, grootouer, kind, aangenome kind, kleinkind, broer of suster.
Die blote feit dat 'n werknemer vir die verlof kwalifiseer beteken nie dat die persoon sommer net van die werk kan wegbly nie. Werkgewers is geregtig om kragtens die dissiplinêre prosedure tugstappe te neem in situasies waar werknemers bloot wegbly net omdat daar 'n persepsie bestaan dat hulle op die voordele geregtig is. Ten einde te verseker dat die verlof geneem word vir die doeleindes soos bespreek, is die werkgewer geregtig om te vra vir redelike bewyse, soos 'n mediese sertifikaat, voordat betaalde verlof vir gesinsverantwoordelikheid toegestaan word.
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: