Skole: Solidariteit gereed om te ondersteun in regsaksie
Tuesday | 02 June | 2020Solidariteit het gesê dat hy ouers, kinders, onderwysers en skole in ‘n regsaksie sal ondersteun indien skole wat voldoen aan alle gesondheidsvereistes nie toegelaat word om oop te maak nie.
Die Minister van Basiese Onderwys Angie Motshekga het op 29 Mei ‘n direktief uitgereik waarvolgens skole op ‘n gefaseerde basis, onderhewig aan streng vereistes, vanaf 1 Junie kan begin oopmaak.
Volgens Solidariteit sal dit onregmatig wees om nou te besluit dat skole wat gereed is en voldoen aan die direktief, nie kan oopmaak nie.
Die Minister skep op die oomblik ongelooflike onsekerheid tot nadeel van kinders se onderwys.
Artikel 29 van die Grondwet bepaal dat ‘n kind ‘n reg tot onderwys het. Indien ‘n skool voldoen aan alle gesondheidvereistes en ‘n kind dan van die reg tot onderwys ontneem word sal ouers en kinders hierdie reg kan afdwing.
Die Minister het na behoorlike konsultasie en met inagneming van die risiko’s rondom Covid-19 ‘n direktief uitgereik dat skole op ‘n gefaseerde basis kan oopmaak.
Die direktief bepaal ook dat skole wat oopmaak moet voldoen aan streng gesondheidsvereistes.
Die direktief bepaal verder dat skole wat nie voldoen nie, nie kan oopmaak nie.
Dit sal irrasioneel wees om nou te redenaar dat indien sekere skole nie gereed is nie, alle skole nie kan oopmaak nie.
Dit het niks met die Covid-19 risiko by die skole wat gereed is te doen nie, maar dat ander skole nie gereed is nie.
Dreigemente van geweld kan nooit as argument gebruik word om kinders van hul reg op onderwys te ontneem nie.
Die antwoord is versnelde en gefokusde hulp aan skole wat nog nie gereed is nie.
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: