Kan die werkgewer my dissiplinêr aankla en afdank in hierdie tyd?
Volgens die Wet op Arbeidsverhoudinge moet 'n werkgewer aan sekere riglyne voldoen voor hy 'n werknemer billik kan ontslaan. Ten opsigte van ’n billike dissiplinêre prosedure bepaal item 4(4) dat wanneer 'n werkgewer in buitengewone omstandighede genoodsaak was om dissiplinêre stappe te neem, wat afwyk van die minimum vereistes soos bepaal deur die Wet, daar van die riglyne afgesien kan word.
Die uitbreek van die koronavirus kan nie gebruik word as die enigste rede waarom daar van die minimum vereistes wat ’n werknemer se regte ten opsigte van ʼn billike prosedure beskerm nie, afgewyk moet word nie. Billikheidsoorwegings vereis egter dat die werkgewer se operasionele doeltreffendheid en diensbehoeftes ook oorweeg moet word wanneer uitsonderlike omstandighede aangevoer word.
Alhoewel dit onder die huidige staat van inperking nie noodwendig moontlik is om aan voorgeskrewe dissiplinêre prosedures te voldoen nie, moet daar steeds gehoor gegee word aan ’n werknemer se reg om aangehoor te word alvorens hy of sy skuldig bevind word aan wangedrag.
Ons wil u aanmoedig om ons Dienssentrum te kontak op 0861 25 24 23 indien u werkgewer onbillik dissiplinêr teen u optree in hierdie tyd van inperkings.
Wat gebeur as die werknemer en die werkgewer nie 'n ooreenkoms kan bereik nie?
Hier verwys ons na die spesiale Nasionale Ramp-voordeel wat deur die Minister van Werkverskaffing en Arbeid, Thulas Nxesi, aangekondig is en waaroor die departement meer inligting beskikbaar sal stel. Sou daar 'n dispuut wees, sal die Kommissie vir Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) of hof moet oorweeg wat die meriete van elke individuele saak is en of, soos hierbo verduidelik, die maatstaf van regverdigheid en billikheid in hierdie unieke omstandighede gehandhaaf is of nie.
Wat is spesiale verlof en hoe werk dit?
Elke werkgewer het ook die diskresie om vir hierdie geval ’n spesiale tipe verlof in te stel wat dan betaalde verlof sal wees bo en behalwe jaarlikse verlof soos voorsien in artikel 20 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes. 'n Voorbeeld van so 'n spesiale verlof is betaalde studieverlof en dit word nie van jou jaarlikse verlof afgetrek nie.
Mag my werkgewer my verplig om onbetaalde verlof te neem?
Wat belangrik is van die konsep van billike arbeidspraktyk (soos vervat in die Grondwet) is dat dit vir beide die werknemer en die werkgewer billik moet wees. Só is dit nie billik dat elke werknemer bloot net sonder betaling gelaat word nie, en ook nie billik dat elke werkgewer noodwendig moet betaal vir dienste wat nie gelewer kan word nie. Met die inperkingsituasie en bogenoemde in ag genome is ons advies tans om daadwerklik met die werkgewer tot 'n ooreenkoms te kom betreffende die betaling van verlof en salarisse.
Solidariteit het telkens die beginsel van regverdigheid en billikheid onderstreep, en hier is dit nou juis van kardinale belang dat hierdie beginsel deur beide die werkgewer én die werknemer toegepas moet word. Ons noem kortliks die beskikbaarstelling van ’n nuwe Nasionale Ramp-voordeel wat werknemers saam met die bestaande siektevoordeel, verkorte werksure-voordeel en werkloosheidsvoordeel van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) kan eis.
Mag my werkgewer my verplig om verlof te neem?
Ja, die werkgewer kan jou ook verplig om jou normale verlof in te sit. Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes bepaal dat jaarlikse verlof geneem moet word in ooreenstemming met 'n ooreenkoms tussen die werkgewer en die werknemer of, indien daar nie so 'n ooreenkoms is nie, op 'n tyd wat bepaal word deur die werkgewer.
Is my werkgewer verplig om my salaris tydens inperking te betaal?
Wat belangrik is van die konsep van billike arbeidspraktyk (soos vervat in die Grondwet) is dat dit vir beide die werknemer en die werkgewer billik moet wees. Die inperkingsituasie gaan noodwendig beteken dat derduisende rande se verliese gely gaan word. Derduisende mense gaan skade ly en die vraag is wie, watter hoeveelheid van die skade moet dra. Dit sluit werkgewers en werknemers in – almal. Daarom is Solidariteit se benadering dat om billikheid te handhaaf, werkgewers 'n ooreenkoms en konsensus met die werknemers moet bereik. Ons sien die reg en neem die gemenereg, kontraktereg, arbeidsreg en -regulasies in ag en onder hierdie omstandighede sal dit die aangewese oplossing wees.
Kan my baas my op onbetaalde verlof plaas tot 16 April?
Wat belangrik is van die konsep van billike arbeidspraktyk (soos vervat in die Grondwet) is dat dit vir beide die werknemer en die werkgewer billik moet wees. Só is dit nie billik dat elke werknemer bloot net sonder betaling gelaat word nie, en ook nie billik dat elke werkgewer noodwendig moet betaal vir dienste wat nie gelewer kan word nie. Met die inperking-situasie en bogenoemde in ag genome is ons advies tans om daadwerklik met die werkgewer tot 'n ooreenkoms te kom betreffende die betaling van verlof en salarisse.
Solidariteit het telkens die beginsel van regverdigheid en billikheid onderstreep, en hier is dit nou juis van kardinale belang dat hierdie beginsel deur beide die werkgewer en werknemer toegepas moet word. Ons noem kortliks die moontlike beskikbaarstelling van ’n nuwe Nasionale Rampvoordeel wat werknemers saam met die bestaande siektevoordeel, verkorte werksure-voordeel en werkloosheidsvoordeel van die Werkloosheidsversekeringfonds kan eis.
Kan my baas my salaris aanpas in die tyd van inperking?
Indien 'n billike proses nie gevolg is nie, en weens operasionele redes, kan dit neerkom op die eensydige wysiging van diensvoorwaardes, wat die werkgewer nie mag doen nie. Wat belangrik is van die konsep van billike arbeidspraktyk (soos vervat in die Grondwet), is dat dit vir beide die werknemer en die werkgewer billik moet wees. Die inperking-situasie gaan noodwendig beteken dat derduisende rande se verliese gely gaan word. Derduisende mense gaan skade ly en die vraag is wie watter hoeveelheid van die skade moet dra. Dit sluit werkgewers en werknemers in – almal. Daarom is Solidariteit se benadering dat om billikheid te handhaaf, werkgewers 'n ooreenkoms en konsensus met die werknemers moet bereik. Ons sien die reg en neem die gemenereg, kontraktereg, arbeidsreg en -regulasies in ag en onder hierdie omstandighede sal dit die aangewese oplossing wees.
Kan ek UIF laat uitbetaal tydens inperking?
Ja jy kan.
Die Werkloosheidsversekeringsfonds sal werkers wat geraak word vergoed deur middel van die bestaande voordele vir siekte en verkorte tyd.
Werknemers kwalifiseer vir gewone WVF-voordele onder die volgende omstandighede:
- Gevalle waar ondernemings besluit om as 'n voorsorgmaatreël vir 'n kort periode te sluit;
- Wanneer 'n WVF-bydraer wat in enige sektor werksaam is, sy of haar inkomste verloor weens die verminderde werktyd, ondanks die feit dat hy/sy steeds in diens is; of
- Waar 'n WVF-bydraer vir 14 dae en / of in spesiale omstandighede vir langer as 14 dae in kwarantyn moet wees.
Vir meer vrae en atwoorde rakende die Werkloosheidsversekeringsfonds en Covid-19, besoek die WVF afdeling hier bo.
UIF-aansoeke kan aanlyn gedoen word. Sien www.ufiling.co.za vir inligting in die verband.
My werk sê “geen werk, geen betaling nie” (“no work, no pay”). Watter fonds kan ek nader? Ek is 'n enkelma met drie kinders.
Tans kan die Werkloosheidsversekeringfonds genader word ingevolge artikel 12(1B) van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes vir die voordeel vir verkorte ure. Hierdie voordeel dek 'n bydraer tot die fonds wat sy of haar inkomste weens verkorte werksure verloor, en steeds in diens is. Dit korrespondeer met situasies waar die werkgewer tydelik moet toemaak. As die bydraer siek is, kan aansoek gedoen word vir voordele vir siekte by dieselfde fonds.
Kan my baas my forseer om al my verlof te neem in die tyd van inperking?
Ongelukkig ja. Ons sal eerder die woord verplig gebruik as forseer. Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (WBD) bepaal dat jaarlikse verlof (onthou, dit is betaalde verlof) geneem moet word in ooreenstemming met 'n ooreenkoms tussen die werkgewer en die werknemer, of indien daar nie so 'n ooreenkoms bestaan nie, op 'n tyd wat bepaal word deur die werkgewer. Dit is nie ongewoon dat werkgewers vooraf ooreenkom dat werknemers tydens 'n “shutdown” op verpligte verlof geplaas word nie. Artikel 20(10)(b) van die WBD impliseer dus dat die werkgewer die finale diskresie het indien daar nie 'n ooreenkoms is nie.
Kan my werkgewer my afdank tydens inperking?
Ja.
Ingevolge artikel 188 van die Wet op Arbeidsverhoudinge moet ontslag volgens 'n billike prosedure en vir regverdige redes wees. Mits aan hierdie twee vereistes voldoen word, is dit moontlik dat werknemers tydens inperking ontslaan kan word. Prakties sal dit beteken dat 'n werknemer, soos in normale omstandighede, per e-pos of ander digitale media ingelig word van aanklagte teen hom of haar, 'n redelike tyd gegun word om voor te berei, 'n reg gegee word tot getuies en 'n tolk, en tydens 'n verhoor wat deur middel van digitale media gehou word, voor 'n onpartydige voorsitter verskyn. Die onus sal op die werkgewer rus dat die ontslag billik was, maar dit is heeltemal moontlik.
Ons is gesê ons gaan afgelê word oor die korona virus. My baas sê hy gee nie om wat ons doen nie want volgens hom is die CCMA toe.
Die KBVA (“CCMA”) het op 18 Maart 2020 ’n direktief uitgestuur wat aandui dat alle aangesig-tot-aangesig-prosedures gestaak is en dat nuwe geskille elektronies beteken en verwys moet word. Dit beteken net dat persone nie in die betrokke tydperk na die KBVA-geboue kan gaan nie, maar glad nie dat die KBVA nooit weer dienste gaan lewer nie. Dus sal geskille steeds na die KBVA verwys kan word.
As die werkgewer beoog om met afleggings te begin, sal hy/sy steeds gebonde wees aan artikel 189 en 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge. Hierdie artikels stipuleer die redes en prosedure vir billike aflegging. Die werkgewer sal dan ingevolge artikel 189(3) ’n kennisgewing aan alle werknemers wat moontlik geaffekteer word, moet stuur. Onder andere moet die rede vir die aflegging in die skrywe genoem word. Die werkgewer sal dan moet verduidelik wat die impak van die virus op die besigheid was en waarom dit gelei het tot afleggings.
Daarna sal daar ’n konsultasieproses moet volg, en onder andere kan die werknemer dan alternatiewe vir afleggings voorstel. Die werknemers kan dan moontlik voorstel dat die werkgewer die nodige forums nader wat hulp bied vir klein en middelgrootte handelaars juis om tydelike afdanking te vermy. Die werkgewer sal dan moet reageer op die werknemers se alternatiewe en redes gee waarom dit nie die aflegging gaan stuit nie.
Indien die werkgewer werknemers aflê en daar nie aan daardie artikels voldoen is nie, sal ’n saak van onbillike ontslag steeds binne 30 na ontslag elektronies na die KVBA verwys kan word.
As ek met verpligte verlof is wat van my jaarlikse verlof afgetrek word en ek word intussen siek, kan ek dan eis dat my siekteverlof daarvoor gebruik word? Ek is bang ek het later nie meer gewone verlof oor nie.
Artikel 20 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes reël jaarlikse verlof. Artikel 20(5) van die Wet noem spesifiek dat ’n werkgewer nie van ’n werknemer mag vereis of hom of haar mag toelaat om jaarlikse verlof te neem gedurende enige ander verloftydperk waarop die werknemer ingevolge hierdie Hoofstuk geregtig is nie. Die Hoofstuk waarna verwys word sluit onder andere siekteverlof in.
As jy met jaarlikse verlof was, en jy word deur ’n mediese praktisyn as medies ongeskik verklaar om jou werk te verrig en die nodige bewyse daarvan word ontvang en aan die werkgewer voorsien, sal die werkgewer daardie verlof dus moet verander na siekteverlof en sal jou jaarlikse verlof terugbesorg moet word.
Ons werk maak toe en almal is huis toe gestuur. Moet ek nog betaal word? Die baas is al sedert Maandag nie by die werk nie.
Indien die werkgewer voor die afsondering versoek het dat jy nie moet inkom werk toe nie, maar jy kon en het steeds jou dienste aangebied, sal die werkgewer jou vir daardie dae moet vergoed. As jy van die huis af gewerk het, sal jy dus vir daardie dae vergoed moet word. As jy nie van die huis af gewerk het nie, maar jy het die werkgewer in kennis gestel dat jy steeds bereid is om jou dienste te lewer, sal jy vergoed moet word.
Indien jy nie ’n noodsaaklike diens lewer nie, en jou werkgewer word deur die afsondering geaffekteer, is die situasie anders. As dit vir jou moontlik is om van die huis af te werk, sal ons jou aanraai om met die werkgewer ’n ooreenkoms aan te gaan dat jy dan van die huis af werk. Omrede jy dan steeds jou dienste verrig, sal die werkgewer jou moet vergoed. Indien jy nie van die huis af kan werk nie, sal jy nie vir hierdie tydperk vergoed word nie. Dit is gegrond op die beginsel “geen werk, geen loon”.
Jy kan weens omstandighede buite jou en jou werkgewer se beheer nie jou dienste verrig nie.
Indien jy nogtans nie vergoed gaan word nie, is daar twee opsies wat jy het. Jy kan aansoek doen om van die Werkloosheidversekeringsfonds te eis of jy kan aansoek doen vir jaarlikse verlof. Sou jy nie voldoende jaarlikse verlof tot jou beskikking hê nie, sal jy die dae waarvoor jy nie vergoed is nie van die Werkloosheidversekeringsfonds kan eis.
Dit sal die beste wees indien jy en jou werkgewer ’n tussentydse ooreenkoms kan sluit wat vir alle partye voordelig sal wees. Ons is nog nooit voorheen met hierdie situasie gekonfronteer nie, en almal se samewerking word geverg om dit te bestry.
As ek die siekte by die werk opdoen, wie moet vir al my mediese onkoste betaal? Nou moet ek ook seker sonder 'n salaris sit terwyl ek in kwarantyn gaan. Wie gaan my daarvoor vergoed?
Die risiko vir die beroep is ongelukkig groot, en dit is duidelik uit die Kennisgewing wat Vrydag 20 Maart 2020 deur die Vergoedingskommissaris gepubliseer is waarin COVID-19 as ’n beroepsiekte erken word. Indien ’n lid vermoed dat hy/sy Covid-19 opgedoen het, moet die werkgewer dit aanlyn as ’n beroepsiekte rapporteer. Die eerste mediese verslag en die vorderingsverslag is baie belangrik.
Ingevolge Art 65 van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (No. 130 van 1993) word daar voorsiening gemaak vir twee tipes beroepsiektes, naamlik siektes wat in Bylae 3 van die Wet gelys word en ander siektes wat nie spesifiek gelys word nie, maar waar daar ’n genoegsame oorsaaklike verband tussen die siekte en die werk bestaan. Dus sal ’n werknemer ’n oorsaaklike verband tussen sy alledaagse dienste en die opdoen van die siekte moet kan bewys. Indien daardie verband nie bewys kan word nie, sal jy nie deur de Kommissaris vergoed word nie.
Dit sal ook meebring dat die vermoede soos vervat in art 66 van die Wet toegepas kan word. Die belang van die vermoede is dat die bewyslas dan op die Kommissaris of werkgewer sal rus om te bewys dat die siekte nie in die loop en uitvoering van diens opgedoen is nie.
Art. 66 lui soos volg:
66. Vermoede omtrent oorsaak van beroepsiekte.—
Indien ’n werknemer wat ’n beroepsiekte opgedoen het, in diens was in ’n werk wat in Bylae 3 ten opsigte van daardie siekte genoem word, word vermoed dat die siekte uit sy diens ontstaan het en in die loop daarvan opgedoen is, tensy die teendeel bewys word.
Bylae 3 van die Wet definieer “werk” soos volg:
5. Werk word omskryf as:
- Alle werk wat die hantering en/of blootstelling aan enige agens(e) wat in die Lys van Beroepsiektes genoem word, behels; en/of
- Enige werk wat die hantering en/of blootstelling aan bepaalde agense/werkprosesse wat in die Lys van Beroepsiektes genoem word, behels.
Dit is 'n aanmeldbare siekte, en dieselfde reëls geld dat die werkgewer die salaris moet betaal teen 75 persent van die salaris. Sover word daar net tydelike totale ongeskiktheid (“TTD”) goedgekeur vir 30 dae. Dus moet die werkgewer ten minste 'n maand se salaris betaal. Die werkgewer sal dit dan weer van die Kommissaris kan eis.
Die lid kan dit self ook deur die Kommissaris eis, maar die Vergoedingskommissaris se betalings neem langer. Die persoon sal ook bewyse moet lewer dat dit wel by die werk opgedoen is.
Die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (No. 130 van 1993) het voorsiening gemaak vir die Covid-19 virus en sal dus vergoeding ingevolge hierdie wet betaal, maar slegs vir 30 dae. Mediese koste voortspruitend uit besmetting met die Covid-19 virus word ook gedek deur dieselfde wet, en dit is ook slegs vir 30 dae.
Wat gebeur nou met my mediesefondsbydrae as die werkgewer nie meer my salaris en mediese fonds kan betaal nie? Ek is die enigste broodwinner en het twee kinders wat afhanklikes is. Ons gaan die mediese fonds seker nodig kry as iemand siek word. Ons is baie bekommerd.
Mediesefondsbydraes vorm gewoonlik deel van jou totale kostepakket en val onder voordele. In die normale gang van sake, waar mens nie met 'n ramp soos COVID-19 te doen het nie en waar werkgewers voordele wil wysig of selfs wegvat, sal hy/sy eers met jou as werknemer moet konsulteer en selfs jou toestemming daarvoor moet kry. Indien so ‘n werkgewer dan voortgaan en jou voordele wysig sonder toestemming, sal dit neerkom op 'n onbillike arbeidspraktyk wat voordele betref, soos bepaal in artikel 186(2)(a) van die Wet op Arbeidsverhoudinge. Dit sal jou as werknemer dan die kans gee om die geskil na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te verwys.
Waar ons met COVID-19 gekonfronteer is, bly die arbeidswetgewing steeds dieselfde en moet werkgewers steeds gehoor daaraan gee. Werkgewers moet steeds met billikheid en regverdigheid optree.
Maar die huidige situasie is nie normaal nie.
Daarmee bedoel ons dat die werkgewer dalk nie nou deur 'n behoorlike konsultasieproses kan gaan om die verandering in voordele te bespreek nie, omdat die staat almal binne net enkele dae in afsondering geplaas het.
Die situasie waarin ons tans onsself bevind, kan nie aan een party toegeskryf word nie. Werknemers en werkgewers moet saamwerk om 'n middeweg te kry. Die redelike reaksie in die huidige geval sal wees dat beide partye die saak bespreek om te kyk of hul tot 'n vergelyk kan kom.
Die werkgewer, en jy as werknemer, is in die posisie geplaas deur die staat omdat hul genoodsaak was om dit te doen.
Die afsondering wat ons ervaar gaan negatiewe gevolge vir alle partye hê. Indien jy as werknemer egter so ‘n wysiging van voordele wil beveg, sal jy die reg hê om dit te doen. Die gevolg is dat die werkgewer dan genoodsaak kan wees om tydelike afdankings te oorweeg as gevolg van die ekonomiese impak wat dit op hom/haar gaan hê.
My werkgewer het gesê dat ons minder sal hoef te ry omdat baie van ons kliënte toegemaak het en hy sê dit is ook nie nou veilig nie. Party van ons is ook al huis toe gestuur en werk van die huis af en ry glad nie meer rond nie. Nou wil hy ons motortoelae nie meer betaal nie, want hy sê ons het dit nie meer nodig nie. Ek kry R2500.00 per maand motortoelae en ek het die geld nodig.
Daar sal deur die dienskontrak gewerk moet word om te kyk of die toelae deel vorm van jou vergoedingspakket. Indien wel sal jy op jou volle pakket geregtig wees.
Die omstandighede waarin ons ons tans bevind is egter uniek en het nog nie voorgekom sedert die huidige arbeidswetgewing in werking getree het nie.
In die huidige situasie sal billikheid deurslaggewend wees.
Die werkgewer sal moontlik kan aanvoer dat situasie op “vis major” neerkom. “Vis major” beteken oormag en is ’n gebeurtenis wat buite die partye se beheer is en nakoming van die ooreenkoms onmoontlik maak, en die uitbreek van die koronavirus in Suid-Afrika kan sekerlik onder hierdie definisie val.
Die verhouding tussen werkgewer en werknemer is meer as net ’n gewone kontrak, en in ’n geval waar ’n werkgewer weens te min werk minder of geen salaris wil/kan betaal nie, word konsultasie en instemming oor die pad vorentoe deur partye by die ooreenkoms vereis. Indien daar nie ’n ooreenkoms bereik kan word nie, sal daar geen regsmiddele beskikbaar wees om die geld op te eis nie.
Indien daar egter druk op die werkgewer geplaas word en die werkgewer onder finansiële druk verkeer weens die effek van die virus op die ekonomie, ontstaan die risiko dat die werkgewer kan begin om werknemers af te dank of selfs likwidasie kan aanvra en toemaak. In so ‘n situasie sal jy baie slegter daaraan toe wees, en jy moet maar die risiko opweeg. Dit sal dit sinvoller wees om te onderhandel vir betaling in paaiemente of betaling op ’n later stadium.
Ek werk vir ’n privaatskool. Die werkgewer wil van ons verlof einde April asook ’n deel van ons Septembervakansie wegvat om op te maak vir die dae wat die leerders onderrig verloor. So ons is nie af saam met die leerders nie, maar verloor van ons vakansie. Kan julle asb. bietjie raad gee?
Die diensvoorwaardes van werknemers van privaatskole is nie dieselfde as dié van onderwysers wat deur die departement van onderwys aangestel is nie.
Onderwysers by privaatskole se diensvoorwaardes word deur hul dienskontrakte gereël. Dit moet egter nog steeds aan die vereistes voldoen wat deur die Wet op Basiese Diensvoorwaardes neergelê is.
Die dienskontrakte maak gewoonlik voorsiening daarvoor dat die werkgewer onderwysers kan versoek om van tyd tot tyd gedurende vakansies te werk, indien nodig.
Verder bepaal artikel 20 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes dat verlof geneem moet word op ’n tyd wat vir die werkgewer gerieflik is.
Verder bevind ons onsself in ’n onbekende en ongewone situasie.
Billikheid teenoor beide die werkgewer en werknemer moet in ag geneem word.
Die aard van jou werk is ook so dat jy nie al jou gewone pligte vanaf die huis kan vervul nie en dus sal die werkgewer dit kan regverdig om jou op korttyd te plaas, alternatiewelik om die “geen werk, geen loon”-beginsel toe te pas. Dus sal die werkgewer jou kan versoek om nou langer vakansie te neem in plaas van later die jaar, en ek sou aanbeveel dat jy so ’n versoek aanvaar.
Kan ek van die WVF (“UIF”) eis as ek nie meer betaalde verlof oor het nie? Die staat het mos geld vir werkers wat nie werk nie, en hulle het seker die een of ander voordeel wat mens kan eis agv die koronaramp.
Indien jy tydelik ontslaan word (sogenaamde “lay off”) weens ’n gebrek aan werk as gevolg van die effekte van die koronavirus, sal jy geregtig wees om ’n eis aanhangig te maak by die Departement van Arbeid. Die Departement se Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) maak voorsiening vir uitbetaling van ’n vooraf vasgestelde bedrag/bedrae, maar die volgende dokumentasie moet so spoedig moontlik ingedien word:
- UI2.1 (aansoekvorm);
- UI-19 en UI2.7 (vorms voltooi deur die werkgewer);
- UI2.8 (voltooi deur jou bank);
- ’n Skrywe van die werkgewer wat bevestig dat jy weens die virus tydelik ontslaan is;
- ’n Afskrif van jou ID-dokument.
Jy mag ’n eis op grond van die virus slegs in die volgende gevalle by die Departement indien:
- Tydelike afdanking (“temporary lay-off”) weens te min werk as gevolg van die virus;
- Waar die werkgewer permanent of tydelik toemaak weens die virus;
- Waar die werknemer onder kwarantyn geplaas word.
My salaris is nie betaal nie. My baas sê hy het nie geld nie en dat almal in hierdie koronaramp is en ons moet saamstaan. Wat stel julle voor moet ek doen?
Die werkgewer en die werknemer het ’n dienskontrak met mekaar, hoewel dit nie noodwendig in geskrewe vorm is nie.
Die kern van die kontrak tussen werkgewer en werknemer is dat die werker sy arbeid tot die beskikking van die werkgewer stel, en die werkgewer hom of haar betaal in ruil daarvoor. Indien jy arbeid gelewer het, met die verstandhouding dat jy betaling daarvoor sal ontvang deur die werkgewer, het ’n diensverhouding tot stand gekom tensy jy beoog om as ’n onafhanklike kontrakteur te werk.
Die geval waar daar weens die virus (of om watter rede ook al) te min of geen werk is nie, is ’n heeltemal ander kwessie. Ons behandel hier slegs die geval waar jy eenvoudig nie betaal is nie, al het jy diens gelewer.
Deurdat die werkgewer jou nie vir jou dienste betaal nie, pleeg hy in effek kontrakbreuk.
Die arbeidsreg verskaf ’n reeks regsmiddele wat gebruik kan word om agterstallige betaling in te vorder, en dit sluit in:
- ’n Aansoek in die Arbeidshof vir betaling van agterstallige gelde ingevolge Artikel 77(3) van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes;
- Indien jy minder as die kerf van R 205 433,00 verdien, het jy die reg om die KVBA (“CCMA”) te nader ingevolge ’n verwysing ingevolge Artikel 73A van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes;
- Jy kan ’n eis aanhangig maak in die Hof vir Klein Eise, mits die eis onder R 20 000,00 is.
Die bostaande regsmiddele het elkeen sy voor- en nadele, onder andere kwessies van tyd en koste. Groot eise moet liefs deur ’n aansoek by die Arbeidshof hanteer word, terwyl kleiner bedrae vir persone met ’n laer inkomste vinnig deur die KVBA afgehandel kan word.
Die effek van al drie opsies is dat ’n toekenning of hofbevel gemaak word wat afgedwing kan word teen die werkgewer, mits jy jou eis kan bewys.
Indien die werkgewer moontlik onder finansiële druk verkeer weens die effek van die virus op die ekonomie, sal dit miskien sinvoller wees om te onderhandel vir betaling in paaiemente, of betaling op ’n later stadium met rente, eerder as om dadelik regstappe te doen, omrede ’n maatskappy dalk sy deure kan sluit en om likwidasie aansoek kan doen, wat die invordering van jou eis moeiliker kan maak.
Is ek daarop geregtig om die werkplek te verlaat en siekteverlof te neem as ek dink ek het simptome van die virus?
Siekteverlof word deur artikels 22 en 23 van die WBDV gereël. Werknemers sal steeds afwesigheid sonder toestemming moet regverdig deur die indiening van 'n geldige mediese sertifikaat indien die werknemer afwesig is weens siekte vir meer as twee opeenvolgende dae, of as dit die derde geval van afwesigheid binne 'n tydperk van agt weke is. As 'n mediese dokter 'n werknemer onder kwarantyn plaas, sal die werknemer 'n mediese sertifikaat bekom en op siekteverlof geregtig wees. Sou die werknemer nie siekteverlof tot sy/haar beskikking hê nie, sal dit geag word as 'n tydperk van onbetaalde verlof, tensy jaarlikse verlof beskikbaar is en daar versoek word dat dit vir betalingsdoeleindes aangewend word.
Kan ek myself vir 14 dae in kwarantyn plaas, en wat is my regte ten opsigte van betaling?
Buiten waar werkgewers in 'n verlofbeleid voorsiening maak vir spesiale betaalde verlof is daar geen arbeidswetgewing wat voorsiening maak vir spesiale siekte- of jaarlikse verlof wat met 'n noodtoestand verband hou en geld vir gevalle soos die Covid-19-virussiekte nie. Waar jy self besluit om nie werk toe te gaan nie, sal jy nie op betaling geregtig wees nie. Weens die unieke omstandighede rondom die virus moet sekere gevalle met omsigtigheid, en ook eerder op 'n saak-tot-saak-basis benader word, gemeet aan eie meriete en gebaseer op die kernbeginsel van billikheid en regverdigheid. Werkgewers kan in hierdie gevalle siekteverlof aftrek vir die tydperk van afwesigheid. Jy as werknemer is geregtig op 30 werksdae se betaalde siekteverlof in 'n driejaarsiklus.
Kan werkgewers my verplig om by die huis te bly en my in gedwonge kwarantyn plaas? Wat gebeur as die besigheid tydelik weens die koronavirus moet sluit?
Ja, werkgewers kan werknemers op verpligte betaalde verlof plaas. Sou jy nie meer jaarlikse verlof tot jou beskikking hê nie, sal dit onbetaalde verlof kan beteken, afhangend van die spesifieke omstandighede. Soos genoem, sal werkgewers in 'n verlofbeleid voorsiening kan maak vir spesiale, betaalde verlof in hierdie spesiale gevalle.
Werkgewers sal egter nie werknemers kan verplig om sonder betaling by die huis te bly nie. Die rede hiervoor is omdat dit 'n eensydige wysiging van diensvoorwaardes kan wees, veral as gevolg van die werkgewer se kontraktuele verpligting om die werknemer te vergoed indien die werknemer sy of haar dienste aanbied, met ander woorde bereid, gewillig en in staat is om te werk.
Ek en my man werk en die skole is gesluit. Kan 'n maatskappy ons dwing om onbetaalde verlof te neem om na die kinders om te sien?
Artikel 7 van die WBDV stel dit baie duidelik dat werkgewers by die bepaling en regulering van werksure die familieverantwoordelikheid van werknemers deeglik in ag moet neem. Die werkgewer sal dus nie kan weier dat jy na jou kinders omsien nie. Ons beklemtoon dat jou kinders jou verantwoordelikheid bly. Indien die situasie egter ontstaan as gevolg van die Covid-19, sal billikheid dikteer.
Die vraag of dit betaald of onbetaald is, kan by wyse van ooreenkoms tussen die werknemer en die werkgewer bepaal word. Die werkgewer kan jou egter nie dwing om onbetaalde verlof te neem indien jy jaarlikse verlof tot jou beskikking het nie. Artikel 20(6) bepaal dat 'n werkgewer betaalde jaarlikse verlof aan jou moet toestaan indien jy so 'n versoek tydens 'n tydperk van onbetaalde verlof skriftelik rig.
Hoe raak die virus swanger vroue in die werkplek?
Die Goeie Praktykskode oor die Beskerming van werknemers tydens swangerskap en ná die geboorte van 'n kind bepaal onder meer dat werkgewers enige risiko’s, beskermde maatreëls en veranderinge aan werksreëlings vir swanger werknemers in die werkplek moet identifiseer, dit opneem en gereeld evalueer.
Wat die Covid-19-virussiekte betref, sal die verpligting steeds op die werkgewer rus om, sover prakties moontlik, 'n veilige werksomgewing te verseker.
My eggenoot is positief getoets vir Covid-19 en ek is bang ek het aangesteek. Moet ek van die werk af wegbly?
Die departement van gesondheid het aanbeveel dat as jy enige tekens van Covid-19-simptome ervaar, of vermoed dat jy die virus opgedoen het, jy nie na jou naaste dokter/apteek/of gesondheidspraktisyn gaan nie, maar by jou huis bly en die Covid-19-noodlyn by 0800 029 999 skakel.
Ons stel voor dat jy jou werkgewer onmiddellik in kennis stel van die situasie. Daarna kan jou dokter telefonies gekontak word en sy/haar advies in die omstandighede gevra en gevolg word. Ons stel verder voor dat die werkgewer op hoogte gehou word van die relevante feite sodat julle eerder saam op die regte pad vorentoe kan besluit.
My werkgewer het my in kennis gestel dat van ons werknemers weens die koronavirus afgelê gaan word. Kan die werkgewer dit doen?
Sou die effek van die Covid-19 om enige rede die operasionele vereistes van die werkgewer beïnvloed, kan die werkgewer 'n proses van afleggings van stapel stuur deur die uitreiking van 'n 189-kennisgewing aan werknemers wat moontlik deur die aflegging beïnvloed kan word.
Artikel 188 bepaal dat ontslag slegs billik sal wees indien dit ingevolge 'n bepaalde proses en om die regte redes gedoen is. Kortom is die antwoord dat 'n werkgewer moontlik sal mag aflê weens die uitwerking van die Covid-19 op die werkplek, maar die werkgewer moet die artikel 189- of 189A-proses volg soos voorgeskryf deur die Wet op Arbeidsverhoudinge.
Indien jy moontlik in kontak was met ’n persoon wat positief vir die virus getoets het en tuis in isolasie moet gaan, kan daar van jou as werknemer verwag word om van die huis af te werk?
Beslis ja. Maar onthou, dan kan die werkgewer nie gewone verlof van die werknemer aftrek nie en is jy as die werknemer steeds geregtig op jou volle betaling. Werkgewers wat werknemers op verpligte verlof plaas en dus die betaalde dae van hul jaarlikse verlof aftrek, mag nie van die werknemer vereis om te werk of dit toelaat nie. Sou jy in isolasie gaan en die werkgewer verwag van jou om te werk, geld jou normale diensvoorwaardes soos ingevolge jou diensooreenkoms.
Jy toon nou simptome en is nie meer in staat om te werk nie, of jy is in isolasie en wag twee dae lank op jou uitslae. Watter verlof word in so 'n geval geneem?
In hierdie spesifieke geval sal die werknemer siekteverlof moet neem.
Siekteverlof word spesifiek deur artikel 22 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes gereguleer, wat onder andere die volgende bepaal:
’n Siekteverlofsiklus is ’n tydperk van 36 maande diens by dieselfde werkgewer vanaf die datum van indiensneming of die voltooiing van die vorige siekteverlofsiklus. Gedurende elke siekteverlofsiklus is ’n werknemer geregtig op die aantal betaalde siekteverlofdae wat die werknemer sou gewerk het gedurende ’n tydperk van ses weke. Byvoorbeeld, as ’n werknemer vyf dae per week werk, sal hy/sy geregtig wees op 30 dae siekteverlof tydens elke siekteverlofsiklus. Indien ’n werknemer se siekteverlof uitgeput is gedurende die siekteverlofsiklus en hy/sy raak weer siek, sal jaarlikse of onbetaalde verlof geneem moet word.
’n Werkgewer mag egter weier om betaalde siekteverlof toe te staan indien die werknemer vir meer as twee agtereenvolgende dae afwesig is of meer as twee keer afwesig is gedurende ’n tydperk van agt weke, tensy die werknemer ’n geldige mediese sertifikaat kan voorlê.
Wanneer ’n werknemer dus simptome van COVID-19 toon, is dit belangrik om ’n geregistreerde mediese praktisyn te gaan sien en ’n geldige mediese sertifikaat te kry. Die sertifikaat moet aandui dat die werknemer vir die tydperk nie in staat is om te werk nie as gevolg van die virus.
Jy toets positief en bly in kwarantyn. Geld dit as siekteverlof?
Kwarantyn kan óf vrywillig geneem word, met ander woorde die werknemer besluit uit eie beweging om homself te selfkwarantyn en by die huis bly, óf die werkgewer gee die opdrag aan die werknemer om te selfkwarantyn. Andersins kan 'n mediese praktisyn jou in kwarantyn plaas.
Indien jy reeds siek is, geld siekteverlof.
Plaas jy jouself in kwarantyn en kan nie 'n siekbrief vir die werkgewer gee nie, kan dit ingevolge artikel 23 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (WBDV) 'n tydperk van onbetaalde verlof wees.
Moet mense se siekteverlof verleng word te midde van die virus aangesien ’n persoon wat positief getoets het moontlik al sy of haar siekteverlof kan opgebruik?
Tans is daar geen voorsiening in wetgewing gemaak vir verlengde siekteverlof nie en is daar dus geen plig op die werkgewer om dit te betaal nie.
