Werknemers wat nie tot WVF bygedra het nie, kan nou baat by TERS
Thursday | 28 May | 2020Deur Reon Janse van Rensburg
Die Covid-19-pandemie het veroorsaak dat duisende werknemers nie daarvoor kon voorsiening maak om hul normale huishoudelike finansiële verpligtinge na te kom nie. Werknemers wat aan die begin van 2020 nog in 'n posisie was om kos op die tafel te sit en in hul gesinne se basiese behoeftes te voorsien se finansiële vooruitsigte lyk nou heelwat anders as aan die begin van 2020.
Thulas Nxesi, die minister van indiensneming en arbeid, het Maandag egter 'n mate van verligting aan werkgewers en werknemers aangekondig deur wysigings aan Ters (die tydelike werkgewer-werknemerhulpskema) te maak wat nou voorsiening maak daarvoor dat werknemers by die skema sal kan eis al is die betrokke werknemer nie by die WVF geregistreer nie en selfs ook al het die werkgewer geen bydraes tot die fonds gemaak nie. Dié wysigings is Dinsdag in die Staatskoerant gepubliseer.
Die voordeel maak voorsiening vir 'n minimum betaling van R3 500 per maand en 'n maksimum van R6 700. Die WVF het sedert verlede week meer as R14 miljard aan Covid-19-vergoedingsvoordele uitbetaal.
Die Ters-skema, wat deur die WVF geadministreer word, is 'n spesiale voordeel wat deur die departement van arbeid geskep is om verligting aan werknemers te bied wat ernstig geraak is deur die gevolge van die nasionale inperking en die Covid-19-pandemie.
Maak gerus gebruik van die volgende skakel om aansoek te doen vir die voordeel: https://uifecc.labour.gov.za/covid19/
Ondernemings wat weens die Covid-19-inperking nie hul werknemers se volle salarisse kon betaal nie, kan vanaf Woensdag 27 Mei Ters-aansoeke vir Mei indien.
Volgens die departement van arbeid het die geld wat tot dusver aan begunstigdes uitbetaal is, 'n direkte impak op 3 miljoen werknemers gehad, wat verseker dat die persone se lewensbestaan teen die verwoestende gevolge van Covid-19 beskerm word.
“Wanneer jy met 'n uitdaging van hierdie omvang gekonfronteer word, swem jy of sink jy. Dit was bykans vir almal die uiterste toets van leierskap, of jy nou in beheer is van 'n organisasie en of jy slegs in jou eie persoonlike hoedanigheid moet help om die kurwe af te plat; ons is almal geroep om sonder voorafwaarskuwing op te daag. Ondanks verskeie uitdagings wat die WVF steeds bly ondervind in die uitvoering van sy mandaat aan die publiek, glo ek dat ons onder uiters moeilike omstandighede die taak vermag het. Die aanduiding van prestasies beteken natuurlik nie dat die bestaan van die uitdagings ontken word nie.” – Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming.
Bronne:
* Alle inligting was ten tyde van publikasie korrek.
Foto krediet: