Onder die vergrootglas: Veiligheid van entstowwe teen Covid-19
Monday | 12 July | 2021Deur Reon Janse van Rensburg
Die Covid-19-pandemie smoor die wêreld reeds langer as 'n jaar. Elke staat in die wêreld het ’n stel maatreëls ingestel om die pandemie te probeer bekamp. Behalwe vir die verwoesting wat die pandemie aan die gesondheid van mense regoor die wêreld aanrig, het die Covid-19-pandemie ook 'n verwoestende effek op talle lande se ekonomieë. Daar is die afgelope jaar verskeie entstowwe ontwikkel wat die pandemie kan help beveg. Alle medikasie het ’n vorm van newe-effekte en die entstowwe wat tans beskikbaar is, is geen uitsondering nie. Die vraag wat beantwoord moet word, is hoe die entstowwe se voordele en risiko’s teen mekaar opweeg.
Ten einde dit nugter te kan beoordeel, moet daar gekyk word na die entstowwe se doeltreffendheid teenoor veiligheid. Addisioneel moet die vraag beantwoord word of daar veiliger alternatiewe is wat soortgelyke uitkomste bied as ’n entstof.
Solidariteit het aan sy navorsers opdrag gegee om deeglike navorsing oor entstowwe te doen. ’n Omvattende ondersoek is ingestel na die ontwikkeling, verspreiding, veiligheid, risiko’s en ander faktore wat inentings raak. Die Solidariteit Navorsingsinstituut het die volledige verslag bekendgestel, en daarin word Solidariteit-lede en die publiek aangeraai om 'n ingeligte besluit te neem oor die toedien van entstowwe teen Covid-19.
’n Belangrike vraag rakende entstowwe is hoe veilig dit is vir menslike gebruik. ’n Entstof wat uitsonderlik doeltreffend is maar gevaarliker is vir gesondheid as die siekte wat dit probeer voorkom, is prakties nutteloos.
Weens die snel ontwikkeling van die entstowwe is daar noukeurige rapportering van nadelige voorvalle ná die toediening van die entstof ten einde addisionele newe-effekte vinnig te kan identifiseer en teen te werk indien nodig.
Uit die data soos gerapporteer in die VSA en die EU-gebied is dit duidelik dat die entstowwe op die kort termyn veilig is vir menslike gebruik.
Die newe-effekte korreleer met dié wat geïdentifiseer is in die kliniese studies, en ook is rapportering oor ernstige newe-effekte besonder wyd en volledig.
Daar is niks in die data wat daarop dui dat die entstowwe wat die VSA en die EU gebruik en wat Suid-Afrika mik om te gebruik, wesenlike nadele inhou nie.
Geen van die effektiewe entstowwe bied totale beskerming teen infeksie met Covid-19 nie, maar dit bied wel omvattende beskerming teen ernstige simptome en sterftes, volgens kliniese studies wat bevestig is uit die data van uiteindelike inentings self. Alles gaan oor die opweeg van risiko’s. Volledige inligting hieroor kan in die verslag self gevind word.
Die studie het 'n diepgaande ondersoek gedoen na die data van aanmeldings van newe-effekte. Daar is doelbewus nie gepoog om bloot al die aansprake op sosiale media te ondersoek nie. Oorspronklike data is gebruik sodat afleidings waterdig is. Daar is bevind dat die entstowwe wel in 'n groot mate veilig is. Soos ander medikasie is daar newe-effekte, maar die risiko wat Covid-19 inhou, is baie hoër as die risiko van entstowwe.
Die data wys dat die aansprake dat groot getalle mense as gevolg van entstof sterf, eenvoudig nie waar is nie. Die risiko vir bloedklonte en hartverwante newe-effekte is klein. Die meeste newe-effekte wat aangemeld is, is lig en stem ooreen met dié van enige ander entstof.
Solidariteit se navorsers het bevind dat dit belangrik is dat individue wat reeds gesondheidsprobleme het, tans siek is en voorheen newe-effekte met entstowwe ondervind het, eers met hulle dokter moet skakel om seker te maak of dit veilig is om ingeënt te word.
’n Entstof soos dié wat Pfizer vervaardig, moet twee keer toegedien word. Mense kan wel na die eerste dosis steeds siek word, maar dit is nie as gevolg van die entstof nie. Dit is as gevolg van Covid-19 wat op ander wyses opgedoen word. Daar is ook bevind dat die entstowwe ook nie Covid-19 kan veroorsaak of oordra nie.
Deur ’n behoorlike internasionale studie wat gedoen is, bevind die verslag dat entstowwe wel effektief is. In lande soos Israel, Engeland en Hongarye is daar ’n regstreekse verband tussen die toediening van entstowwe en ’n afname van infeksies, hospitalisasie en sterftes. Pfizer, Moderna, AstraZeneca en Johnson & Johnson is effektief. Ons kan nie met vrymoedigheid sê dat die Chinese entstof SinoVac asook die Russiese Sputnik V-entstof effektief is nie, hangende die beskikbaarheid van verdere regtewêrelddata.
Die verslag wys ook dat ivermektien deel van die behandelingsprotokol van Covid-19 kan wees en dat entstowwe en ivermektien nie teenoor mekaar gestel moet word nie.
Die data wys dat daar een risiko is wat baie groter is as entstowwe, en dit is om nie entstowwe te gebruik nie. Sou jy besluit om nie ingeënt te word nie, moet jy die risiko’s wat daarmee gepaardgaan ernstig in ag neem. Dit sluit in jou eie gesondheid en die kanse om Covid-19 op te doen, maar ook die risiko om Covid-19 aan ander mense oor te dra. Persone wat nie ingeënt is nie, kan die virus aanhou versprei.
’n Kernbeginsel wat egter nie ondermyn mag word nie, is vryheid van keuse. Elkeen het die reg op liggaamlike integriteit, en Solidariteit sal dit beskerm. Geen regering en geen werkgewer mag iemand verplig om ingeënt te word nie.
Solidariteit sal enige werkgewer wat sy werknemers onregmatig dwing om die entstof te ontvang, voor die hof daag. Solidariteit sal beslis ook nie sy lede subtiel of openlik dwing om ’n keuse te maak nie. Ons vertrou ons lede om verantwoordelike keuses, volgens hulle eie unieke omstandighede, te maak.
Om ’n keuse te kan maak, is goeie inligting nodig. Solidariteit het ’n navorsingsinstituut met die beste navorsers wat oorspronklike navorsing kan doen. Hierdie verslag is die produk van omvattende navorsing deur Solidariteit se navorsingspan. Besoek gerus die volgende skakel om die volledige verslag te bestudeer: Klik hier.
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: Mika Baumeister | Unsplash