'n Werknemer verkies om van die huis af te werk, maar die werkgewer is nie ten gunste daarvan nie. Kan die persoon se werkgewer hom of haar dwing om verlof vir dié tydperk te neem?
Artikel 8 van die WBDV plaas 'n verpligting op die werkgewer om sover redelik en prakties moontlik 'n werkplek te verseker wat veilig en vry van enige risiko vir die gesondheid van werknemers is.
Artikel 14 van dieselfde wet plaas 'n verpligting op die werknemer om redelike sorg vir sy of haar eie gesondheid en veiligheid en ook die gesondheid en veiligheid van ander persone te dra.
Hierdie kwessie is 'n ope vraag en hoe dit hanteer word, sal van saak tot saak afhang.
In normale omstandighede het die werkgewer geen verpligting om op versoek van die werknemer hom of haar toe te laat om van die huis af te werk nie, selfs nie as die werkgewer die vergunning in sekere omstandighede aan ander werknemers gee nie.
'n Werknemer verkies om halfdag te werk aangesien sy of haar kinders nou by die huis moet bly. Mag die werkgewer jou salaris verminder? Mag die werkgewer jou dwing om voldag te werk?
Sou die werkgewer die werknemer toelaat om halfdag te werk, sal die salaris bepaal word deur die voorwaardes van die ooreenkoms wat die werkgewer en die werknemer in hierdie geval bereik.
'n Werkgewer kan egter vereis dat 'n werknemer die aanvanklike voorwaardes van hul ooreenkoms aangaande werksure nakom en dat sy dus voldag werk.
'n Vraag wat ons wel deesdae gereeld kry, veral met die skole wat vroeër op 18 Maart gesluit het of werknemers geregtig is op verlof, hetsy betaald of onbetaald, om na hul kinders om te sien.
Artikel 7 van die WBDV stel dit baie duidelik dat werkgewers by die bepaling en regulering van werksure werknemers se familieverantwoordelikheid deeglik in ag moet neem.
Ons beklemtoon egter dat jou kinders jou verantwoordelikheid bly. Indien die situasie egter ontstaan as gevolg van die Covid-19-virussiekte, sal billikheid dikteer.
Die vraag of dit betaald of onbetaald is, kan by wyse van ooreenkoms tussen die werknemer en die werkgewer bepaal word. Die werkgewer kan jou egter nie dwing om onbetaalde verlof te neem indien jy jaarlikse verlof tot jou beskikking het nie. Artikel 20(6) bepaal dat 'n werkgewer betaalde jaarlikse verlof aan jou moet toestaan indien jy so 'n versoek tydens 'n tydperk van onbetaalde verlof skriftelik rig.
Die situasie sal bietjie anders lyk as jou kind siek is. Dan is die werknemer ingevolge die WBDV geregtig op familieverantwoordelikheidsverlof.
Kan enigiemand wat enige simptome van griep toon, gedwing word om van die huis af te werk?
Die werkgewer het 'n plig om 'n veilige werksomgewing vir al die werknemers te verseker sover as wat dit redelik prakties moontlik is. In hierdie geval sal die werkgewer, al het die werknemer net 'n gewone griep, sal die werkgewer nie buite sy plig optree deur te versoek dat die werknemer huis toe gaan en eers terugkeer wanneer hy of sy gesond is nie.
My dogtertjie is 8 jaar oud en het al vir 2 dae simptome van griep. Ek probeer haar gesond kry met vit. C en Panadostroop. Moet ek dit vir die werkgewer sê? Ek sorg alleen vir haar en kan nie nié gaan werk nie.
Artikel 8(1) van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid plaas 'n verpligting op die werkgewer om sover redelik en prakties moontlik 'n werkplek te verseker wat veilig en vry van enige risiko vir die gesondheid van die werknemers is. In die konteks van die Covid-19-virussiekte rus daar 'n duidelike verpligting op die werkgewer om die oordrag van die virus te beheer en te bestuur. Prakties beteken dit dat die werkgewer moet verseker dat die werkplek skoon en higiënies bly; dat werknemers aanbeveel word om gereeld hul hande te was en sover moontlik fisiese kontak met kliënte, kollegas, diensverskaffers en so meer te vermy; die verpligting (indien van toepassing) om te reis (veral internasionale reis) aan te pas en om werknemers op gereelde basis in kennis te stel van verwikkelinge wat met die virus verband hou.
Wat is die Solidariteit Beweging Noodfonds?
Die Solidariteit Beweging het onlangs 'n noodfonds gestig om veral mense in maatskaplike nood as gevolg van die Covid-19-krisis te help. Skoolonderrig kry uiters swaar weens die nasionale staat van inperking. Let wel hierdie is nie die “Solidarity Fund” wat deur die regering geloods is nie.
Waarvoor word die Solidariteit Beweging Noodfonds geld aangewend?
Die geld gaan ter ondersteuning van die behoud van skoolonderrig en ons maatskaplike stelsel aangewend word.
Hoe kan ek betrokke raak by die Solidariteit Beweging Noodfonds?
Besoek www.krisisfonds.co.za om ‘n bydrae te maak.
Wat is die “Solidarity Fund”?
Die president het in sy aankondiging genoem dat daar ’n spesiale “Solidarity Fund” beskikbaar gemaak gaan word (die ooreenkoms tussen hierdie fonds en die Solidariteit Beweging se naam is bloot toeval en ons as Beweging bedryf nie hierdie fonds nie).
President Cyril Ramaphosa het die instelling van ’n fonds aangekondig, wat sal help met die bestryding van die koronavirus. “Na afloop van oorlegpleging met maatskaplike vennote, het ons ’n “Solidarity Fund” gestig, waartoe Suid-Afrikaanse besighede, organisasies en individue, en lede van die internasionale gemeenskap kan bydra,” het president Ramaphosa gesê.
President Ramaphosa het Maandagaand in sy toespraak aan die land gesê dat die fonds, onder voorsitterskap van die bekende sakevrou Gloria Serobe, sal fokus op pogings om die verspreiding van die virus te bekamp. Dit sal ook help om die verspreiding van die virus op te spoor en te sorg vir dié wat siek is. Dit sal ook dié wie se lewens ontwrig word ondersteun.
Die fonds, wat die eerste fase van die ekonomiese reaksie op die virus is, sal dit wat in die publieke sektor gedoen word, komplementeer. Die fonds sal volgens hom ten volle verantwoordbaar wees vir elke sent wat bygedra word en sal ook spog met ’n direksie van vooraanstaande Suid-Afrikaners om behoorlike bestuur te verseker. “Om die saak aan die gang te kry, bied die regering saad kapitaal van R150 miljoen en die privaat sektor het reeds belowe om hierdie fonds deur middel van finansiële bydraes in die komende periode te ondersteun. Ons sal geld spandeer om lewens te red en die ekonomie te ondersteun,” het die president gesê.
Hoe weet ek of ek dalk die koronavirus het?
Die simptome van die koronavirus kan aanvanklik lyk soos die simptome van 'n gewone verkoue of griep. Algemene simptome word geassosieer met die asemhalingstelsel en sluit in hoes, 'n gevoel van kort van asem wees en koors. Indien onbehandeld, kan infeksie lei tot longontsteking, nierversaking en in die ergste gevalle die dood. Covid-19 is hoogs aansteeklik.
Watter maatreëls kan ek volg om myself te beskerm?
- Was jou hande gereeld en deeglik met alkoholgebaseerde handwasseep of met gewone seep en water.
- Handhaaf 'n afstand van minstens 'n meter tussen jouself en iemand wat hoes of nies.
- Vermy dit om aan jou oë, neus en mond te raak.
- Maak seker dat jy, en ook die mense om jou goeie asemhalingshigiëne toepas. Dit beteken dat as jy hoes of nies, jy jou neus en mond met 'n snesie bedek of dat jy in die agterkant van jou geboë elmboog hoes of nies.
- Bly tuis indien jy sleg voel, veral as jy koors het, hoes en sukkel om behoorlik asem te haal.
- Persone wat geaffekteer is, kan geen simptome wys nie en daarom is dit raadsaam om groot groepe mense te vermy.
*Bygewerk: 15 April 2020
A) Inleiding
Bied die Departement van Werkverskaffing en Arbeid (DWA) spesifieke finansiële verligting aan werknemers en werkgewers as gevolg van die Covid-19-pandemie?
Ja. Die WVF-voordele (sien Afdeling B) en die Nasionale Rampvoordele (sien Afdeling C) is twee tipes finansiële verligting wat gedurende die Covid-19-inperkingstydperk en daarna vir werknemers en werkgewers beskikbaar is.
B) WVF-voordele
(Sluiting vir 'n kort tydperk / Verkorte werksure / Siekte)
Onder watter omstandighede sal werknemers vir gewone WVF-voordele kwalifiseer wat aan Covid-19 gekoppel is?
- Gevalle waar ondernemings besluit om as 'n voorsorgmaatreël vir 'n kort periode te sluit;
- Wanneer 'n WVF-bydraer wat in enige sektor werksaam is, sy of haar inkomste verloor weens die verminderde werktyd, ondanks die feit dat hy/sy steeds in diens is; of
- Waar 'n WVF-bydraer vir 14 dae en / of in spesiale omstandighede vir langer as 14 dae in kwarantyn moet wees.
Sluiting vir 'n kort tydperk en / of verminderde werktyd:
Is dit nodig dat die werkgewer die DWA in kennis moet stel indien 'n maatskappy vir 'n kort periode gaan sluit of werknemers weens Covid-19 gaan aflê?
Ja. In gevalle waar ondernemings vir 'n kort periode moet sluit, moet die werkgewer die DWA hiervan in kennis stel. Die DWA se “Rapid Response”-span sal die ondernemings besoek en / of kontak om die nodige hulp met die toepassing en betaling van die toepaslike voordeel te verleen.
Wat is die kontakbesonderhede vir die “Rapid Response”-spanne?
“Rapid Response”-spanne:
- Oos-Kaap: Philiswa Madikazi - 043 701 3342
- Vrystaat: Morgan Ramatsetse - 051 505 6362/6200
- Gauteng: Dingaan Basimane - 011 853 0303
- KwaZulu-Natal: Gugu Khomo - 031 366 2012
- Limpopo: Ronet Landman - 015 290 1703
- Mpumalanga: Evelyn Mokoena - 013 655 8742
- Noord-Kaap: Adv Bulelani Gwabeni - 053 838 1554
- Noordwes: Selete Qhamakhoane - 018 387 8178
- Wes-Kaap: Tony Lamati - 021 441 8054
Watter vorms moet ingevul word in geval van verminderde werktyd?
- UI 2.1 (aangeheg)
- UI19 en UI2.7 (moet deur werkgewer voltooi word – aangeheg)
- UI 2.8 ((bankbesonderhede wat deur die bank voltooi moet word – aangeheg)
- 'n Brief van die werkgewer wat bevestig dat die maatskappy se sluiting of die "tydelike aflegging van die werknemer" weens die koronavirus is
- Afskrifte van die werknemer se ID-dokument
Watter voordele word vir die inperkingstydperk betaal?
- Krediete word opgebou teen 'n koers van 4:1 (vir elke 4 dae gewerk en bygedra, word 'n krediet van 1 dag opgebou) in 'n 4-jaar-siklus vanaf die datum van werkloosheid tot 'n maksimum van 365 dae.
- Die maksimum WV-voordeel sal ooreenkomstig die voordeelstruktuur uitbetaal word indien die werkgewer tydens die afsonderingstydperk R0,00 aan die werknemer betaal.
- Indien 'n bepaalde Randwaarde egter gedurende die afsonderingstydperk betaal word, sal die WV-voordeel verminder word (die verskil tussen die voordeelvlak en die bedrag wat as inkomste ontvang word).
Selfkwarantyn, siekte of dood:
Wat gebeur indien die onderneming besluit dat 'n werknemer in selfkwarantyn moet wees?
In gevalle waar 'n onderneming besluit dat 'n werknemer weens die Covid-19-pandemie vir 14 dae in selfkwarantyn moet wees, en/of vir langer as 14 dae onder spesiale omstandighede, sal die werknemer kwalifiseer vir die WVF-siektevoordeel.
Watter dokumente moet deur die werknemer ingedien word om aansoek te doen vir voordele wat verband hou met selfkwarantyn of siekte weens Covid-19?
- 'n Bevestigingsbrief van beide die werkgewer en die werknemer moet saam met die siekte-aansoek ingedien word as bewys dat beide die werkgewer en die werknemer ingestem het tot die voorkomende selfkwarantyn van 14 dae.
- Voordele sal op grond van die twee briewe hierbo genoem betaal word.
- Indien 'n werknemer vir langer as 14 dae in kwarantyn geplaas word, moet 'n mediese sertifikaat van 'n mediese praktisyn saam met die voortsettingsvorm UI3 (aangeheg) ingedien word vir betaling.
Watter vorms en dokumente word benodig vir selfkwarantyn- of siekte-eise weens Covid-19?
- UI2.2 (mediese gedeelte moet geïgnoreer word)
- UI19 en UI2.7 (moet deur werkgewer voltooi word)
- UI 2.8 (bankbesonderhede wat deur die bank voltooi moet word)
- Afskrif van ID-dokument.
- Werkgewer / werknemer se bevestigingsbriewe
Watter bedrag sal 'n werknemer vir 'n siekte-eis weens Covid-19 ontvang?
- Krediete word opgebou teen 'n koers van 4:1 (vir elke 4 dae gewerk en bygedra, word 'n krediet van 1 dag opgebou) in 'n 4-jaar-siklus vanaf die datum van werkloosheid tot 'n maksimum van 365 dae.
- Die maksimum WV-voordeel sal ooreenkomstig die voordeelstruktuur uitbetaal word indien die werkgewer tydens die afsonderingstydperk R0,00 aan die werknemer betaal.
- Indien 'n sekere Randwaarde egter gedurende die kwarantynperiode betaal word, kan die WV-voordeel verminder word (die gesamentlike waarde moenie meer wees as die vergoeding wat die werknemer sou ontvang het indien hy/sy nie in kwarantyn was nie).
- Nadat die tydperk van 14 dae verstryk het, moet die vorm UI3 voltooi word vir betaling in die werknemer se bankrekening.
- Indien die tydperk langer as 14 dae voortduur, word 'n verdere UI3 met die voltooide mediese gedeelte benodig vir betaling in die werknemer se bankrekening.
Hoe dien 'n werknemer 'n aansoek weens siekte in?
- Soos in die scenario wat uiteengesit is, kan 'n eis vir die siekte-voordeel aanlyn ingedien word by: www.ufiling.co.za (Siektevoordele).
- Of die siekte-eisaansoek kan per e-pos gestuur of gefaks word na die naaste WVF-werwerkingsentrum.
- Aansoekvorms wat nie by hierdie dokument aangeheg is nie, kan van die DEL se webwerf afgelaai word: www.labour.gov.za
Waar moet die werknemer die siekte-eis indien?
- Germiston - BCP@labour.gov.za - 0864397295
- Pietermaritzburg -BCP@labour.gov.za - 0864397296
- Oos-Londen - BCP@labour.gov.za - 0864397299
- Kaapstad - BCP@labour.gov.za - 0864397300
- George - BCP@labour.gov.za -0864397301
- Noordwes - BCP@labour.gov.za -0864397302
- Limpopo - BCP@labour.gov.za -0864397303
- Mpumalanga - BCP@labour.gov.za -0864397304
- Vrystaat - BCP@labour.gov.za -0864397305
- Durban - BCP@labour.gov.za - 0864397297
- Port Elizabeth - BCP@labour.gov.za 0864397298
- Noord-Kaap - BCP@labour.gov.za - 0864397309
- Johannesburg - BCP@labour.gov.za 0864397294
- Pretoria - BCP@labour.gov.za -0864397290
Kan 'n eis ingedien word vir 'n werknemer wat weens 'n Covid-19-infeksie oorlede is?
Voordele word aan die begunstigdes van die oorledene betaal. Begunstigdes wat kwalifiseer om vir die sterftevoordeel aansoek te doen, is die langslewende gade, lewensmaat, kinders van die oorledene of die genomineerde persone, in daardie volgorde.
Sal 'n ander prosedure gevolg word vir 'n sterfte-eis wat met Covid-19 verband hou?
Die huidige aansoekproses ten opsigte van 'n oorledene sal geld totdat anders aangedui word.
Watter vorms moet vir 'n sterfte-eis ingedien word?
- UI19 en UI 53 (voltooi deur die werkgewer)
- UI 2.5 of UI2.6 (aansoek vir sterftevoordeel)
- Doodsertifikaat
- Afskrifte van oorledene en aansoeker se ID’s.
- UI 2.8 (bankbesonderhede wat deur die bank voltooi moet word)
Hoe word 'n sterfte-eis ingedien?
- 'n Eis vir die sterftevoordeel moet ingedien word, of deur die oorledene se aansoek per e-pos of faks na die naaste WVF-verwerkingsentrum te stuur.
- Aansoekvorms kan van die DEL se webwerf afgelaai word: www.labour.gov.za
- Die e-posadres en faksnommers is soos hierbo verstrek (Aansoek om siektevoordeel.)
C) Nasionale Rampvoordeel
Wanneer is die Nasionale Rampvoordeel van toepassing?
- In 'n geval waar die werkgewer gedwing word om sy besigheid vir 'n tydperk te sluit en werknemers huis toe te stuur as 'n direkte gevolg van die koronavirus-pandemie (COVID-19), is hierdie voordeel van toepassing.
- Bogenoemde aksie word dan as 'n tydelike aflegging beskou, en as die werkgewer nie die werknemers vir hierdie tydperk kan betaal nie, kan die werkgewer by die WVF aansoek doen vir die "Nasionale Rampvoordeel”.
- Hierdie voordeel word van die WVF se normale voordeelstruktuur en die WVF-voordeelberekeninge ontkoppel.
- Hierdie voordeel sal teen 'n vaste koers gelykstaande aan die minimum loon (R3 500) per werknemer vir die duur van die afsonderingstydperk wees, of vir 'n maksimum tydperk van drie maande, watter tydperk ook al die kortste is.
- As 'n werknemer vir langer as drie maande siek, tydelik afgelê of werkloos is, geld die normale WVF-voordele soos hierbo uiteengesit, tensy die DWA anders vermeld.
- 'n Werkgewer of werknemer kan nie gelyktydig vir die “Nasionale Rampvoordeel” en 'n ander WVF-voordeel aansoek doen nie.
Op wie is die Nasionale Rampvoordeel van toepassing en wat behels dit?
- Dit is van toepassing op werknemers wat gedurende die inperking nie betaal gaan word nie as 'n gevolg van Covid-19.
- Werkgewers met 10 en meer werknemers doen namens die werknemers aansoek by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) vir hierdie voordeel. In maatskappye met minder as 10 werknemers moet die werknemers self aansoek doen. 'n Bedingingsraad kan ook namens werknemers aansoek doen indien die werknemers onder die jurisdiksie van die raad val.
- Werknemers sal 'n minimum betaling van R3 500,00 en maksimum van R6, 730 ontvang.
- Werkgewers moet binne 48-uur nadat die gelde vanaf die WVF ontvang is, dit aan die werknemers oorbetaal.
- Werkgewers mag ook die voordele aanvul.
- Hierdie voordeel sal nie werknemers se indiwiduele WVF-krediete uitput soos wat die geval met ander WVF-voordele is nie.
- Indien 'n werkgewer Covid-19 voordele vanaf 'n bedingingsraad ontvang, kan daar nie ook by die WVF vir voordele vir werknemers deur hierdie skema aansoek gedoen word nie.
Watter vorms moet voltooi word en watter ander dokumentasie word verlang om vir die Nasionale Rampvoordeel aansoek te doen?
- WVF-vorms UI19, UI2.7 (Moet deur die werkgewer voltooi word)
- UI2.1 (Werkgewer-aansoekvorm)
- UI2.8 (Moet deur die bank voltooi word).
- 'n Afskrif van die werknemer/s se ID-dokument
- 'n Brief van die werkgewer waarin bevestig word dat die sluiting weens Covid-19 is.
Spesifieke voordele ingevolge die Nasionale Rampvoordeel:
Vir watter spesifieke voordele maak die Nasionale Rampvoordeel voorsiening?
Daar moet op gelet word dat daar baie onsekerheid bestaan rondom hierdie aangeleentheid as gevolg van teenstrydige regulatoriese veranderinge en die situasie mag moontlik weer verander.
In hierdie stadium en bykomend tot die Covid-19-siektevoordeel wat hierbo hanteer is, maak die nasionale rampvoordeel wat gekoppel is aan Covid-19 en die inperking voorsiening vir twee ander tipes verligting vir werkgewers wat by die WVF geregistreer is, naamlik:
- 'n Tydelike werknemer-werkgewer-verligtingskema (Temporary Relief Scheme (C19 TERS) )
- Skema vir verkorte werkstyd (Reduced Working Time (RWT)).
- Werknemers kan van albei skemas tegelyk verligting kry, afhangend van die feite betrokke by die werkplek.
Verkorte Werkstyd (RWT):
Wat behels RWT?
- RWT verwys na wanneer 'n onderneming verkorte tyd of korttyd instel.
- Die voordeel wat betaalbaar is, is die verskil tussen wat die werkgewer betaal en die normale WVF-voordele betaalbaar indien 'n werknemer sy werk verloor.
- Werknemers sal dan 'n aanvulbetaling (top-up) van die WVF volgens die toegelate skaal ontvang mits die werknemer oor WVF-krediete beskik.
- Bedrae wat betaalbaar is, sal afhang van omstandighede en 'n boperk sal in elke betrokke geval geld.
Watter vorms moet deur die werkgewer voltooi word en watter dokumentasie word verlang om vir die skema vir verkorte werkstyd aansoek te doen?
- UI19, UI2.7 (Moet deur die werkgewer voltooi word)
- UI2.1 (Werkgewer-aansoek)
- UI2.8 (Moet deur die bank voltooi word)
- 'n Afskrif van die werknemer se ID-dokument
- 'n Brief van die werkgewer waarin bevestig word dat verkorte werkstyd ingestel is weens Covid-19-maatreëls.
Watter voordele sal aan die werknemer betaal word?
- Vir elke 4 (vier) dae wat gewerk is, akkumuleer die werknemer 'n krediet van 1 (een) dag, en die maksimum kredietdae wat betaalbaar is, is 365 vir elke 4 (vier) voltooide jare.
- Voordele word betaal volgens die voorgeskrewe voordelestruktuur van 239 tot 365 dae.
Covid-19 Tydelike Werknemer-Werkgewer- Verligtingskema (C-19 TERS), 2020:
Wanneer geld die C-19 TERS?
- As 'n werkgewer (wat by die WVF geregistreer is) as 'n direkte gevolg van die Covid-19-pandemie en die daaropvolgende staat van inperking wat deur die regering afgekondig is, sy bedrywighede vir 'n tydperk van 3 (drie) maande of minder opskort, sal die onderneming vir 'n tydelike Covid-19-verligtingsvoordeel kwalifiseer.
- Die voordeel sal nie gekoppel wees aan die normale WVF-voordelestruktuur nie en die normale reël dat die werknemer vir elke 4 (vier) dae gewerk een (1) dag se krediet opbou en 'n maksimum krediet van 365 dae vir elke vier (4) voltooide jare betaalbaar is, sal nie geld nie.
- Werknemers sal loonbetalings deur die Tydelike Verligtingskema (TERS) ontvang ten einde aflegging te voorkom.
Wat behels die C-19-TERS-voordeel?
- Die voordeel sal nie gekoppel wees aan die WVF se normale voordelestruktuur en WVF-voordeleberekenings nie.
- Die voordeel sal die koste van salarisse tydens die tydelike sluiting van 'n onderneming betaal.
- 'n Boperk berekening tot 'n maksimum bedrag van R17 712 per maand per werknemer word op die salarisvoordeel gestel en 'n werknemer sal volgens die glyskaal (38%-60%) vir inkomstevervangings soos bepaal in die Wet op Werkloosheidsversekering betaal word.
- As 'n werknemer se inkomste tot onder die minimum loon vir die bepaalde sektor val, sal die werknemer 'n vervangingsvoordeel gelykstaande aan die minimum loon vir die bepaalde sektor betaal word.
- 'n Werknemer wat gedurende hierdie tydperk normale vergoeding van sy werkgewer ontvang, is nie op hierdie voordeel geregtig nie.
Hoe doen 'n onderneming aansoek vir die C19 TERS-voordeel?
Die werkgewer behoort die sluiting per e-pos by covid19ters@labour.gov.za aan te meld om 'n uiteensetting van die aansoekproses te ontvang. Die nommer van die WEF se Covid-19-blitslyn is:
012 337 1997, of die alternatiewe nommer is: 0800 030 007 wat van Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 17:00 oop is.
Tydelike werknemer-werkgewer-verligtingskema (TERS) in Desember 2019 ingestel
Wat is die verskil tussen die TERS van Des. 2019 en die Covid-19-TERS?
- Op 26 Maart 2020 het die DWA ’n direktief ingevolge die Wet op Rampbestuur van 2002 uitgevaardig wat voorsiening maak vir die C19 TERS (sien hierbo.) Hierdie direktief het nie die Tydelike Werkgewer-Werknemer-skema (TERS) wat baie soortgelyk is en wat op 11 Desember 2019 van krag geword het, vervang nie. Die voordele waarvoor voorsiening in beide tydelike verligtingskemas gemaak word, moet dus toeganklik wees vir werkgewers en werknemers.
- Ingevolge die TERS wat in Desember 2019 geïmplementeer is, kan die WVF ondernemings wat in nood verkeer, befonds.
- Ingevolge hierdie TERS moet die onderneming wat in nood is ten volle voldoen aan WVF-wetgewing en in staat wees om sy bereidwilligheid te toon om 'n omkeer- of volhoubare program aan te pak wat die behoud van werk tot gevolg sal hê.
Hoe doen 'n werkgewer aansoek vir die C-19 TERS-voordeel?
- Waar 'n onderneming bo en behalwe 'n loonsubsidie ook 'n opleidingsingryping benodig, sal die werkgewers aansoek doen by die bedingingsraad om toegang te kry tot 'n seta-opleidingsprogram vir werknemers om op die manier afleggings te voorkom. Daar moet aan heelwat kwalifiseringskriteria voldoen word wat tydens die aansoekproses hanteer sal word.
- Daar sal van werkgewers verlang word om 'n basiese loon vir die volle duur van die opleiding aan werknemers te betaal.
- Werknemers sal 'n aanvulbetaling van die WVF ontvang. Bedrae betaalbaar sal wissel en 'n boperk word daaraan gestel.
- 'n Werkgewer/ werkgewers wat sluiting ingevolge regulasie moet afdwing en wat finansiële hulp van die WVF mag benodig, behoort inligting omtrent beskikbare befondsing te bekom deur gebruik te maak van 'n posbus wat spesifiek daarvoor bedoel is: infoTERS@labour.gov.za, of navrae kan gestuur word na TERS@labour.gov.za
- Na ontvangs van so 'n versoek sal 'n outomatiese antwoord gestuur word waarin die prosedure en dokumente/inligting wat die Fonds gaan benodig om so 'n aansoek te verwerk, uiteengesit word.
- Die WVF het 'n toegewyde lyn beskikbaar gestel om alle werkgewers/werknemers/ bedingingsrade van hulp te wees deur die blitslyn naamlik 012 337 1997.
Wat is die belangrikste dokumente wat benodig word?
- 'n Magtigingsbrief op 'n amptelike briefhoof wat toestemming aan 'n individu verleen om 'n eis namens die maatskappy in te dien
- Memorandum van ooreenkoms (MVO) (sluiting van die memorandum van ooreenkoms tussen die WVF, die bedingingsraad en die werkgewer)
- 'n Voorgeskrewe profielvorm (template) waarin sleutelinligting van die werkgewer verlang word
- Bewyse/betaalstaat as bewys van die laaste drie maande se werknemersalaris/werknemers se salarisse
- Bevestiging van bankbesonderhede wat by wyse van die mees onlangse gesertifiseerde bankstaat voorsien word
Wat behels die indieningsproses?
- Dien al die verlangde dokumente by die WVF in deur gebruik te maak van die e-posadres wat uitsluitlik daarvoor geskep is, naamlik covid19claims@labour.gov.za
- NB: As die sigblad voltooi, geldig en akkuraat is, sal dit in 'n geoutomatiseerde berekeningstelsel gevoer word om die voordeelbedrag wat aan die begunstigdes verskuldig is en die totale bedrag wat na die werkgewer of bedingingsraad oorgeplaas moet word, of welke metode waarop ook al op ooreengekom is, te bereken.
Wat behels die finale stap?
- Sluiting van die MVO tussen die partye.
- Betaling sal slegs plaasvind nadat die MVO deur die Fonds, werkgewer/bedingingsraad afgeteken is.
D) UIF – Algemene aangeleenthede
Sal elke aansoek waarna in hierdie dokument verwys word outomaties toegestaan word?
Nee, elke opsie vereis 'n aansoekproses en kwalifiserende kriteria waaraan voldoen moet word is daaraan verbonde.
Kan ek uitdagings te wagte wees met die aansoekproses na aanleiding van die inperking?
Ja, die administrasie verbonde aan die proses kan wel uitdagings bied gedurende die tyd van inperking. Die verwerking sal waarskynlik ook vertraag word in die lig van die geweldige vraag en verligting mag dalk nie onmiddellik wees nie.
Kan my vakbond namens my aansoek doen om enige van hierdie voordele?
Nee.
'n Vakbond kan van hulp wees, maar alle aansoeke waarna in hierdie dokument verwys word, kan slegs deur 'n werknemer, werkgewer (waar van toepassing) of die familie van 'n oorledene ingedien word.
Kliënte wat reeds WVF voordele ontvang moet maandeliks by 'n Arbeid Sentrum 'n voortsettingsvorm teken as bevestiging dat die kliënt steeds werkloos is. Geld hierdie prosedure gedurende die inperkingstyd?
Nee.
Die kliënt sal 'n sms ontvang waarop daar bevestiging gegee moet word dat die kliënt nog werkloos is, en die kliënt se bank besonderhede moet ook per sms bevestig word. Hierdie sms fasiliteit sal slegs geldig wees gedurende die inperkingstyd.
Wat gebeur in die geval van 'n werknemer wat Covid-19 kry as gevolg van blootstelling aan die virus by die werkplek?
Enige werknemer wat weens blootstelling by hul werkplek siek word, sal deur die Ongevallefonds betaal word.
Sal die WVF gebruik word vir ander vorme van steun aan werknemers?
Toe pres. Ramaphosa die staat van nasionale inperking afgekondig het, het hy gesê dat: “indien dit nodig sou word, sal ons die reserwes in die WVF-stelsel aanwend om ondersteuning te bied aan werkers in KMO’s en ander kwesbare firmas wat inkomsteverlies in die gesig staar en wie se ondernemings nie in staat is om ondersteuning te bied nie. Besonderhede hiervan sal binnekort beskikbaar wees”.
Waar kan ek meer inligting of gereelde opdatering bekom?
Volg @DeptofLabour and @UIFbenefits op Twitter of besoek die webwerf van die Departement van Werksverskaffing en Arbeid: www.labour.gov.za
Is daar 'n ander wyse waarop WVF eise ingedien kan word?
Ja. Eise aansoeke kan ook aanlyn gedoen word by www.uFiling.co.za, die Gids vir elektroniese eise is op die webwerf www.labour.gov.za beskikbaar
Ek is so pas afgelê, wat maak ek nou met my pensioengeld?
Dit hang af van jou ouderdom, maar indien jy onder die ouderdom van 55 is, kan jy 'n bewaringsfonds of aftree-annuïteit oorweeg. Die skuif na enige van die produkte is belastingvry. Vir meer inligting en finansiële raad, kontak Solidariteit Finansiële Dienste by advies@sfdienste.co.za
Ek wil graag 'n noodfonds opbou, maar hoeveel is genoeg?
Dit hang af van jou persoonlike behoeftes en wat deur jou begroting gefinansier moet word, maar 'n goeie riglyn is drie tot ses keer jou maandelikse uitgawes.
Ek het 'n kleinsake-onderneming en gaan mense moet aflê. Kan die noodfonds my help om dit te voorkom?
Dit kan inderdaad, maar dit is ook belangrik om in ag te neem hoe die noodfonds werk en wat die bepalings en voorwaardes is.
Ek is naby aftrede. Met die korona-krisis wat alle markte laat bloei, sal ek genoeg hê vir my aftrede?
Dit is belangrik om in ag te neem dat markte oor tyd herstel. Sodra ons kyk na pensioengeld naby aan aftrede is dit belangrik om 'n gediversifiseerde portefeulje in plek te sit wat ook in ooreenstemming is met jou aftreebehoeftes. Vir meer inligting en finansiële raad, kontak Solidariteit Finansiële Dienste by advies@sfdienste.co.za
Watter beleggingsmaatreëls, indien enige, kan ek nou in plek sit om die impak van die krisis op my beleggings te verlig?
Eerstens, hersien die doelwit van die belegging. As die bateklasse in ooreenstemming is met die behoefte, moet jy net kalm bly. Dit is wel die moeilikste proaktiewe besluit om te neem.
Ek is 'n pensionaris, moet ek weer werk soek? Hoe gaan die krisis my aftreegeld beïnvloed?
Die aftreegeld word beïnvloed deur die tipe pensioenproduk wat in plek is. As die pensioengeld in 'n lewensannuïteit belê is, word die inkomste met aftrede lewenslank gewaarborg en sal die huidige situasie in die markte geen effek daarop hê nie.
Indien die fondse egter in 'n lewende annuïteit belê is, kan markskommelings 'n impak hê, maar dit hang af van hoe die produk gestruktureer is en hoe dit tussen bateklasse gediversifiseer is.
Ek moet my uitgawes besnoei. Watter versekering kan ek eerste opgee?
Probeer eerstens om alternatiewe kwotasies met verlaagde dekking in te win voor die polis gekanselleer word.
Ek het so pas my werk verloor weens die krisis, en ek weet nie waar om te begin nie. Hoe werk my inkomstebeskerming?
Inkomstebeskerming fokus op tydelike en permanente ongeskiktheid. Die doel van dié tipe dekking is om ons inkomste te beskerm as ons weens 'n siekte of besering die vermoë verloor om die inkomste aktief te genereer. Daar is versekeraars in die mark wat byvoordele soos afleggingsprodukte bied, maar dit kom teen 'n premie. Hersien gerus die polis om vas te stel of 'n afleggingproduk daaraan gekoppel is.
My werk is 'n noodsaaklike diens in die krisistyd. Hoe werk my inkomstebeskerming indien ek Covid-19 sou kry?
Versekeraars sal die mediese implikasie assesseer indien 'n diagnose van Covid-19 gemaak sou word. Hou in gedagte dat die doel van hierdie tipe dekking is om ons inkomste te beskerm as ons weens 'n siekte of besering die vermoë verloor om die inkomste aktief te genereer.
Ek kan nie van die huis af werk nie en is nou in isolasie. Kan my inkomstebeskerming my hier help?
Dit sal bepaal word op grond van die produk self. Kontak gerus u finansiële adviseur of die versekeraar.
Ek is reeds sieklik. Indien ek weens Covid-19 sou sterf, verander dit enigiets aan my sterftevoordele? Gaan my gesin genoeg hê en hoe bereken julle dit?
Die sterftevoordele se omskrywing is hier van kernbelang. As 'n volledige omskrywing gegee is toe die produk uitgeneem is, en die produk dek natuurlike en/of onnatuurlike sterfte, behoort daar geen verandering te wees nie. Dit is wel in u belang om die polis met u finansiële adviseur of direk met die versekeraar te hersien.
Hoekom onafhanklike finansiële advies?
Daar is deur die loop van die laaste paar weke geweldige skuiwe op wêreld markte en die Suid-Afrikaanse aandele beurs. Hoogte punte wat in die media bespreek word sluit in die effek van Corona 19, die petrol prys oorlog en natuurlik die nasionale ‘’Lockdown’’.
Al die onsekerheid lei ons na die vraag, wat moet ons nou doen?
Waar begin ek met my persoonlike finansiële beplanning in hierdie onseker tye?
Begin by jou begroting. Dit is die grondslag van enige finansiële beplanning, maar wanneer laas het iemand vir jou gesê hoe om 'n begroting op te stel? Die belangrikste reël vir jou begroting is om minder te bestee as wat jy ontvang.
Hoe spaar ek vir my kind se toekoms?
As 'n ouer rus daar baie verantwoordelikhede op ons skouers en van die verantwoordelikhede is om te verseker dat ons kinders die beste moontlike geleenthede kan kry om hul drome na te streef. Dit bring ons by drie belangrike vrae wat elke ouer so gou as moontlik moet vra en kan beantwoord
Waar begin ek met my aftreebeplanning?
Begin by jou begroting. Dit is die grondslag van enige finansiële beplanning, maar wanneer laas het iemand vir jou gesê hoe om 'n begroting op te stel? Die belangrikste reël vir jou begroting is om minder te bestee as wat jy ontvang.